Markus 12
Afrikaans PWL
1Hy het begin om deur ’n vergelykende storie vir hulle te sê: “’n Sekere man het ’n wingerd geplant, ’n heining rondom gesit, ’n parskuip gegrawe, ’n wagtoring gebou, die sorg daarvan aan werkers oorgegee en na ’n ander land gegaan. 2In die tyd dat hy vrugte van die wingerd kon ontvang, stuur hy sy slaaf na die werkers toe, 3maar hulle het hom gevat en geslaan en hom met niks weggestuur. 4Weer het hy ’n ander slaaf na hulle toe gestuur en op dieselfde manier het hulle hom met klippe gegooi en gewond en hom in skande weggestuur. 5Weer het hy ’n ander een gestuur en hom het hulle doodgemaak. Ook baie ander, sommige het hulle geslaan en ander doodgemaak. 6Hy het ook nog een seun gehad, vir wie hy baie lief was en hom laaste na hulle toe gestuur en gesê: ‘Hulle sal skaam wees voor my seun.’ 7Daardie werkers het egter by hulleself gesê: ‘Dit is die erfgenaam; laat ons hom doodmaak en die erfenis sal ons s’n wees.’ 8Hulle het hom gevat en doodgemaak en buitekant die wingerd uitgegooi. 9Wat sal die meester van die wingerd dan doen? Hy sal kom en die werkers vernietig en die wingerd aan ander gee.

10Het julle selfs ook nie hierdie Skrif gelees nie: ‘Die Steen wat die bouers verwerp het, dit het ’n Hoeksteen geword?

11Hy het van die Teenwoordigheid van יהוה af gekom en dit is wonderlik in ons oë’.”

12Hulle het gesoek om Hom te vang, want hulle het verstaan dat Hy die vergelykende storie aangaande hulle vertel het, maar was bang vir die mense en hulle het Hom gelos en weggegaan.

13Sommige van die leraars van die wet en van die Herodiane het na Hom toe gestuur om Hom te vang op wat Hy sê. 14Hulle kom en sê vir Hom: “Leermeester, ons weet dat U Waarheid is en U aan niemand steur nie, want U sien nie die persoon van mense raak nie, maar U leer die lewenswyse van God in waarheid. Is dit reg volgens die wet om aan die keiser belasting te betaal of nie? Moet ons betaal of nie?” 15Hy het egter hulle valsheid geken en vir hulle gesê: “Waarom toets julle My? Bring vir My ’n denarion dat Ek dit kan sien.” 16Hulle het dit gebring en Hy sê vir hulle: “Wie se beeld en inskripsie is die?” Hulle antwoord Hom: “Die keiser s’n.” 17Toe antwoord Yeshua en sê vir hulle: “Gee aan die keiser wat die keiser s’n is en aan God wat God s’n is” en hulle was verwonderd oor Hom.

18Die Saduseërs kom ook na Hom toe, dié wat sê dat daar geen opstanding uit die dood is nie en hulle vra Hom en sê: 19“Leermeester, Moshe het vir ons geskryf dat as iemand se broer doodgaan en ’n vrou agterlaat en geen seuns nalaat nie, moet sy broer sy vrou vat en seuns hê ter wille van sy broer. 20Daar was sewe broers en die eerste het ’n vrou geneem en doodgegaan sonder om ’n seun na te laat 21en die tweede het haar gevat en gesterf en hy het ook geen seuns nagelaat nie en die derde net so. 22Al sewe het haar gevat en geen seuns nagelaat nie. Laaste van almal is die vrou ook dood. 23In die opstanding dan, wie van hulle se vrou sal sy wees, want al sewe het haar as vrou gehad?” 24Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Is dit nie die rede hoekom julle dwaal nie: dat julle die Skrifte en ook die krag van God nie ken nie? 25Wanneer hulle uit die dood opstaan, vat hulle nie vrouens nie en word hulle nie mans se vrouens nie, maar is hulle net soos die engele in die hemel. 26Wat die opstaan van dooies betref, het julle nie gelees in die Skrifte van Moshe hoedat God vir hom vanaf die doringbos gesê het: ‘ אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, die God van Avraham, die God van Yitz’gak en die God van Ya’akov nie?’ 27Hy is nie God van die dooies nie, maar God van lewendes. Daarvolgens dwaal julle grootliks.”

28Een van die leraars van die wet, wat nadergekom het en gehoor het wat hulle bespreek, sien dat Hy hulle goed geantwoord het en hy vra vir Hom: “Watter een is die eerste opdrag van almal?” 29Yeshua antwoord hom: “Die eerste van al die opdragte is: ‘Luister, hoor en doen Yisra’el, יהוה is ons God, יהוה is Een’ 30en: ‘jy moet יהוה, jou God, liefhê vanuit jou hele verstand, wil en emosie; vanuit jou hele gees; vanuit al jou begrip en verbeelding en vanuit al jou krag.’ Dit is die eerste opdrag 31en die tweede, wat net soos hy is, is: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander opdrag groter as hierdie nie’.” 32Die leraar van die wet sê vir Hom: “Uitstekend, Leermeester, U het met waarheid gesê dat God Een is en dat daar geen ander is behalwe Hy nie 33en om Hom lief te hê vanuit die hele verstand, wil en emosie, vanuit die hele gees, vanuit al die begrip en verbeelding en vanuit al die kragte en om die naaste lief te hê soos jouself, is belangriker as enige brandoffers en offerandes.” 34Toe Yeshua sien dat hy wyslik geantwoord het, sê Hy vir hom: “Jy is nie ver van die Koninkryk van God nie” en niemand het verder gewaag om aan Hom vrae te stel nie.

35Terwyl Yeshua in die tempel leer, vra Hy en sê: “Hoe is dit dat die leraars van die wet sê dat Die Gesalfde Een die Seun van Dawid is,

36want Dawid self het deur die Gees van Afsondering gesê: ‘יהוה het vir my Meester gesê: ‘Sit aan My regterkant totdat Ek U vyande ’n voetbank onder U voete gemaak het’.’

37Daarvolgens noem Dawid self Hom “my Meester;” waarvandaan is Hy dan sy seun?” Baie mense het met plesier na Hom geluister

38en Hy het vir hulle in Sy leringe gesê: “Pas op vir daardie leraars van die wet wat daarvan hou om in lang klere rond te loop, 39hou van die beste sitplekke in die bymekaarkomplekke en die beste plekke by die feeste en hou van groete op die strate, 40hulle wat die huise van die weduwees verslind (opeis) as ’n offerande en hulle gebede lank uitrek. Hulle sal ’n groter oordeel ontvang.”

41Toe Yeshua naby die skatkamer gaan sit, sien Hy hoe die mense geld in die skatkamer ingooi en baie rykes het baie ingegooi. 42Daar kom een arm weduwee en gooi twee klein geldstukkies in, wat saam, ’n quadrans is. 43Yeshua roep Sy studentevolgelinge na Hom toe en sê vir hulle: “Dit is waar, Ek sê vir julle, hierdie arm weduwee het meer ingegooi as almal wat in die skatkamer ingegooi het, 44want hulle het almal uit hulle oorvloed ingegooi, maar sy het uit haar gebrek ingegooi, alles wat sy gehad het.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Mark 11
Top of Page
Top of Page