Numeri 19
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe en Aharon gepraat en gesê: 2“Hierdie is die instelling van die wet wat יהוה beveel het deur te sê: ‘Praat met die seuns van Yisra’el dat hulle vir jou ’n vlekkelose rooi verskalf bring wat geen gebrek het nie en waarop geen juk gekom het nie. 3Julle moet haar vir El’azar, die priester, gee en hy moet haar buitekant die kamp uitlei en dit moet voor hom geslag word. 4El’azar, die priester, moet dan van haar bloed met sy vinger vat en van haar bloed sewe maal in die rigting van die voorkant van die Tent van Ontmoeting sprinkel. 5Dan moet die verskalf voor sy oë verbrand word; haar vel, haar vleis, haar bloed en haar mis moet verbrand word. 6Die priester moet sederhout, hisop en skarlaken materiaal vat en dit binne-in die brandende verskalf gooi. 7Dan moet die priester sy klere was en sy liggaam in water was en daarna mag hy in die kamp inkom. Die priester sal tot die aand toe onrein wees. 8Ook die een wat haar verbrand het, moet sy klere in water was, sy liggaam in water was en hy sal tot die aand toe onrein wees. 9’n Man wat rein is moet die as van die verskalf bymekaarmaak en dit buitekant die kamp op ’n rein plek sit; dit moet vir die vergadering van die seuns van Yisra’el bewaar word vir die water wat onreinheid verwyder: dit is ’n reiniging vir hulle sonde. 10Die een wat die as van die verskalf bymekaarmaak, moet sy klere was en sal tot die aand toe onrein wees. Dit moet vir die seuns van Yisra’el en vir die besoeker wat tussen hulle bly, ’n ewige instelling wees.

11Die een wat ’n dooie mens aanraak, sal sewe dae lank onrein wees. 12Hy moet homself daarvan reinig op die derde dag en op die sewende dag; dan sal hy rein wees, maar as hy hom nie op die derde dag en op die sewende dag reinig nie, sal hy nie rein wees nie. 13Elkeen wat aan ’n dooie liggaam raak, aan ’n mens wat gesterf het en homself nie reinig nie, het die tabernakel van יהוה onrein gemaak en dié persoon moet uit Yisra’el uitgesny word. Hy sal onrein wees omdat die water vir onreinheid nie op hom gesprinkel is nie, sy onreinheid is nog op hom.

14Hierdie is die wet as iemand in ’n tent sterf: almal wat in die tent kom en almal wat in die tent is, sal sewe dae lank onrein wees 15en al die oop houers wat nie met ’n deksel toegebind is nie, is onrein. 16Wie ook al in die oop veld aan iemand raak wat deur die swaard deurboor is, of wat gesterf het, of aan die been van ’n mens, of aan ’n graf, sal sewe dae lank onrein wees. 17Vir die onreine moet hulle van die as van die verskalf wat verbrand is vat en saam met lopende water in ’n houer gooi. 18’n Rein man moet hisop vat, dit in die water doop, op die tent sprinkel, op al die goedere en op die persone wat daar was, asook op hom wat aan ’n been, of aan een wat neergeslaan is, of aan ’n dooie, of aan ’n graf geraak het. 19Die rein persoon moet die onreine op die derde en op die sewende dag besprinkel en op die sewende dag moet hy homself rein maak, sy klere was en homself in water was en in die aand sal hy rein wees,

20maar die persoon wat onrein is en homself nie reinig nie, dié persoon moet uitgesny word uit die vergadering, want hy het die Afgesonderde plek van יהוה onrein gemaak. Die water vir onreinheid is nie op hom gesprinkel nie, hy is onrein. 21Dit sal ’n ewige instelling vir hulle wees. Die een wat die water vir onreinheid sprinkel, moet sy klere was en die een wat aan die water vir onreinheid raak, sal tot die aand toe onrein wees. 22Waaraan die onreine ook al raak, sal onrein wees en die persoon wat daaraan raak, sal tot die aand toe onrein wees.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Numbers 18
Top of Page
Top of Page