Psalms 37
Afrikaans PWL
1Van Dawid. Moenie jaloers wees op die wetsoortreders of afgunstig wees op die werkers van onregverdigheid nie,

2want soos gras sal hulle gou verwelk en soos groen kruie sal hulle wegkwyn.

3Vertrou op יהוה en doen goed; bly in die land en soek na getrouheid.

4Vertrou in יהוה, dan sal Hy jou innerlike begeertes aan jou gee.

5Vertrou jou pad aan יהוה toe en vertrou Hom en Hy sal dit uitvoer.

6Hy sal jou onpartydige opregtheid laat uitkom soos die lig en jou regverdige oordeel soos die middag.

7Rus in יהוה en wag geduldig op Hom; wees nie afgunstig op hom wat boosheid doen en voorspoedig is in sy lewe nie.

8Hou op kwaad word en los die toorn; moenie jou opwerk, wat lei tot boosheid nie,

9want die boosdoeners sal afgesny word, maar dié wat op יהוה vertrou, hulle sal die aarde erf.

10Nog ’n klein rukkie en die wetsoortreder sal daar nie meer wees nie; ja, jy sal soek na sy plek en hom nie vind nie.

11Die nederige sal egter die aarde erf en hulle verheug in die oorvloed van vrede.

12Die wetsoortreder beplan teen die regverdige en kners met sy tande teen hom.

13יהוה lag vir hom, want Hy sien dat sy dag kom.

14Die wetsoortreders trek hulle swaard en buig hulle boë om die geteisterdes en behoeftige te laat val, om dié neer te slaan wat opreg lewe.

15Hulle swaard sal in hul eie hart ingaan en hulle boë sal verbreek word.

16Die klein bietjie wat die regverdige man het, is beter as die oorvloed van baie wetsoortreders,

17want die arms van die wetsoortreder sal gebreek word, maar יהוה ondersteun die regverdiges.

18יהוה ken die dae van die opregtes en hulle erfenis sal vir ewig bly.

19Hulle sal nie beskaamd staan in die tyd van boosheid nie en in dae van hongersnood sal hulle versadig word,

20maar die wetsoortreder sal omkom en die vyande van יהוה soos die prag van die weivelde wat verdwyn; hulle verdwyn soos rook.

21Die wetsoortreder leen en gee nie terug nie, maar die regverdige wys guns en gee,

22want die wat deur Hom geseën word, sal die aarde erf, maar die wat deur Hom vervloek word, sal vernietig word.

23Die treë van ’n goeie man word deur יהוה bevestig en Hy is verheug oor sy lewe.

24Alhoewel hy val, sal hy nie seerkry nie, want יהוה hou hom op met Sy hand.

25Ek was jonk en nou het ek oud geword, maar ek het nooit die regverdige verlate gesien, of sy nageslag gesien bedel vir brood nie.

26Die hele dag lank gee hy om en leen uit en sy nageslag is ’n seën.

27Bly weg van wat boos is en doen goed en jy sal vir ewig rus,

28want יהוה het die regverdige oordeel lief en sal sy afgesonderdes nie verlaat nie; vir ewig word hulle bewaar, maar die nageslag van die wetteloses word vernietig.

29Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop bly.

30Die mond van die regverdige uiter wysheid en sy tong praat van regverdige oordeel.

31Die wet van sy God is in sy verstand, wil en emosie; sy voete sal nie gly nie.

32Die wetsoortreders lê en wag op die regverdige en soek om hom dood te maak.

33יהוה sal hom nie in hulle hande laat bly nie en hom nie laat veroordeel word wanneer hy deur hulle geoordeel word nie.

34Wees afwagtend op יהוה en hou Sy lewenswyse en Hy sal jou oplig om die aarde te erf; wanneer die wetsoortreder afgesny word, sal jy dit sien.

35Ek het die wetsoortreder gesien groot praat terwyl hy homself uitsprei soos ’n taai boom in die woud.

36Tog, toe ek verbygaan, let op, was hy nie daar nie; ek het hom gesoek, maar hy kon nie gekry word nie.

37Lig die volmaakte hoog en kies die opregte, want daar is ’n goeie toekoms vir die man van vrede,

38maar die sondaars sal saam vernietig word; die toekoms van die wetsoortreders is vernietiging,

39maar die Verlosser van die regverdiges is יהוה, Hy sal hulle help in tyd van moeilikheid.

40יהוה help hulle en bevry hulle; Hy bevry hulle van die wetsoortreders en red hulle, want hulle vertrou op Hom.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 36
Top of Page
Top of Page