Spreuke 24
Afrikaans PWL
1Moenie afgunstig wees op bose manne nie en moet ook nie begeer om by hulle te wees nie,

2want hulle binneste beplan boosheid en hulle lippe praat van onreg.

3Deur wysheid word ’n huis gebou en deur insig word dit gevestig

4en deur kennis word die binneste kamers gevul met allerhande kosbare en aangename rykdom.

5’n Wyse man is beter as ’n sterk man; ja, ’n man van kennis, as ’n magtige,

6want deur uittarting word oorlog gemaak; in ’n menigte raadgewings is daar verlossing.

7Wysheid vergruis die dwaas; hy maak nie sy mond oop in die poort nie.

8Hy wat beplan om boos te doen, sal boos genoem word.

9Die gedagtes van die dwaas is sonde en boosheid is ’n verwerplikheid vir die mens.

10Die bose sal weggedryf word deur boosheid in die dag van pyniging.

11Bevry hulle wat weggesleep word na die dood en moenie terughou om hulle wat gevange gehou word om doodgemaak te word, los te koop nie!

12As jy sê: “Let op, ons het dit nie geweet nie,” weet dan, dit is God wat die gedagtes toets en sal aan elke man gee volgens sy dade. Weet dit, dit is Hy wat jou lewe bewaak.

13Eet heuning, my seun, want dit is goed en die heuningkoek, wat soet is vir jou smaak.

14So sal wysheid jou lewe vind en jy sal goeie vooruitsigte hê en jou versekerde verwagting sal nie afgesny word nie.

15Moenie planne van onreg maak in die huis van die regverdige nie; moenie sy rusplek bederf nie,

16want die regverdige man val sewe maal en staan weer op, maar die bose val in sy boosheid.

17Moet jou nie verheug wanneer jou vyand val nie en laat jou binneste nie bly wees wanneer hy oorval word nie

18dat יהוה dit nie sien en dit Hom nie tevrede stel nie en Hy Sy woede van hom af wegdraai nie.

19Moet boosdoeners nie beny of jaloers wees op die bose nie,

20want die boosdoener het geen toekoms nie en die lamp van die bose sal uitgedoof word.

21My seun, vrees יהוה respekvol en gee goeie raad en meng nie met die dwase nie,

22want hulle katastrofe sal skielik kom en wie ken die einde van hulle jare?

23Hierdie dinge sê ek vir die wyse: “Dit is nie goed om partydig te wees in oordeel nie

24of om vir die bose man te sê: ‘Jy is regverdig,’ nie; die volke sal hom vervloek en die nasies sal hom verag,

25maar hulle wat hom bestraf sal tevredenheid hê en ’n goeie seën sal oor hulle kom.”

26Die mense sal die lippe soen van hom wat vermaning gee.

27Berei jou werk buitekant voor en maak dit gereed in die land en bou daarna jou huis.

28Moenie ’n vals getuie teen jou naaste wees nie en moet hom nie mislei met jou lippe nie.

29Moenie sê: “Soos hy aan my gedoen het, so sal ek aan hom doen; ek sal aan hom gee volgens sy dade,” nie.

30Ek het by die land van ’n luiaard verbygeloop en by die wingerd van ’n mens sonder insig

31en let op, dit was heeltemal toegegroei met dorings en die oppervlakte was bedek met brandnetels en sy klipmuur was afgebreek.

32Toe het ek daarna gekyk en dit goed oordink en lering ontvang:

33nog ’n bietjie slaap, nog ’n bietjie sluimer, nog ’n bietjie hande-vou oor jou bors;

34dan kom armoede oor jou en behoefte haal jou skielik in soos ’n hardloper.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Proverbs 23
Top of Page
Top of Page