Markus 14
Afrikaans PWL
1Oor twee dae sou dit Pesag en die Fees van Ongesuurde Brode wees. Die leierpriesters en die leraars van die wet het gesoek hoe hulle Hom slinks kon vang en doodmaak, 2maar hulle het gesê: “Nie tydens die fees nie, want die mense sal in oproer kom.”

3Terwyl Hy in Beit-Anyah was, in die huis van Shim’on, die pottebakker en skuinslê by die tafel, kom daar ’n vrou met ’n alabaste fles met geparfumeerde olie: die beste, baie waardevolle nardussalf en sy maak dit oop en gooi dit oor Yeshua se kop, 4maar daar was sommige van Sy studentevolgelinge wat by hulleself ontevrede was en gesê het: “Hoekom is die geparfumeerde olie gemors, 5want dit kon moontlik vir meer as drie honderd denarii verkoop en die geld aan die armes gegee word?” Hulle was verontwaardig teenoor haar. 6Yeshua sê egter: “Los haar uit. Waarom gee julle haar moeilikheid? Sy het ’n mooi daad vir My gedoen, 7want julle het altyd die armes by julle en wanneer julle so sou kies, kan julle aan hulle goed doen, maar Ek is nie altyd by julle nie. 8Dit wat vir haar moontlik was, het sy gedoen. Sy het vooruit My liggaam vir die begrafnis gesalf. 9Dit is waar, Ek sê vir julle, oral waar hierdie goeie boodskap van My oor die hele wêreld verkondig word, daar sal ook gepraat word van wat sy gedoen het, tot ’n nagedagtenis aan haar.”

10Y’hudah van K’riot, een van die twaalf, het na die leierpriesters gegaan met die doel om Hom aan hulle oor te lewer. 11Toe hulle dit hoor, was hulle bly en het belowe om hom geld te gee en hy het na ’n geleentheid gesoek om Hom oor te lewer.

12Op die eerste dag van die verwydering van suurdeeg, waarop die Jode gewoonlik die Pesaglam geslag het, sê Sy studentevolgelinge vir Hom: “Waar wil U hê moet ons vir U gaan voorberei dat U die Pesag kan eet?” 13Hy stuur twee van Sy studentevolgelinge en sê vir hulle: “Gaan na die stad toe en let op, ’n man wat ’n kruik water dra, sal julle ontmoet. Gaan agter hom aan 14en waar hy ook mag ingaan, moet julle vir die meester van die huis sê: die Leermeester vra: ‘Waar is die vertrek waar Ek met My studentevolgelinge die Pesag kan eet?’ 15Let op, hy sal vir julle ’n groot bovertrek wys, klaar gereed gemaak. Daar moet julle vir ons voorberei.” 16Sy studentevolgelinge het gegaan en in die stad gekom en dit gevind net soos Hy vir hulle gesê het en hulle het die Pesag voorberei.

17Toe dit aand was, het Hy saam met die twaalf gekom 18en terwyl hulle skuinslê aan tafel en eet, sê Yeshua: “Dit is waar, Ek sê vir julle, een van julle, wat saam met My eet, sal My oorlewer.” 19Toe het hulle begin moedeloos word en een vir een vir Hom gevra: “Is dit miskien ek?” 20Hy antwoord en sê vir hulle: “Een van die twaalf wat saam met My indoop in die gereg. 21Die Seun van die mens gaan net soos daar van Hom geskrywe is, maar wee daardie man deur wie se hand die Seun van die mens oorgelewer word! Dit sou vir die man beter gewees het as hy nie gebore is nie.”

22Terwyl hulle eet, vat Yeshua ongesuurde brood, dank, breek dit en gee dit vir hulle en sê: “Vat, hierdie is My liggaam.” 23Hy vat ’n beker, dank, seën dit en gee dit vir hulle en hulle het almal daaruit gedrink. 24Hy sê vir hulle: “Hierdie is My bloed van die nuwe verbond, wat in ruil vir baie uitgestort word. 25Dit is waar, Ek sê vir julle, Ek sal nie weer van die vrug van die wingerd drink tot op daardie dag dat Ek dit nuut sal drink in die Koninkryk van God nie.”

26Hulle het lofsange gesing en uitgegaan na die Olyfberg

27en Yeshua sê vir hulle: “Julle sal almal in hierdie nag skaam wees vir My, want daar is geskrywe: ‘Ek sal die Skaapwagter slaan en die skape sal verstrooi word,’ 28maar wanneer Ek opgestaan het, sal Ek voor julle uitgaan na die Galil.” 29Kefa sê vir Hom: “As almal sou skaam wees vir U, nie ek nie.” 30Yeshua sê vir hom: “Dit is waar, Ek sê vir jou, vandag, in hierdie nag voordat die haan twee maal kraai, sal jy drie maal ontken dat jy My ken,” 31maar hy het meer en meer aangehou en gesê: “Al moet ek saam met U doodgemaak word, ek sal U nooit ontken nie, my Meester.” Almal het net soos hy gepraat.

32Hulle het gekom by die plek wat genoem word Gat-Sh’manim en Hy sê vir Sy studentevolgelinge: “Sit hier terwyl Ek gaan bid.” 33Hy vat vir Kefa, Ya’akov en Yoganan saam met Hom en het hoogs ontsteld en swaarmoedig begin word 34en Hy sê vir hulle: “My gees is tot die dood toe bedroef; bly hier en wees waaksaam.” 35Hy gaan ’n bietjie verder, val op die grond en bid dat, as dit moontlik was, dié uur by Hom sou verbygaan 36en Hy sê: “Vader, My Vader, alle dinge is vir U moontlik; laat hierdie beker by My verbygaan; nogtans nie My wil nie, maar U wil.” 37Hy kom en vind hulle terwyl hulle slaap en sê vir Kefa: “Shim’on, slaap jy? Was jy nie in staat om een uur te waak nie? 38Waak en bid dat julle nie getoets word nie. Die gees is wel gewillig en gereed, maar die vlees is swak.” 39Weer het Hy gegaan en dieselfde woorde gebid 40en toe Hy terugkom, vind Hy hulle weer terwyl hulle slaap, want hulle oë was swaar en hulle het nie geweet wat om vir Hom te sê nie. 41Hy kom vir die derde keer en sê vir hulle: “Slaap nou maar en rus. Dit is genoeg! Die einde en die uur het gekom. Let op, die Seun van die mens is oorgelewer in die hande van die sondaars. 42Staan op, laat ons gaan. Let op, hy wat My oorgee, is naby.”

43Terwyl Hy nog praat, kom Y’hudah, van K’riot, wat een van die twaalf was en saam met hom baie mense met swaarde en stokke, gestuur deur die leierpriesters, die leraars van die wet en die oudstes. 44Die een wat Hom sou oorgee, het ’n teken met hulle afgespreek en gesê: “Die een wat ek sal soen, is Hy; gryp Hom en neem Hom onder bewaking weg.” 45Toe hy naderkom, gaan hy dadelik na Hom toe en sê: “Leermeester, Leermeester!” en soen Hom. 46Hulle het hul hande aan Hom geslaan en Hom gegryp, 47maar een van die wat naby gestaan het, het sy swaard uitgetrek en die slaaf van die hoofpriester geslaan en sy oor afgekap. 48Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Het julle soos teen ’n rower gekom met swaarde en stokke om My te vang? 49Ek was elke dag by julle in die tempel en het geleer en julle het My nie gevang nie, maar hierdie het gebeur dat die Skrifte vervul sou word.” 50Toe het Sy studentevolgelinge Hom in die steek gelaat en gevlug.

51’n Jongman het ’n linne kleed om sy kaal lyf gegooi en Hom gevolg en hulle het hom gegryp, 52maar hy het die linne kleed agtergelaat en kaal gevlug.

53Hulle het Yeshua na Kayafa, die hoofpriester, gebring en al die leierpriesters en die oudstes en die leraars van die wet by hom bymekaargebring, 54maar Shim’on het Hom op ’n afstand gevolg tot binne-in die voorhof van die hoof-priester en het saam met die diensknegte gaan sit en hom by die vuur warm gemaak. 55Die leierpriesters en almal wat vergader het, het getuienis teen Yeshua gesoek om Hom dood te maak en hulle het niks gekry nie 56terwyl baie teen Hom getuig het, was hulle getuienisse nie aanvaarbaar nie. 57Mense het teen Hom opgestaan en leuens teen Hom getuig en gesê: 58“Ons het Hom hoor sê: ‘Ek sal hierdie tempel wat met hande gemaak is, afbreek en in drie dae ’n ander een bou wat nie met hande gemaak is nie’” 59en selfs hieroor was hulle getuienis nie aanvaarbaar nie. 60Die hoofpriester het opgestaan tussen hulle en vir Yeshua gevra en gesê: “Antwoord U nie een van die wat getuienis teen U bring nie?” 61Hy was egter stil en het niks geantwoord nie. Weer vra die hoofpriester vir Hom en sê: “Is U Die Gesalfde Een, die Seun van Die Geseënde Een (Bar-HaM’vorakh)?” 62Yeshua sê vir hom: “ אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees en julle sal die Seun van die mens aan die regterhand van Die Krag (HaG’vurah) sien sit en kom met die wolke vanaf die hemel.” 63Die hoofpriester skeur sy klere in twee en sê: “Hoekom het ons nog getuienis nodig! 64Let op, uit Sy mond het julle die godslastering gehoor; hoe lyk dit vir julle?” Almal van hulle het geoordeel dat Hy die doodsvonnis verdien 65en sommige het begin om Hom in die gesig te spoeg en sy gesig toe te maak en Hom te slaan en vir Hom te sê: “Profeteer!” en die soldate het Hom op Sy ken geslaan.

66Terwyl Kefa onder in die binneplaas was, kom daar ’n sekere slavin van die hoofpriester 67en sy sien vir Kefa, besig om hom warm te maak en kyk stip na hom en sê: “Jy was ook by die Natzerener, Yeshua,” 68maar hy het dit ontken en gesê: “Ek weet nie wat jy sê nie” en hy het na buite, na die stoep, gegaan en die haan het gekraai. 69Daardie slavin het hom weer gesien en begin om aan die wat daar staan, te sê dat hy een van hulle is, 70maar hy het dit weer ontken en ’n bietjie later sê die wat daar staan weer vir Kefa: “Waarlik, jy behoort by hulle, want jy is ook van die Galil en jou spraak is dieselfde.” 71Toe begin hy vloek en sweer: “Ek ken nie daardie man, van wie julle praat nie” 72en op daardie oomblik kraai die haan vir die tweede keer en Shim’on het die woord onthou wat Yeshua vir hom gesê het: “Voor die haan twee maal gekraai het, sal jy drie maal ontken dat jy My ken” en hy het begin huil.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Mark 13
Top of Page
Top of Page