Afrikaans PWL 1Op die vier en twintigste dag van hierdie maand het die seuns van Yisra’el vergader en gevas in rouklere en met grond op hulle koppe
2en die seuns van Yisra’el het hulleself afgesonder van al die ander nasies en het gestaan en hulle sondes erken en die sondes van hulle vaders.
3Hulle het op hulle plekke opgestaan en vir ’n kwart deel van die dag gelees uit die wetboek van יהוה, hulle God en nog ’n kwart deel van die dag erkenning gedoen en יהוה, hulle God, aanbid.
4Toe het die leiers van die Leviete: Yeshua, Kadmi’el, Bani, Hashavn’yah, Sherevyah, Hodiyah, Sh’vanyah en P’tagyah opgestaan en met ’n harde stem voor יהוה, hulle God, gebid. 5Die Leviete: Yeshua, Kadmi’el, Bani, Hashavn’yah, Sherevyah, Hodiyah, Sh’vanyah en P’tagyah het gesê: “Staan op en praat goed van יהוה, julle God, vir ewig en ewig en geseënd is U wonderlike Naam (Karakter en Outoriteit), wat verhewe is bo alle skepping en lofprysing! 6U alleen is יהוה, U het die hemel, die hoogste hemel en al sy leërmagte, die aarde en alles wat daarop is, die seë en alles wat daarin is, gemaak en U hou dit alles in stand; die leërmag van die hemel val voor U neer. 7U is יהוה, die God wat Avram gekies het en hom uit Ur van die Kasdeërs uitgebring het en sy naam verander het na Avraham; 8wat sy verstand, wil en emosie suiwer voor U gevind het en ’n verbond met hom gesluit het om die land van die Kena’aniete, Hittiete, Emoriete, P’riziete, Y'vusiete en Girgashiete, aan hom te gee, om aan sy nageslag te gee en U het U woorde tot hom uitgevoer, want U is regverdig. 9U het die benoudheid van ons vaders in Mitzrayim gesien en hulle uitroep by die Sufsee gehoor 10en tekens en wonders gedoen aan Farao, al sy diensknegte en aan al die mense van die land, want U het geweet dat hulle verkeerd gedoen het teen U volk. So het U vir U ’n Naam gemaak, soos dit vandag is. 11U het ’n pad voor hulle oopgemaak in die see sodat hulle op droë grond dwarsdeur die see getrek het en U het hulle vervolgers in die diepte van die see gegooi, soos ’n klip wat sink in die magtige waters. 12Verder het U hulle ook gelei met ’n wolkpilaar bedags en met ’n vuurpilaar snags om vir hulle lig te gee op die pad waar hulle moes gaan. 13U het ook afgekom op die berg Sinai en met hulle gepraat vanuit die hemel en aan hulle die regte oordele, wette van waarheid, goeie instellings en opdragte gegee. 14U het aan hulle U afgesonderde Shabbat bekend gemaak, asook opdragte, instellings en wette, wat U deur U dienskneg Moshe beveel het. 15U het vir hulle brood gegee uit die hemel vir hulle honger en water uit ’n rots laat uitkom vir hulle dors en aan hulle belowe dat hulle sou ingaan en die land in besit neem wat U hand met ’n eed aan hulle belowe het, 16maar hulle en hulle vaders het boos opgetree en was hardkoppig en het nie na U opdragte geluister en dit gedoen nie. 17Hulle het geweier om gehoorsaam te wees en ook nie gedink aan U wonders wat U tussen hulle gedoen het nie, maar het hulle verstand wil en emosie na hulle bose dade gedraai. Tog is U ’n God wat gereed is om vry te spreek, vol omgee en onverdiende guns, stadig om kwaad te word en gereed om na versoeke te luister en U het hulle nie verlaat nie. 18Ja, toe hulle ’n gegote kalf vir hulleself gemaak en gesê het: “Hierdie is jou god, o Yisra’el wat jou uit Mitzrayim laat optrek het” en hulle groot boosheid gedoen het, 19het U in U grote omgee hulle nie verlaat in die wildernis nie; die wolkpilaar het nie bedags van hulle gewyk om hulle op hul reis te lei nie en ook nie die vuurpilaar snags om vir hulle die pad te verlig waarop hulle moes gaan nie. 20U het U goeie Gees vir hulle gegee om hulle te onderrig en nie ‘man hu’ van hulle monde teruggehou nie en vir hulle water gegee vir hulle dors. 21Ja, vir veertig jaar lank het U hulle onderhou in die wildernis en hulle het aan niks gebrek gehad nie. Hulle klere het nie verslyt nie en hulle skoene het geen gate in gehad nie. 22Verder het U aan hulle die koninkryke van die ander nasies gegee en die land onder elke man verdeel. Hulle het die land van Sigon en die land van die koning van Heshbon, die land van Og, koning van Bashan, in besit geneem. 23U het hulle kinders vermenigvuldig soos die sterre aan die hemel en U het hulle in die land ingebring waarvan U aan hulle vaders belowe het dat hulle sou ingaan om dit in besit te neem. 24Hulle seuns het ingegaan en die land in besit geneem en U het die inwoners van die land van die Kena’aniete voor hulle verslaan en hulle in hul hand oorgegee met hulle konings sowel as die mense van die land, om met hulle te doen soos hulle wou. 25Hulle het versterkte stede en ’n vrugbare land ingeneem, huise besit vol allerhande goeie dinge, uitgegroude putte, wingerde en olyfbome en vrugtebome in oorvloed. Hulle het geëet en is versadig en het ryk geword en hulle verheug in U groot goedheid. 26Nogtans was hulle ongehoorsaam en het teen U oortree en U wet uit hulle raadgewings gegooi en U profete doodgemaak wat hulle gewaarsku het om na U terug te draai en hulle het groot boosheid gedoen; 27daarom het U hulle oorgegee in die hand van hulle teëstanders, wat hulle onderdruk het en in die tyd van hulle onderdrukking, toe hulle tot U gebid het, het U uit die hemel gehoor en in U grote omgee aan hulle ’n verlosser gegee wat hulle gered het uit die hand van hul vyande. 28Nadat hulle egter rus gehad het, het hulle weer boosheid gedoen voor U; daarom het U hulle gelos in die hand van hul vyande sodat dié heerskappy oor hulle gehad het. Tog, wanneer hulle teruggekeer en voor U gebid het, het U hulle vanuit die hemel gehoor en hulle baie keer volgens U groot omgee gered. 29U het teenoor hulle getuig dat U hulle weer na U wet toe sal terugbring; tog het hulle verkeerd gedoen en nie U opdragte uitgevoer nie, maar gesondig teen U oordele, (waardeur ’n man sal lewe as hy hulle gehoorsaam), teen U ooreengekom, hardnekkig geword en hulle wou nie luister nie. 30Tog het U hulle baie jare verdra en teenoor hulle getuig deur die Gees, deur middel van U profete, tog wou hulle nie gehoorsaam nie; daarom het U hulle oorgegee in die hand van die ander nasies. 31Nogtans, as gevolg van U groot omgee, het U hulle nie volkome vernietig of hulle verlaat nie, want U is ’n God van onverdiende guns en omgee; 32daarom nou, ons God, die groot, die magtige en die afgesonderde God, wat verbond en waarheid onderhou, laat al die swaarkry wat oor ons, oor ons konings, oor ons prinse, oor ons priesters, oor ons profete, oor ons vaders en oor U hele volk gekom het vanaf die dae van die konings van Ashur tot vandag toe, nie verborge wees vir U nie. 33Nogtans is U regverdig in alles wat oor ons gekom het, want U het reg gedoen, maar ons het boos gedoen. 34Ons konings, ons prinse, ons priesters en ons vaders het ook nie U wet nagekom, of geluister na U opdragte en U getuienisse, waarmee U teen hulle getuig het, nie. 35Hulle het U koninkryk en U groot seën afgesweer wat U aan hulle gegee het, asook die goeie en vrugbare land wat U aan hulle gegee het. Hulle het U ook nie gedien of weggedraai van hulle bose werke nie; 36daarom is ons vandag slawe en wat die land betref wat U aan ons vaders gegee het om van sy vrug en goeie dinge te eet, let op, ons is slawe daarin. 37Sy opbrengs word gevat deur die konings wat U oor ons aangestel het as gevolg van ons sondes; hulle het ook heerskappy oor ons liggame en oor ons vee volgens hulle plesier en ons leef in ’n groot onderdrukking.” 38As gevolg van al hierdie dinge, sluit ons ’n vaste verbond en het getuienis oor die seël: ons oudstes, ons Leviete, ons priesters en almal van ons wat gespaar is. Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission. Bible Hub |