Mattheus 5
Afrikaans PWL
1Toe Hy die skare mense sien, het Yeshua met ’n heuwel opgegaan. Nadat Hy gaan sit het, het Sy studentevolgelinge na Hom toe gekom 2en Hy het Sy mond oopgemaak en hulle geleer en gesê:

3“Hoe uitermate gelukkig is dié wat arm van gees is, want aan hulle behoort die Koninkryk van die hemel.

4Hoe uitermate gelukkig is dié wat treur, want hulle sal vertroos word.

5Hoe uitermate gelukkig is die saggeaardes, want hulle sal die land erf.

6Hoe uitermate gelukkig is dié wat honger en dors na onpartydige opregtheid, want hulle sal versadig word.

7Hoe uitermate gelukkig is dié wat liefdevol omgee, want vir hulle sal liefdevol omgegee word.

8Hoe uitermate gelukkig is dié wat rein van verstand, wil en emosie is, want hulle sal God sien.

9Hoe uitermate gelukkig is die vredemakers, want hulle sal kinders van God genoem word.

10Hoe uitermate gelukkig is dié wat vervolg word omdat hulle onpartydige opregtheid najaag, want aan hulle behoort die Koninkryk van die hemel.

11Hoe uitermate gelukkig is julle wanneer mense julle beledig, vervolg en allerhande bose valshede teen julle praat as gevolg van My. 12Verbly en verheug julle omdat julle beloning groot is in die hemel, want net so het hulle die profete voor julle vervolg.

13Julle is sout vir die land, maar as sout laf geword het, hoe kan dit weer sout gemaak word? Dit is vir niks meer goed nie as om buite gegooi te word vir mense om op te trap.

14Julle is lig vir die wêreld. ’n Dorp wat bo-op ’n berg gebou is, kan jy nie wegsteek nie. 15Hulle steek nie ’n lamp op en sit dit onder ’n mandjie nie, maar op ’n staander sodat dit vir almal wat in die huis is, lig gee. 16Laat julle lig op dieselfde manier skyn voor mense sodat hulle die goeie dinge wat julle doen, kan sien en julle Vader wat in die hemel is eer, lof en aanbidding bring.

17Moenie dink dat Ek gekom het om die Wet of die Profete te ontrafel nie. Ek het nie gekom om te ontrafel nie, maar om volledig uit te lê, 18want dit is waar wat Ek vir julle sê: ‘Totdat die hemel en die aarde verby sal gaan, sal nie een ‘yud’ of een ‘strepie’ van die wet verbygaan voordat dit alles klaar gebeur het nie.’ 19Enige een, wat daarom aan een van die minste van hierdie opdragte ongehoorsaam is en ander só leer, sal die minste genoem word in die Koninkryk van die hemel, maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die Koninkryk van die hemel,

20want Ek sê vir julle dat, as julle onpartydige opregtheid nie baie meer is as dié van die leraars van die wet en die Fariseërs nie, julle sekerlik nie in die Koninkryk van die hemel sal ingaan nie!

21Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: ‘Moenie moord pleeg nie,’ en dat elkeen wat moord pleeg, verantwoording moet doen voor die gereg, 22maar Ek sê vir julle dat elkeen wat sy broer verkeerdelik kwaad maak, veroordeeld is voor die gereg en elkeen wat vir sy broer sê: ‘Ek spoeg op jou!’ (Raka) is veroordeeld voor die vergadering en elkeen wat sê: ‘Jy is ’n lafaard!’ is veroordeeld tot die vuur van die Hel. 23As jy dan jou offer na die altaar toe bring en jy daar onthou dat jou broer iets teen jou hou, 24los jou offer daar by die altaar en gaan herstel die verhouding met jou broer en kom dan en offer jou offer. 25Kom gou tot ’n vergelyk met iemand wat jou hof toe vat terwyl jy nog saam met hom op die pad is sodat hy jou nie miskien oorgee aan die regter en die regter jou oorgee aan die belastinggaarders en jy in die gevangenis gegooi word nie! 26Dit is waar wat Ek vir jou sê, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy nie die laaste deel van ’n sent betaal het nie.

27Julle het gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: ‘Moenie egbreuk pleeg nie,’ 28maar Ek sê vir julle dat ’n man wat na ’n vrou kyk met die doel om haar te begeer, daardie oomblik, egbreuk pleeg met haar in sy gedagtes, wil en emosie. 29As jou regteroog jou laat sondig, ruk dit uit en gooi dit weg! (Verwyder slegte dinge voor jou oë). Dit is vir jou beter dat jy een van jou ledemate verloor as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word. 30As jou regterhand jou laat struikel, kap dit af en gooi dit weg! (As jy verkeerd doen -stop dit). Dit is vir jou beter dat jy een van jou ledemate verloor as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word.

31Daar word gesê: ‘Elkeen wat van sy vrou skei, moet vir haar ’n skeibrief gee,’ 32maar Ek sê vir julle dat enige een wat van sy vrou skei, behalwe as gevolg van seksuele immoraliteit, maak dat sy egbreuk pleeg en elkeen wat ’n geskeide trou, pleeg egbreuk.

33Verder het julle gehoor dat aan die mense van die ou tyd gesê is: ‘Jy moenie jou eed verbreek nie,’ en, ‘jy moet jou beloftes aan יהוה hou,’ 34maar Ek sê vir julle: ‘Lê hoegenaamd nie ’n eed af “by die hemel” nie omdat dit die troon van God is; 35ook nie “by die aarde” nie omdat dit Sy voetstoel is; ook nie “by Yerushalayim” nie omdat dit die stad van die groot Koning is 36en moet ook nie by jou kop ’n eed aflê nie omdat jy nie een haar wit of swart kan maak nie. 37Laat slegs julle ‘Ja’ ’n eenvoudige ‘Ja’ wees en julle ‘Nee’ eenvoudig ‘Nee’. Enige iets meer as dit het sy oorsprong in die Bose een.’

38Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘’n Oog in ruil vir ’n oog en ’n tand in ruil vir ’n tand,’ 39maar Ek sê vir julle dat julle nie moet opstaan teen ’n bose oortreder nie, maar as iemand jou op jou regterwang slaan, draai vir hom ook die linkerwang! 40As iemand jou vir jou hemp wil dagvaar, laat hom die bokleed ook vat 41en as enige een van jou een myl afdwing, loop twee myl saam met hom. 42As iemand jou iets vra, gee dit vir hom en moenie weier as hy van jou wil leen nie.

43Julle het gehoor dat daar vroeër gesê is: ‘Jy moet jou naaste liefhê en jou vyand haat,’ 44maar Ek sê vir julle: ‘Julle moet hulle wat julle haat, liefhê; seën die wat julle vervloek; doen goed aan die wat julle haat en bid oor die wat julle met geweld vat en julle vervolg 45sodat julle kinders kan word van julle Vader wat in die hemel is, want Hy laat Sy son skyn oor bose oortreders en oor goeie mense en Hy stuur reën na onskuldiges en skuldiges. 46Watter beloning ontvang julle as julle net dié liefhet wat vir julle lief is? Selfs die tollenaars doen dit! 47As julle net vriendelik is met julle vriende, wat besonders doen julle dan? Maak die belastinggaarders nie ook so nie? 48Jy moet daarom volmaak wees net soos julle Vader in die hemel volmaak is’.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Matthew 4
Top of Page
Top of Page