Spreuke 5
Afrikaans PWL
1My seun, luister na my wysheid, draai jou oor na my insig

2dat jy na raad kan luister en jou lippe kennis kan behou,

3want die lippe van ’n vreemde vrou drup soos ’n heuningkoek en haar woorde is gladder as olie,

4maar die einde van haar lewe is so bitter soos wilde-als, soos ’n swaard met twee snykante.

5Haar voete laat mans afgaan na die dood, haar treë vat haar na Sh’ol.

6Sy loop nie op die land van die lewendes nie, haar pad is veranderlik en onbekend.

7Luister daarom nou na my en doen dit, julle seuns en moenie afwyk van die woorde van my mond nie.

8Verwyder jou lewenswyse ver van haar af en kom nie naby die deur van haar huis nie

9sodat jy nie jou krag aan ander sal oorgee en jou jare aan die wreedaards

10en dat vreemdes hulle nie versadig met jou rykdom en jou werk in die huis van ’n vreemdeling kom nie

11en jy in jou oudag spyt sal hê, as die vlees van jou liggaam verteer word

12en jy sê: “Hoekom het ek instruksies gehaat en my verstand, wil en emosie teregwysing verag

13en hoekom het ek nie geluister na die stem van my onderwyser, of my oor gedraai na hulle wat vir my instruksies gegee het nie!

14Ek was in amper alle soorte boosheid te midde van die vergadering en die gemeente.

15Drink water uit jou eie put en lopende water uit jou eie fontein.

16Laat jou water oorloop in jou strate, laat dit na buite versprei.

17Laat dit net vir jou alleen wees, laat vreemdelinge nie met jou deel nie.

18Mag jou fontein geseënd wees en verheug jou in die vrou van jou jeug.

19Laat haar wees soos ’n liefdevolle bokooitjie en ’n aangename Ibex ooi; laat haar borste jou altyd tevrede stel en wees altyd bekoor deur haar liefde.

20My seun, moenie mislei word deur ’n vreemde vrou, of die borste van ’n vreemde vrou omhels nie,

21want elke mens se lewenswyse is voor die oë van יהוה en al sy paaie lê oop voor Sy Teenwoordigheid.

22Die bose sal gevang word deur sy eie oortredinge en hy sal deur die bande van sy sonde vasgebind word.

23Hy sal sterf sonder instruksies en deur die grootheid van sy dwaasheid sal hy afdwaal.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Proverbs 4
Top of Page
Top of Page