Psalms 107
Afrikaans PWL
1Loof en prys יהוה met uitgestrekte hande, want Hy is goed, want Sy goedheid duur vir ewig!

2Laat die vrygekooptes van יהוה so sê, wat Hy losgekoop het uit die hand van die onderdrukker

3en versamel het vanuit die lande, uit die ooste en die weste, uit die noorde en uit die eilande in die see.

4Hulle was verdwaald in die wildernis, in ’n plek sonder water; hulle kon nie die regte pad na ’n bewoonde stad vind nie.

5Honger en dors het hulle lewe inmekaar laat krimp.

6Toe het hulle na יהוה uitgeroep in hul moeilikheid en Hy het hulle uit hul benoudheid bevry

7en hulle gelei op die regte pad om na bewoonde dorpe te gaan.

8Laat die regverdiges van יהוה Hom loof en prys met uitgestrekte hande, want Sy goedheid is op die seuns van die mens,

9want Hy bevredig die lewe wat verlang en vul die honger lewe met goedheid.

10Omdat dié wat sit in duisternis en die skaduwee van die dood, vasgebind in depressie en ysters,

11gemurmureer het teen die woorde van God en die raad van die Allerhoogste verwerp het;

12daarom het Hy hulle binneste deur moeite verneder; hulle het swak geword en daar was niemand om te help nie.

13Toe het hulle tot יהוה gebid in hul moeilikheid en Hy het hul uit hul benoudheid gered.

14Hy het hulle uitgebring vanuit die duisternis en die skaduwee van die dood en hulle bande verbreek.

15Laat die regverdiges van יהוה Hom loof en prys met uitgestrekte hande, want Sy goedheid is oor die seuns van die mens,

16want Hy het die poorte van koper verbreek en die ysterwering afgesny.

17Hy het hulle vanuit hulle lewenswyses van sonde gehelp; Hy het hulle verlig vanuit hulle onderdrukking.

18Hulle lewe het ’n afsku aan alle soorte kos gehad en hulle het naby die poorte van die dood gekom.

19Toe het hulle tot יהוה uitgeroep in hul moeilikheid en Hy het hulle uit hul benoudheid verlos.

20Hy het Sy Boodskap gestuur en hulle genees en hulle bevry van vernietiging.

21Laat die regverdiges van יהוה Hom loof en prys met uitgestrekte hande, want Sy goedheid is op die seuns van die mens.

22Offer aan Hom die offers van lof en eer met uitgestrekte hande en verklaar Sy werke met uitroepe.

23Hulle wat na die see afgaan in skepe, wat handel drywe op baie waters,

24húlle sien die werke van יהוה en Sy wonders in die dieptes,

25want Hy beveel en lig die stormwind op wat die golwe daarvan opsweep.

26Hulle hoop op tot in die lug en gaan weer af na die dieptes; hulle lewe is omgekrap in hulle.

27Hulle swaai heen en weer soos ’n dronk man en is radeloos.

28Toe het hulle tot יהוה uitgeroep in hul moeilikheid en Hy het hulle uit hul benoudheid verlos.

29Hy maak van die storm ’n stilte sodat sy golwe stil is.

30Toe was hulle bly omdat hulle rustig is en Hy bring hulle na hul hawe van begeerte.

31Laat die regverdiges van יהוה Hom loof en prys met uitgestrekte hande, want Sy goedheid is oor die seuns van die mens.

32Laat hulle Hom verhoog in die vergadering van die volk en Hom helder en duidelik loof in die sitting van die oudstes.

33Hy verander riviere in ’n wildernis en waterfonteine in droë grond,

34’n vrugbare land in onvrugbaarheid, oor die boosheid van hulle wat daarin bly.

35Hy verander die wildernis in poele van water en droë grond in waterfonteine

36en daar laat Hy die hongeres bly sodat hulle dorpe kan bou en vestig

37en die lande saai en wingerde plant en die vrugte daarvan eet.

38Hy seën hulle ook dat hulle baie vermenigvuldig en hulle vee nie minder word nie.

39Weer word hulle verminder en verneder deur onderdrukking, boosheid en smart.

40Hy stort veragting uit oor heersers en laat hulle dwaal in die wildernis waar geen pad is nie.

41Hy versterk die behoeftiges en vermenigvuldig hulle families soos kuddes.

42Die regverdiges sal dit sien en hulle verheug en al die bose sal hulle monde toemaak.

43Wie ook al wys is en hierdie dinge sien, hulle sal die liefdevolle goedheid van יהוה verstaan.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Psalm 106
Top of Page
Top of Page