Markus 10
Afrikaans PWL
1Hy het opgestaan en daarvandaan na die anderkant van die Yarden, na die grens van Y’hudah gegaan. ’n Menigte mense het by Hom saamgekom en, soos Sy gewoonte was, het Hy hulle weer geleer.

2Die Fariseërs het na Hom toe gekom om Hom te toets en hulle vra Hom of dit reg is volgens die wet vir ’n man om van sy vrou te skei? 3Hy sê vir hulle: “Wat het Moshe julle beveel?” 4Hulle het gesê: “Moshe het ons toegelaat om met die skrywe van ’n skeibrief te skei.” 5Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Ter wille van die hardheid van julle harte het hy vir julle hierdie opdrag geskryf, 6maar aanvanklik, van die skepping af, het God hulle man en vrou gemaak. 7Om hierdie rede sal die man sy vader en moeder agterlaat en vashou aan sy vrou 8en hulle twee sal een vlees wees sodat hulle daarna nie meer twee nie, maar een vlees is. 9Dit wat God dan so verenig het, mag geen mens skei nie.”

10In die huis het Sy studentevolgelinge Hom weer oor hierdie saak gevra 11en Hy sê vir hulle: “Wie van sy vrou skei en ’n ander trou, pleeg egbreuk 12en as ’n vrou haar man skei en aan ’n ander behoort, pleeg sy egbreuk.”

13Hulle het kinders na Hom toe gebring sodat Hy hulle kon aanraak en die studentevolgelinge het dié wat hulle gebring het, aangespreek, 14maar toe Yeshua dit sien, was dit vir Hom boos en Hy sê vir hulle: “Laat die kinders na My toe kom en moet hulle nie verbied nie, want dié wat soos hulle is, is die Koninkryk van God. 15Dit is waar, Ek sê vir julle, elkeen wat nie die Koninkryk van God soos ’n kind ontvang nie, sal nie daar ingaan nie.” 16Hy het hulle in Sy arms opgetel, Sy hande op hulle gelê en hulle geseën.

17Toe Hy op die pad gereis het, hardloop een en val op die knieë neer en vra Hom: “Goeie Leermeester, wat moet ek doen om die ewige lewe te erf?” 18Yeshua sê vir hom: “Waarom noem jy My goed? Daar is nie een goed nie, behalwe net Een, God. 19Jy ken die wet: jy mag nie egbreuk pleeg nie, jy mag nie moord pleeg nie, jy mag nie steel nie, jy mag nie valse getuienis gee nie, jy mag nie bedrog pleeg nie; eer jou vader en moeder,” 20maar hy antwoord en sê vir Hom: “Leermeester, al hierdie dinge het ek gehoorsaam van my jeug af.” 21Yeshua het na hom gekyk en was lief vir hom en sê vir hom: “Een ding kom jy kort. Gaan verkoop alles wat jy het en gee dit aan die armes en jy sal ’n skat in die hemel hê; kom dan hier, neem die kruis op en volg My.” 22Hy het egter treurig geword oor dié woord en bedroef weggegaan, want hy het baie rykdom gehad.

23Yeshua kyk rond en sê vir Sy studentevolgelinge: “Hoe moeilik is dit vir hulle wat rykdom besit, om in die Koninkryk van God in te gaan!” 24Die studentevolgelinge was verstom oor Sy woorde en Yeshua antwoord weer en sê vir hulle: “Seuns! Hoe moeilik is dit vir die wat op hulle rykdom staatmaak, om in die Koninkryk van God in te gaan! 25Dit is makliker vir ’n kameelhaartou om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryke om in die Koninkryk van God in te gaan.” 26Hulle was uitermate verbaas en het vir mekaar gesê: “Wie is in staat om gered te word?” 27Yeshua het stip na hulle gekyk en vir hulle gesê: “By mense is dit onmoontlik, maar nie by God nie, want by God is alle dinge moontlik.”

28Kefa begin en sê: “Let op, ons het alles verlaat en aan U vasgehou.” 29Yeshua antwoord en sê: “Dit is waar, Ek sê vir julle, daar is niemand wat huis of broers of susters of vader of moeder of vrou of kinders of grond ter wille van My en van My goeie boodskap verlaat het nie, 30of hy ontvang nou in hierdie tyd honderd maal soveel huise, broers, susters, moeders, kinders en grond, saam met vervolginge en in die wêreld wat kom, die ewige lewe, 31maar baie wat eerste is, sal laaste wees en die wat laaste is, eerste.”

32Toe hulle op die pad was wat opgegaan het na Yerushalayim, het Yeshua voor hulle uitgegaan en hulle was verstom. Hulle wat gevolg het was in respekvolle vrees. Hy het die twaalf by Hom gevat en aan hulle die dinge wat op die punt staan om met Hom te gebeur, begin vertel. 33“Let op, ons gaan op na Yerushalayim en die Seun van die mens sal oorgegee word aan die leierpriesters en die leraars van die wet en hulle sal Hom tot die dood veroordeel en Hom oorgee aan die nie-Jode. 34Hulle sal Hom spot, Hom gésel, in Sy gesig spoeg, Hom doodmaak en op die derde dag sal Hy opstaan.”

35Ya’akov en Yoganan, die seuns van Zavdai, het na Hom toe gekom en gevra: “Leermeester, ons begeer dat U vir ons doen wat ons U vra.” 36Hy sê vir hulle: “Wat moet Ek vir julle doen?” 37Hulle antwoord Hom: “Gee aan ons dat een aan U regterkant en een aan U linkerkant mag sit in U plek van eer, lof en grootheid.” 38Yeshua sê vir hulle: “Julle verstaan nie wat julle vra nie. Is julle in staat om van die beker te drink wat Ek drink en gedoop te word met die doop waarmee Ek gedoop word?” 39Hulle antwoord Hom: “Ons is in staat,” maar Yeshua sê vir hulle: “Die beker wat Ek drink, sal julle drink en met die doop waarmee Ek gedoop word, sal julle gedoop word, 40maar om te sit aan My regterkant en aan My linkerkant, is nie vir My om te gee nie, behalwe aan hulle vir wie dit voorberei is.”

41Toe die tien dit hoor, begin hulle ernstig kla oor Ya’akov en Yoganan, 42maar Yeshua het hulle na Hom toe geroep en vir hulle gesê: “Julle is bewus daarvan dat die wat beskou word as heersers oor die nasies, oor hulle baasspeel en dat hulle groot manne outoriteit het oor hulle, 43maar so moet dit onder julle nie wees nie, maar die wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees 44en die wat onder julle die eerste wil word, moet almal se slaaf wees, 45want selfs die Seun van die mens het ook nie gekom om bedien te word nie, maar om te dien en Sy lewe te gee as ’n losprys vir baie.”

46Hulle het in Yerigo gekom en toe Yeshua, Sy studentevolgelinge en ’n groot menigte mense uit Yerigo uitgaan, sit Timai, die seun van Timai (Bar-Timai), ’n blinde man, langs die pad en bedel. 47Toe hy hoor dat dit Yeshua van Natzeret was, begin hy om uit te roep en te sê: “Seun van Dawid, Yeshua, gee om vir my!” 48Baie het hom aangespreek dat hy moet stilbly, maar hy het al harder uitgeroep: “Seun van Dawid, gee om vir my!” 49Yeshua gaan staan en sê dat hy geroep moes word en hulle roep die blinde en sê vir hom: “Wees bemoedig, staan op! Hy roep jou.” 50Die blinde man gooi sy kleed af, staan op en kom na Yeshua toe. 51Yeshua sê vir hom: “Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” Die blinde sê vir Hom: “Leermeester, dat ek kan sien.” 52Yeshua sê vir hom: “Sien! Jou vertroue het jou gered.” Dadelik het dit duidelik geword en hy het op die pad weggegaan.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Mark 9
Top of Page
Top of Page