Openbaring 19
Afrikaans PWL
1Ná hierdie dinge het ek die klank van baie menigtes in die hemel gehoor wat sê: “Lofprys יהוה helder en duidelik! (Halleluyah!) Die loskoping, eer, lof, aanbidding en krag behoort aan ons God, 2want Sy oordele is waar, onpartydig opreg omdat Hy die groot hoer veroordeel het, wat die aarde met haar hoereerdery korrup gemaak het en Hy het die bloed van Sy slawe van haar hande geëis.” 3Vir die tweede maal het hulle gesê: “Lofprys יהוה helder en duidelik! (Halleluyah!) Haar rook styg op vir tydlose ewigheid.” 4Die vier en twintig ouderlinge en die vier wesens het neergeval en ons God, wat op die troon sit, aanbid en gesê: “Dit is waar! Lofprys יהוה alleen!” 5’n Stem vanaf die troon het gesê: “Lofprys ons God, al Sy werke en aanbidders van Sy Karakter en Outoriteit (Naam), almal, klein en groot!”

6Ek het ’n geluid gehoor soos die van ’n groot menigte, soos die geluid van baie water en soos die geluid van magtige donderslae wat sê: “Lofprys יהוה alleen, want יהוה-God, wat alles vashou, heers.

7Ons verheug ons en vier fees. Ons gee aan Hom die eer, lof en aanbidding, want die bruilof van die Lam het gekom en Sy vrou het haarself gereed gemaak. 8Skoon en glansende fyn linne is aan haar gegee om aan te trek, want fyn linne is die opregtheid van die afgesonderdes.”

9Hulle sê vir my: “Skryf: geseënd is die wat geroep is na die feesmaal by die bruilof van die Lam.” Een sê vir my: “Hierdie is die ware boodskap van God.” 10Ek het voor sy voete neergeval en hom aanbid en hy het vir my gesê: “Nee! Ek is jou medeslaaf en die van jou broers, wat die getuienis van Yeshua het. Aanbid eerder God, want die getuienis van Yeshua is die gees van profesie.

11Ek het die hemel gesien oopgaan en let op, daar was ’n wit perd en Hy wat daarop sit word genoem: Vertrouenswaardig en Waar en Hy is onpartydig opreg in oordeel en in oorlogvoering. 12Sy oë was soos vlamme van vuur en op Sy kop was baie krone en Sy Naam wat op Hom geskrywe is, wat niemand ken nie, behalwe Hyself. 13Hy is aangetrek met klere deurweek in bloed en Sy Naam is: Die Boodskap van God. 14Die leërs van die hemel was saam met Hom op wit perde, aangetrek met wit, skoon, fyn linne 15en uit hulle monde gaan daar skerp swaarde uit waarmee hulle die nasies sal doodmaak en Hy sal vir hulle ’n Herder met ’n ysterstaf wees en Hy trap die parskuip van die wyn van die woede van God, wat alles vashou, uit. 16Op Sy klere, oor Sy heup, is die Naam geskryf: die Koning van die konings en die Meester van die meesters.

17Ek het ’n ander engel sien staan in die son en hy het met ’n harde stem uitgeroep en vir die voëls wat in die lug vlieg gesê: “Kom hier bymekaar vir die groot feesmaal van God, 18om die vleis van konings, die vleis van bevelvoerders oor ’n duisend, die vleis van soldate, die vleis van perde en van die wat daarop sit, die vleis van vrymense, sowel as slawe, klein, sowel as groot, te kan eet.”

19Ek het die dier en sy leërmag en die konings van die aarde en hulle soldate gesien wat bymekaargekom het om oorlog te maak teen Hom wat op die perd sit en teen Sy leër.

20Die dier is gevange geneem en saam met hom die vals profeet wat wondertekens in sy teenwoordigheid gedoen het, waarmee hy húlle mislei het wat die merk van die dier ontvang en die wat sy beeld aanbid het. Hulle het albei afgegaan en is in die meer van vuur, wat met swael brand, gegooi, 21maar die res is doodgemaak met die swaard van Hom wat sit op die perd, wat uit Sy mond uitgaan en al die roofvoëls is versadig deur hulle vleis.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Revelation 18
Top of Page
Top of Page