Maleagi 2
Afrikaans PWL
1“Nou, hierdie opdrag is vir julle, o priesters: 2as julle nie luister en doen nie en as julle dit nie ernstig opneem om eer aan My Naam (Karakter en Outoriteit) te gee nie,” sê יהוה-Tzva’ot, “dan sal Ek die vloek onder julle stuur en julle seëninge vervloek en inderdaad, Ek het dit alreeds vervloek omdat julle dit nie ernstig opneem nie. 3Let op, Ek sal julle nasate bestraf en Ek sal vuilgoed oor julle gesigte strooi, die vuilgoed van julle feeste en julle sal saam met dit weggevat word, 4dan sal julle weet dat Ek hierdie opdrag vir julle gestuur het sodat My verbond met Levi kan voortgaan,” sê יהוה-Tzva’ot. 5“My verbond met hom was lewe en vrede en Ek het dié aan hom gegee tot respekvolle vrees; so het hy My respekvol gevrees en in ontsag vir My Naam (Karakter en Outoriteit) gestaan. 6Ware instruksie was in sy mond en partydigheid en onreg is nie op sy lippe gevind nie; hy het in vrede en opregtheid saam met My geloop en hy het baie mense teruggedraai van onregverdigheid af, 7want die lippe van ’n priester moet kennis bewaar en mense moet instruksie uit sy mond soek, want hy is die boodskapper van יהוה-Tzva’ot. 8Júlle het egter van die pad afgewyk, julle het baie deur die instruksies laat struikel; julle het die verbond met Levi korrup gemaak,” sê יהוה-Tzva’ot. 9“So het Ek julle ook veragtelik en vernederd voor al die mense gemaak, net soos julle nie My lewenswyse hou nie, maar partydigheid wys deur die instruksies.”

10Het ons nie almal een Vader nie? Het een God ons nie geskape nie? Waarom handel ons verraderlik elkeen teenoor sy broer, om so die verbond van ons vaders te onteer? 11Y’hudah het verraderlik gehandel en ’n verwerplikheid is in Yisra’el en in Yerushalayim gedoen, want Y’hudah het die Afgesonderde Plek van יהוה onteer, wat Hy liefhet en die dogter van ’n vreemde god getrou. 12יהוה sal die man wat dit doen vernietig, asook sy seun en sy seun se seun uitroei uit die tente van Ya’akov en hy sal niemand hê om die offer aan יהוה-Tzva’ot te bring nie.

13“Hierdie is nog iets wat julle doen; julle bedek die altaar van יהוה met trane, met gehuil en gekreun omdat Hy nie langer die offer ag nie en dit nie van julle hand aanvaar met guns nie. 14Tog vra julle: ‘Om watter rede?’ Omdat יהוה Getuie is tussen jou en die vrou van jou jeug teenoor wie jy verraderlik opgetree het, alhoewel sy jou metgesel is en jou vrou deur die verbond. 15Nie een mens wat iets van die Gees oor het, maak so nie en wat het hy gedoen terwyl hy ’n Goddelike nageslag gesoek het? Neem julle gees in ag en laat nie een verraderlik optree teenoor die vrou van sy jeug nie, 16want Ek haat egskeiding,” sê יהוה, die God van Yisra’el “en hom wat dit wat verkeerd is met sy kleed bedek,” sê יהוה-Tzva’ot. “Neem julle dan jul gees in ag dat julle nie verraderlik optree nie.”

17Julle het יהוה vermoei met julle woorde. Nogtans vra julle: “Waarmee vermoei ons Hom?” Deurdat julle sê: “Elkeen wat boosheid doen, is goed in die oë van יהוה en Hy is bly oor hulle;” of, “waar is die God van regverdige oordeel?”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Malachi 1
Top of Page
Top of Page