Mattheus 20
Afrikaans PWL
1want die Koninkryk van die hemel is soos ’n huiseienaar wat vroeg in die oggend uitgegaan het om werkers vir sy wingerd te huur 2en hy het met die arbeiders ’n ooreenkoms aangegaan vir een denarion as dagloon en hulle na sy wingerd gestuur. 3Ongeveer die derde uur gaan hy uit en sien ander ledig by die mark staan 4en hy sê vir hulle: ‘Gaan julle ook in my wingerd in en ek sal aan julle gee wat reg is’ 5en hulle het gegaan. Hy het weer ongeveer die sesde en die negende uur uitgegaan en dieselfde gedoen. 6Amper op die elfde uur van die dag gaan hy uit en vind nog ander ledig staan en sê vir hulle: ‘Hoekom staan julle die hele dag hier ledig?’ 7Hulle antwoord hom: ‘Omdat niemand ons gehuur het nie.’ Hy sê vir hulle: ‘Gaan julle ook in die wingerd in en wat reg is, sal julle ontvang.’

8Toe die aand aanbreek, sê die eienaar van die wingerd vir sy bestuurder: ‘Roep die arbeiders en betaal hulle hul loon en begin van die laastes af tot by die eerstes.’ 9Die wat omtrent die elfde uur begin het, het gekom en elkeen een denarion ontvang 10en toe die eerstes kom, het hulle gehoop dat hulle meer sal ontvang en hulle het ook elkeen een denarion ontvang. 11Toe hulle dit ontvang het, kla hulle by die huisheer 12en het gesê: ‘Hierdie laastes het een uur gewerk en u het hulle gelyk behandel met ons wat die las van die dag en die hitte gedra het,’ 13maar hy antwoord en sê vir een van hulle: ‘Vriend, ek doen jou geen kwaad aan nie. Het jy nie met my ooreengekom vir een denarion nie? 14Neem joune en gaan. Ek wil aan hierdie laaste groep gee net soos aan jou, 15of is dit nie reg van my om met my eie besittings te maak wat ek wil nie? Het jy ’n bose oog (suinig) omdat ek goed is?’ 16Net so sal die wat laaste is, eerste wees en die wat eerste is, laaste, want baie is geroep, maar min is gekies.”

17Toe Yeshua gereed was om op te gaan na Yerushalayim, het Hy die twaalf studentevolgelinge eenkant geneem op die pad en vir hulle gesê: 18“Let op, ons gaan op na Yerushalayim en die Seun van die mens sal oorgelewer word aan die leierpriesters en leraars van die wet en hulle sal Hom tot die dood veroordeel 19en Hom oorlewer aan die nie-Jode en hulle sal Hom spot, gésel en kruisig en op die derde dag sal Hy opstaan.”

20Toe kom die moeder van die seuns van Zavdai met haar seuns na Hom toe en val voor Hom neer om iets van Hom te vra 21en Hy sê vir haar: “Wat begeer jy?” Sy antwoord Hom: “Sê dat hierdie twee seuns van my in U Koninkryk, een aan U regter- en een aan U linkerhand, mag sit.” 22Yeshua antwoord en sê: “Julle weet nie wat julle vra nie. Kan julle die beker drink wat Ek gereed is om te drink en gedoop word met die doop waarmee Ek gedoop word?” Hulle sê vir Hom: “Ons kan.” 23Hy sê vir hulle: “My beker sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word, maar om te sit aan My regter- en aan My linkerhand is nie Myne om te gee nie, behalwe aan hulle vir wie dit, deur My Vader, voorberei is.”

24Toe die tien dit hoor, was hulle kwaad vir die twee broers. 25Yeshua het hulle geroep en vir hulle gesê: “Julle weet dat die heersers van die nasies baas speel oor hulle en die leiers outoriteit het oor hulle, 26maar só moet dit onder julle nie wees nie, maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees 27en wie ook al tussen julle die eerste wil wees, moet julle slaaf wees; 28net soos die Seun van die mens nie gekom het om bedien te word nie, maar om te dien en Homself as ’n Losprys vir baie te gee.”

29Toe Yeshua uit Yerigo uitgaan, het ’n groot skare mense saam met Hom gegaan 30en let op, twee blindes het langs die pad gesit en toe hulle hoor dat Yeshua verbygaan, skreeu hulle uit en sê: “Ons Meester, gee om vir ons, Seun van Dawid!” 31Die skare het hulle bestraf dat hulle moes stilbly, maar hulle het al harder geskreeu en gesê: “Ons Meester, gee om vir ons, Seun van Dawid!” 32Yeshua het gestop en roep hulle en sê: “Wat wil julle hê moet Ek vir julle doen?” 33Hulle antwoord Hom: “Ons Meester, sodat ons oë geopen mag word.” 34Yeshua het vir hulle baie jammer gevoel en hulle oë aangeraak en in ’n oomblik is hulle oë oopgemaak en hulle het Hom gevolg.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Matthew 19
Top of Page
Top of Page