Markus 3
Afrikaans PWL
1Yeshua het weer die bymekaarkomplek ingegaan en daar was ’n sekere man met ’n verdroogde hand 2en hulle het Hom dopgehou sodat as Hy hom op die Shabbat gesond sou maak, hulle Hom kon aankla. 3Hy sê vir die man met die verdroogde hand: “Staan op tussen hulle.” 4Hy sê ook vir hulle: “Is dit reg volgens die wet om op die Shabbat te doen wat goed is of wat sleg is, om ’n lewe te red of te vernietig?” Hulle was egter stil. 5Terwyl Hy beide met woede en hartseer oor die blindheid van hulle verstand rondkyk na hulle, sê Hy vir die man: “Steek jou hand uit!” en hy het dit uitgesteek en sy hand is genees 6en die Fariseërs het dadelik uitgegaan en saam met die Herodiane teen Hom beraadslag, hoe hulle Hom kon vernietig.

7Yeshua het saam met Sy studentevolgelinge na die meer toe gegaan en baie mense het Hom uit die Galil, Y’hudah, 8Yerushalayim, Iduméa en die gebied oorkant die Yarden gevolg en van rondom Tzor en Tzidon het baie mense na Hom toe gekom toe hulle hoor wat Hy alles doen. 9Hy het vir Sy studentevolgelinge gesê om vir Hom ’n boot te bring vanweë die menigte mense sodat hulle Hom nie kon verdring nie, 10want Hy het baie gesond gemaak totdat hulle Hom toegeval het om aan Hom te raak 11en die wat gepla was deur vuil geeste het, wanneer hulle Hom sien, neergeval en uitgeskreeu en gesê: “U is die Seun van God!” 12Hy het hulle streng bestraf sodat hulle Hom nie openbaar maak nie.

13Hy het by ’n berg opgegaan en die wat Hy wou, na Hom geroep en hulle het na Hom toe gekom. 14Hy het twaalf gekies sodat hulle by Hom kon wees en sodat Hy hulle kon uitstuur om te verkondig 15en dat hulle die outoriteit kon ontvang om siektes te genees en demone uit te dryf. 16Shim’on, vir wie Hy Kefa genoem het, 17Ya’akov, die seun van Zavdai en Yoganan, die broer van Ya’akov; hulle het Hy genoem B’nei-Regesh, dit is: Seuns van donder. 18Andréas, Filippos, Bar-Talmai, Mattityahu, T’oma, Ya’akov, die seun van (Bar-) Halfai, Taddai, Shim’on die jaloerse 19en Y’hudah van K’riot, wat Hom sou verraai. Hulle het in die huis ingegaan

20en weer het ’n menigte mense bymekaargekom sodat hulle nie brood kon eet nie. 21Toe Sy familie dit hoor, gaan hulle uit om beheer oor Hom te neem, want hulle het gesê: “Hy is van Sy verstand af.” 22Die leraars van die wet, wat van Yerushalayim af gekom het, het gesê: “Hy het Ba’al-Z’vuv in Hom,” en: “Deur die heerser van die demone dryf Hy die demone uit.” 23Yeshua het hulle geroep en vir hulle deur vergelykende stories gesê: “Hoe is die teëstander in staat om die teëstander uit te dryf? 24As ’n koninkryk teen homself verdeeld is, is dit nie moontlik vir daardie koninkryk om staande te bly nie 25en as ’n huis teen homself verdeeld is, is dit nie moontlik vir daardie huis om staande te bly nie 26en as hy wat die teëstander is teen homself opstaan en verdeeld is, is dit nie moontlik vir hom om staande te bly nie, maar dit sal sy einde wees. 27Niemand kan in die huis van ’n sterk man ingaan en sy waardevolle besittings roof as hy nie eers die sterk man vasbind nie en dan kan hy sy huis beroof.

28Waarlik, Ek sê vir julle dat alle sondes die kinders van die mens vergewe word en al die kwaadpraat teen God wat hulle mag kwaadpraat, 29maar wie ook al teen die Gees van Afsondering kwaad gepraat het, het geen vergifnis tot in ewigheid nie, maar is skuldig tot ’n ewige oordeel” 30omdat hulle gesê het: “Hy het ’n onrein gees in Hom.”

31Sy broers en Sy moeder het gekom en buite gestaan en iemand gestuur om Hom na hulle toe te roep 32en ’n menigte mense het rondom Hom gesit en hulle sê vir Hom: “U moeder en U broers is buite en soek na U.” 33Hy antwoord en sê vir hulle: “Wie is My moeder en wie is My broers?” 34Hy het gekyk na dié wat rondom Hom sit en gesê: “Let op, My moeder en let op, My broers, 35want wie ook al die wil van God doen, is My broer, My suster en My moeder!”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Mark 2
Top of Page
Top of Page