Numeri 16
Afrikaans PWL
1Korag, die seun van Yitz’har, die seun van K’hat, die seun van Levi, saam met Datan en Aviram, seuns van Eli’av, met On, die seun van Pelet, seuns van Re’uven, het aksie geneem 2en hulle het opgestaan voor Moshe, saam met sommige van die seuns van Yisra’el, twee honderd en vyftig leiers van die vergadering, verteenwoordigers, manne van naam. 3Hulle het bymekaargekom teen Moshe en Aharon en vir hulle gesê: “Julle het ver genoeg gegaan, want die hele vergadering is afgesonderd, elke een van hulle en יהוה is tussen hulle! Waarom verhoog julle julself bo die vergadering van יהוה?”

4Toe Moshe dit hoor, het hy op sy gesig neergeval 5en hy het met Korag en sy hele groep gepraat en gesê: “Môre-oggend sal יהוה wys wie Syne is en wie afgesonder is en Hy sal hom laat naderkom na Hom. Die een wat Hy kies, sal Hy laat naderkom na Hom toe. 6Doen dit: neem vir julle vuurpanne, Korag en julle hele groep, 7gooi vuur in hulle en lê reukwerk daarop voor die Teenwoordigheid van יהוה; dan sal dit wees dat die een wat יהוה kies, die afgesonderde sal wees. Julle het ver genoeg gegaan, julle seuns van Levi!”

8Moshe het vir Korag gesê: “Luister nou, julle seuns van Levi! 9Is dit nie genoeg vir julle dat die God van Yisra’el julle afgesonder het uit die vergadering van Yisra’el om julle nader na Hom te laat kom, om die werk van יהוה se tabernakel te doen en voor die vergadering te staan om hulle te dien nie 10en dat Hy jou nader aan Homself laat kom het, jy en al jou broers, die seuns van Levi, saam met jou nie? Begeer jy nou ook die priestersamp? 11Om hierdie rede is jy en jou hele groep saam teen יהוה vergader; wat is Aharon dat julle teen hom kla?”

12Moshe het gestuur om Datan en Aviram, die seuns van Eli’av, te laat roep, maar hulle het gesê: “Ons sal nie opkom nie. 13Is dit nie genoeg dat jy ons uit ’n land wat vloei met melk en heuning laat opkom het om ons in die wildernis te laat doodgaan nie, maar jy wil ook baas speel oor ons? 14Meer nog, jy het ons nie gebring in ’n land wat vloei met melk en heuning en vir ons geen lande en wingerde as erfdeel gegee nie. Wil jy die oë van hierdie manne uitgrou? Ons sal nie opkom nie.”

15Moshe was baie kwaad en het vir יהוה gesê: “Respekteer nie hulle offer nie. Ek het nie een donkie van hulle gevat en nie enige een van hulle skade aangedoen nie.” 16Moshe het vir Korag gesê: “Jy en jou hele groep, sorg dat julle môre voor die Teenwoordigheid van יהוה is, jy en hulle en Aharon 17en neem julle elkeen sy vuurpan en gooi daar reukwerk op en elkeen bring sy vuurpan voor die Teenwoordigheid van יהוה, twee honderd en vyftig vuurpanne; ook jy en Aharon, elkeen met sy vuurpan.” 18Elke man het sy vuurpan gevat, vuur daarin gegooi, reukwerk daarop gelê en hulle het gaan staan by die ingang van die Tent van Ontmoeting, asook Moshe en Aharon. 19Korag het die hele vergadering teen hulle laat vergader by die ingang van die Tent van Ontmoeting. Die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה het aan die hele vergadering verskyn.

20יהוה het met Moshe en Aharon gepraat en gesê: 21“Sonder julle af vanuit hierdie vergadering en Ek sal hulle in ’n oomblik verteer.” 22Hulle het op hul gesigte geval en gesê: “O Magtige God, God van die geeste van alle vlees! Sal een man sondig en U vir die hele vergadering kwaad word?”

23יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 24“Praat met die vergadering en sê: ‘Kom weg rondom die tente van Korag, Datan en Aviram!’ “

25Moshe het opgestaan en na Datan en Aviram gegaan en die oudstes van Yisra’el het hom gevolg. 26Hy het met die vergadering gepraat en gesê: “Gaan nou weg van die tente van hierdie bose oortreders en raak nie aan iets wat aan hulle behoort nie, anders sal julle in al hulle sondes weggesleep word.” 27Hulle het weggegaan rondom die tente van Korag, Datan en Aviram, maar Datan en Aviram het uitgekom en by die deur van hulle tente gaan staan saam met hulle vroue, seuns en klein kinders. 28Moshe het gesê: “Hieraan sal julle weet dat יהוה my gestuur het om al hierdie werke te doen, want ek het hulle nie uit my eie gedoen nie: 29as hierdie mense sterf soos alle mense of met die besoeking van alle mense besoek word, dan het יהוה my nie gestuur nie, 30maar as יהוה iets nuuts skep en die grond sy mond oopmaak en hulle insluk met alles wat aan hulle behoort en hulle lewendig na Sh’ol afgaan, dan sal julle verstaan dat hierdie manne יהוה verwerp het.”

31Dit het gebeur dat toe hy al hierdie woorde klaar gepraat het, die grond wat onder hulle was oopskeur 32en die aarde het sy mond oopgemaak en hulle ingesluk saam met hul huisgesinne en al die mense wat saam met Korag was en al hulle besittings. 33So het hulle saam met almal wat by hulle was, lewend na Sh’ol afgegaan, die aarde het bo hulle toegemaak en hulle is vernietig vanuit die vergadering uit. 34Die hele Yisra’el wat rondom hulle was, het by die hoor van die klank gevlug, want hulle het gesê: “Die aarde mag ons ook insluk!” 35’n Vuur het van יהוה af uitgegaan en die twee honderd en vyftig man verteer wat die reukwerk geoffer het.

36יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 37“Sê vir El’azar, die seun van Aharon, die priester, dat hy die vuurpanne uit die brand moet optel, want hulle is afgesonder en die vuur ver weg moet gooi. 38Die vuurpanne van dié wat gesondig het ten koste van hulle eie lewe, laat daarvan dun plate gemaak word as ’n bedekking vir die altaar, want hulle het dié voor die Teenwoordigheid van יהוה aangebied; daarom is hulle afgesonder en hulle sal vir die seuns van Yisra’el ’n teken wees.” 39El’azar, die priester, het die koper vuurpanne gevat wat die mense wat verbrand is, aangebied het en hulle is uitgeslaan as ’n bedekking vir die altaar, 40as ’n herinnering vir die seuns van Yisra’el dat geen vreemde persoon, wat nie uit die nageslag van Aharon is nie, nader sal kom om reukwerk voor die Teenwoordigheid van יהוה te offer nie sodat hy nie word soos Korag en sy groep nie, soos יהוה deur die hand van Moshe gesê het.

41Die volgende dag het die hele vergadering van die seuns van Yisra’el teen Moshe en Aharon gekla en gesê: “Julle het die dood van die volk van יהוה veroorsaak.” 42Dit het gebeur dat terwyl die vergadering teen Moshe en Aharon bymekaarkom, hulle hul na die Tent van Ontmoeting gedraai het en let op, die wolk het dit bedek en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה het verskyn. 43Moshe en Aharon het voor die Tent van Ontmoeting gekom. 44יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 45“Kom weg vanuit hierdie vergadering sodat Ek hulle in ’n oomblik kan verteer;” en hulle val op hulle gesigte neer. 46Moshe sê vir Aharon: “Vat ’n vuurpan en gooi vuur van die altaar daarop en sit reukwerk daarop en vat dit gou na die vergadering toe en doen toedekking vir hulle, want woede het vanuit יהוה uitgegaan, die plaag het begin!” 47Aharon vat dit soos Moshe gesê het en hardloop tussen die vergadering in en let op, die plaag het reeds onder die volk begin! Hy het die reukwerk opgesit en toedekking gedoen vir die volk. 48Hy het gestaan tussen die dooies en die lewendes en die plaag is teruggehou. 49Die wat in die plaag gesterf het, was veertien duisend sewe honderd, buiten die wat as gevolg van Korag gesterf het. 50Aharon het teruggegaan na Moshe toe by die ingang van die Tent van Ontmoeting, want die plaag is teruggehou.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Numbers 15
Top of Page
Top of Page