Spreuke 8
Afrikaans PWL
1Verkondig daarom wysheid en insig sal jou antwoord,

2want wysheid is op die top van die hoë plekke, sy staan tussen die roetes en langs die paaie.

3Sy roep uit by die poorte, by die ingang na die stad, roep sy hardop uit en sê:

4“Ek roep na julle, o manne en my stem is tot die seuns van die mens gerig

5sodat eenvoudiges insig en begrip kan verstaan en dwase in hulle verstand, wil en emosie kan verstaan.

6Luister, hoor en doen, want ek sal waarheid praat en die oopmaak van my mond sal opregtheid voortbring,

7want my mond sal waarheid praat en leuenagtige lippe is verwerplik voor my.

8Al die woorde van my mond is onpartydig opreg, daar is niks pervers of misleidend in hulle nie.

9Hulle is almal duidelik vir die wat hulle verstaan en reg vir die wat gewillig is om kennis te vind.

10Ontvang dissipline eerder as silwer en kies eerder kennis as fyn goud,

11want wysheid is baie beter as fyn goud, ja, sy is beter as edelstene en niks kan met haar vergelyk word nie.

12Ek, wysheid, het insig en begrip geskep en ek besit kennis en rede.

13Die respekvolle vrees van יהוה minag boosheid; hoogmoed, trots, ’n bose pad en perverse spraak haat ek.

14Raadgewing en begripsvermoë is myne; insig en sterkte is myne.

15Deur my regeer konings en verklaar prinse regverdige oordeel;

16deur my heers prinse en edelmanne, al die regters van die aarde.

17Ek het lief dié wat my liefhet en dié wat my soek, sal my vind.

18Rykdom en eer is myne, ja, standhoudende rykdom en onpartydige opregtheid.

19My vrug is beter as fyn goud en my opbrengs as uitgesoekte silwer.

20Ek lei op die pad van onpartydige opregtheid, te midde van die paaie van regverdige oordeel,

21om aan dié wat my liefhet, ’n versekerde verwagting te gee en ek sal hulle skatkamers volmaak.

22יהוה het my geskep as eersteling van Sy skepping, voor al Sy werke.

23Ek is van ewigheid af gevestig, vanaf die begin, voordat Hy die aarde gemaak het.

24Toe daar nog geen dieptes was nie, is ek gebore; toe daar geen fonteine, oorlopens met water, was nie.

25Voordat die berge gevestig is, voor die heuwels gevorm is, is ek gebore

26terwyl Hy nog nie die aarde, die valleie of die beste grond van die wêreld gemaak het nie.

27Toe Hy die hemele vasgestel het, was ek daar; toe Hy ’n kring afgetrek het op die oppervlakte van die dieptes;

28toe Hy die wolke daarbo gevestig het, toe Hy die fonteine van die dieptes versterk het;

29toe Hy vir die see sy grens gestel het sodat die waters nie Sy bevel sou oortree nie; toe Hy die fondasies van die aarde neergelê het,

30het ek dit saam met Hom vasgestel en ek was daagliks Sy genot, altyd in vreugde voor Sy Teenwoordigheid,

31laggend en spelend op Sy bewoonbare aarde en my vreugde was in die seuns van die mens.

32Luister, hoor en doen wat ek sê, seuns, want geseënd is hulle wat my lewenswyse navolg.

33Luister, hoor en doen die instruksies en wees wys en moenie afdwaal nie.

34Geseënd is die man wat na my luister, dit hoor en doen, daagliks wakend by my poorte, wagtend by my deurpos,

35want my doelstellings is die dinge van die lewe, hulle verkondig die wil van יהוה.

36Hulle wat teen My sondig, benadeel hul eie lewe; almal wat my haat, het die dood lief.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Proverbs 7
Top of Page
Top of Page