Numeri 13
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 2“Stuur manne uit sodat hulle die land Kena’an, wat Ek aan die seuns van Yisra’el gaan gee, kan verken. Van elke stam van hulle vaders moet julle een man stuur, elkeen ’n leier onder hulle.” 3Moshe het hulle uitgestuur uit die wildernis van Pa’ran, volgens die bevel van יהוה; almal manne wat leiers was van die seuns van Yisra’el. 4Hierdie is dan hulle name: van die stam van Re’uven: Shamua, die seun van Zakur; 5van die stam van Shim’on: Shafat, die seun van Hori; 6van die stam van Y’hudah: Kalev, die seun van Y’funneh; 7van die stam van Yissakhar: Yig’al, die seun van Yosef; 8van die stam van Efrayim: Hoshea, die seun van Nun; 9van die stam van Binyamin: Palti, die seun van Rafu; 10van die stam van Z’vulun: Gadi’el, die seun van Sodi; 11van die stam van Yosef: Vir die stam van M’nasheh: Gaddi, die seun van Susi; 12van die stam van Dan: `Ammi’el, die seun van G’malli; 13van die stam van Asher: S’tur, die seun van Mikha’el; 14van die stam van Naftali: Nagvi, die seun van Vofsi; 15van die stam van Gad: Ge’u’el, die seun van Makhi. 16Dit is die name van die manne wat Moshe gestuur het om die land te verken. Moshe het Hoshea, die seun van Nun, Y’hoshua genoem.

17Moshe het hulle gestuur om die land Kena’an te verken en vir hulle gesê: “Gaan hierlangs op in die Negev en gaan dan op in die bergland 18en kyk hoe die land is en of die mense wat daarin bly sterk of swak, min of baie is, 19of die land waar hulle bly, goed of sleg is en of die stede waarin hulle bly, soos kampe of vestings is. 20Is die land vet of arm; is daar bome of nie, doen moeite en bring van die vrugte van die land saam.” Die tyd was toe die seisoen van die eerste ryp druiwe.

21Hulle het opgegaan en die land verken vanaf die wildernis van Tzin af tot so ver as Regov, naby die ingang van Hamat. 22Hulle het opgegaan deur die Negev en tot by Hevron gekom en Agiman, Sheshai en Talmai, die wat vir `Anak gebore is, was daar. Hevron is sewe jaar voor Tzo’an, in Mitzrayim, gebou.

23Hulle het by die vallei van Eshkol gekom en daar ’n rank met een tros druiwe afgesny en twee het dit tussen hulle met ’n paal gedra, saam met van die granate en van die vye. 24Dié plek het hulle die vallei van Eshkol genoem vanweë die tros wat die seuns van Yisra’el daar afgesny het.

25Hulle het teruggekom van die verkenning van die land ná verloop van veertig dae 26en voortgegaan en by Moshe, Aharon en die hele vergadering van die seuns van Yisra’el gekom in die wildernis van Pa’ran, by Kadesh en aan hulle en aan die hele vergadering verslag gebring en hulle die vrugte van die land gewys. 27Hulle het aan hom rapporteer en gesê: “Ons het gegaan na die land waarheen u ons gestuur het en waarlik, dit loop oor met melk en heuning en dít is sy vrugte. 28Nogtans, die volk wat in die land woon, is sterk en die stede is versterk en baie groot en ons het die nageslag van `Anak daar gesien. 29`Amalek bly in die Negev, die Hittiete, Y’vusiete en Emoriete bly in die bergland en die Kena’aniete bly by die see en langs die Yarden.”

30Kalev het die mense stilgemaak voor Moshe en gesê: “Laat ons opstaan en opgaan om dit in besit te neem, want ons sal dit sekerlik oorwin.” 31Die manne wat saam met hom opgegaan het, sê egter: “Ons kan nie teen die mense opgaan nie, want hulle is te sterk vir ons.” 32Hulle het slegte verslae onder die seuns van Yisra’el versprei oor die land wat hulle verken het, deur te sê: “Die land waardeur ons gegaan het om dit te verken, is ’n land wat sy inwoners verteer en al die mense wat ons daarin gesien het, is groot manne. 33Ons het ook die reuse (Nefilim) daar gesien, die seuns van `Anak is deel van die reuse en ons het soos sprinkane in ons eie oë geword soos ons ook in hulle oë was.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Numbers 12
Top of Page
Top of Page