Afrikaans PWL 1Die volk het geword soos mense wat kla van swaarkry voor die ore van יהוה en toe יהוה dit gehoor het, het Sy woede ontbrand. Die vuur van יהוה het onder hulle gebrand en sommige aan die kant van die kamp verteer.
2Die volk het daarom na Moshe uitgeroep en Moshe het ingetree by יהוה en die vuur is geblus.
3Die naam van die plek is Tav’erah genoem omdat die vuur van יהוה tussen hulle gebrand het. 4Die gemengde bevolking wat onder hulle was, het gierige begeertes gehad. Die seuns van Yisra’el het weer gehuil en gesê: “Wie sal vir ons vleis gee om te eet? 5Ons onthou die vis wat ons vrylik in Mitzrayim kon eet, die komkommers, die waatlemoene, die preie, die uie en die knoffel, 6maar nou is ons eetlus opgedroog; daar is glad niks om na te kyk nie, behalwe net die ‘man hu’ voor ons oë.” 7Die ‘man hu’ was soos koljandersaad en dit het gelyk soos boomgom. 8Die volk het rondgegaan en dit bymekaargemaak en op maalstene gemaal of in vysels gestamp, dit in panne gekook en koeke daarvan gemaak. Die smaak daarvan was soos die smaak van koeke gebak in olie. 9Wanneer die dou snags op die kamp val, het die ‘man hu’ saam met dit geval. 10Moshe het die volk hoor huil, regdeur hulle families, elkeen by die deur van sy tent en die woede van יהוה het grootliks ontbrand en Moshe was ontevrede. 11Moshe sê vir יהוה: “Waarom het U U kneg kwaad aangedoen en waarom het ek geen guns in U oë gevind nie dat U die las van hierdie hele volk op my lê? 12Het ék al hierdie mense verwek? Of het ék geboorte aan hulle gegee dat U vir my sê: ‘Dra hulle, soos ’n versorger die suigeling kind dra, in jou drasak na die land wat U aan hulle vaders met ’n eed beloof het?’ 13Waar moet ek vleis kry om vir al hierdie mense te gee? Want hulle huil by my en sê: ‘Gee vir ons vleis sodat ons kan eet.’ 14Ek is nie in staat om al hierdie mense alleen te dra nie, want hulle is vir my te swaar. 15As U so met my werk, maak my asseblief dadelik dood en vernietig my as ek guns in U oë gevind het en laat ek nie my ellende sien nie.” 16יהוה sê vir Moshe: “Bring vir My sewentig manne uit die oudstes van Yisra’el bymekaar, van wie jy weet dat hulle oudstes van die volk en toesighouers oor hulle is. Bring hulle na die Tent van Ontmoeting en laat hulle daar by jou staan. 17Ek sal dan afkom en daar met jou praat en van die Gees, wat op jóu is, sal Ek op hulle lê en hulle sal saam met jou die las van die volk dra sodat jy dit nie alleen hoef te dra nie. 18Vir die volk moet jy sê: ‘Sonder julle af teen môre en julle sal vleis eet, want julle het in die ore van יהוה gehuil en gesê: ‘Wie sal vir ons vleis gee om te eet, want dit het goed met ons gegaan in Mitzrayim?’ יהוה sal daarom vir julle vleis gee en julle sal eet. 19Julle sal nie een dag of twee dae of vyf dae of tien dae of twintig dae eet nie, 20maar ’n hele maand lank totdat dit uit julle neusgate uitkom en vir julle walglik word omdat julle יהוה, wat tussen julle is, verwerp het en voor Hom gehuil en gesê het: ‘Hoekom het ons ooit uit Mitzrayim opgetrek?’ “ 21Moshe sê egter: “Die mense waartussen ek is, is ses honderd duisend mans te voet, tog het U gesê: ‘Ek sal vir hulle vleis gee en hulle sal ’n maand lank eet!’ 22Sal daar vir hulle kleinvee- en beestroppe geslag word om genoeg vir hulle te voorsien? Of sal al die visse van die see vir hulle bymekaar gemaak word, om vir hulle genoeg te voorsien?” 23יהוה sê vir Moshe: “Is die krag van יהוה beperk? Nou sal jy sien of My woord vir jou sal gebeur of nie.” 24Moshe het uitgegaan en die woorde van יהוה aan die volk gebring en hy het sewentig manne uit die oudstes van die volk bymekaar laat kom en hulle rondom die Tent laat staan. 25יהוה het afgekom in die wolk en met hom gepraat en Hy het van die Gees wat op hom was, op die sewentig oudstes gelê en dit het gebeur dat toe die Gees op hulle rus, hulle geprofeteer het, maar nie weer daarna nie. 26Twee manne het egter in die kamp agtergebly: die naam van die een was Eldad en die naam van die ander Medad en die Gees het op hulle gerus. Hulle was onder die wat opgeskrywe was, maar het nie uitgegaan na die Tent toe nie en hulle het in die kamp geprofeteer. 27’n Jongman het gehardloop en dit aan Moshe vertel en gesê: “Eldad en Medad profeteer in die kamp.” 28Y’hoshua, die seun van Nun, van sy jeug af die dienaar van Moshe, antwoord en sê: “ Moshe, my meester, stop hulle!” 29Moshe sê vir hom: “Is jy jaloers vir my onthalwe? Ag, dat die hele volk van יהוה profete was en dat יהוה Sy Gees op hulle mag gee!” 30Moshe en die oudstes van Yisra’el het teruggegaan in die kamp in. 31’n Wind het vanuit יהוה gekom en kwartels van die see af oorgebring en hulle naby die kamp laat val, omtrent ’n dagreis hier en omtrent ’n dagreis daar, reg rondom die kamp en omtrent twee el diep bo-op die grond. 32Die volk het daardie hele dag, die hele nag en die hele volgende dag opgestaan en die kwartels bymekaargemaak. Hy wat die minste bymekaargemaak het, het tien homer bymekaargemaak en hulle het dit vir hulleself uitgesprei oral rondom die kamp. 33Terwyl die vleis nog tussen hulle tande was, voordat dit gekou is, het die woede van יהוה teen die volk ontbrand en יהוה het die volk met ’n baie ernstige plaag geslaan. 34Die naam van daardie plek is Kivrot-HaTa’avah genoem, want daar het hulle die mense begrawe wat so gierig was. 35Van Kivrot-HaTa’avah af het die volk getrek na Hatzerot toe en hulle het in Hatzerot gekamp. Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission. Bible Hub |