Psalms 71
Afrikaans PWL
1In U, o יהוה, plaas ek my vertroue; laat my nooit beskaamd staan nie!

2Bevry my deur U onpartydige opregtheid en red my; draai U oor na my en verlos my!

3Wees U vir my ’n rots van skuiling waarheen ek voortdurend kan gaan; gee U die bevele om my te red, want U is my Rots en my Vesting.

4Bevry my, o God, uit die hand van die bose persoon, uit die hand van hom wat moreel verdraaid en ’n wrede man is,

5want U is my Versekerde Verwagting, יהוה-God, van my jeug af is U my Vertroue.

6Ek is deur U ondersteun vanaf die baarmoeder af, U is my Versekerde Verwagting sedert ek in die liggaam van my moeder was; my lofprysing is voortdurend tot U.

7Ek is vir baie soos ’n wonder, maar U is my kragtige Skuiling.

8My mond is die hele dag lank vol van lofprysing en U eer.

9Verwerp my nie in die tyd van hoë ouderdom nie, laat my nie in die steek wanneer my krag faal nie,

10want my vyande praat teen my en die wat lê en wag op my lewe hou saam beraad

11en sê: “God het hom in die steek gelaat; agtervolg en gryp hom, want daar is niemand om hom te bevry nie!”

12O God, wees nie ver van my af nie; o my God, maak gou met my hulp!

13Laat hulle wat jaloers is op my lewe, beskaamd en in verleentheid wees; laat hulle wat my ongeluk soek in skande bedek wees,

14maar ék sal voortdurend bid en U meer en meer lofprys.

15My mond sal U onpartydige opregtheid en verlossing die hele dag lank verkondig, want ek ken nie die grootheid daarvan nie.

16Ek sal gaan in die krag van יהוה; ek sal U onpartydige opregtheid alleen vermeld.

17O God, U het my van kleins af geleer sodat ek U wonderwerkende dade kan verkondig.

18Nou ook op hoë ouderdom en grys hare, o God, verlaat my nie totdat ek aan die volgende geslag U krag en U sterkte gewys het.

19U onpartydige opregtheid, o God, het gereik tot in die hoogte; U het groot dinge gedoen, o God, wie is soos U?

20U wat my groot en moeilike probleme gewys het, U sal my weer opwek en my laat opkom uit die dieptes van die aarde.

21U het my grootheid vermeerder en teruggekom om my te troos.

22Ek sal U ook loof en prys met uitgestrekte hande en instrumente; ek sal tot U waarheid sing, o my God; ek sal tot U sing met die harp, o Afgesonderde Een van Yisra’el!

23My lippe en my lewe, wat U losgekoop het, sal dit uitskree van vreugde wanneer ek tot U sing.

24My tong sal ook praat van U onpartydige opregtheid, die hele dag lank, want hulle is verward, hulle wat my ongeluk soek word tot skande gemaak.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 70
Top of Page
Top of Page