Lukas 17
Afrikaans PWL
1Yeshua sê vir Sy studentevolgelinge: “Dit is onmoontlik dat die geleenthede om te struikel nie sal kom nie, maar wee hom deur wie hulle kom. 2Dit is beter vir hom as ’n maalsteen vir ’n donkie om sy nek gehang en hy in die see gegooi word, as dat hy een van hierdie kleintjies sou laat struikel. 3Beskerm julle lewens. As jou broer sou sondig, bestraf hom en as hy berou het en omdraai, vergewe hom 4en as hy sewe maal op ’n dag teen jou sondig en sewe maal op ’n dag na jou toe terugkom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.”

5Die afgevaardigdes vra vir die Meester: “Vermeerder ons vertroue.” 6Hy sê vir hulle: “As julle vertroue gehad het soos ’n mosterdsaad, sou julle vir hierdie wildevyeboom sê: ‘Word ontwortel en in die see geplant’ en hy sou aan julle gehoorsaam wees.

7Wie is daar van julle wat ’n slaaf het wat ploeg of vee oppas en as hy inkom van die veld af vir hom sal sê: ‘Kom sit dadelik aan by die tafel?’ 8Hy sê eerder vir hom: ‘Berei my aandete voor, trek jou voorskoot aan en bedien my totdat ek klaar geëet en gedrink het en daarna kan jy eet en drink.’ 9Bedank hy daardie slaaf omdat hy gedoen het wat hom beveel is? Ek dink nie so nie. 10So ook julle, wanneer julle alles gedoen het wat julle beveel is, moet julle sê: ‘Ons is onwaardige slawe, want ons het slegs gedoen wat ons verplig was om te doen’.”

11Dit was so dat Yeshua deur Shomron na die Galil gegaan het op sy reis na Yerushalayim. 12Toe Hy naderkom om in ’n sekere dorpie in te gaan, kom tien melaatse mans, wat op ’n afstand gebly het, na Hom toe 13en hulle het hulle stemme verhef en gesê: “Yeshua, ons Leermeester, gee om vir ons!” 14Toe Hy hulle sien, sê Hy vir hulle: “Gaan wys julleself aan die priesters.” Terwyl hulle weggaan, het hulle rein geword. 15Toe een van hulle sien dat hy rein was, het hy teruggegaan na Hom toe en met ’n harde stem eer aan God gegee, 16op sy gesig neergeval by Yeshua se voete en Hom gedank en hy was van Shomron. 17Yeshua antwoord en sê: “Is daar nie tien wat rein geword het nie en waar is die nege? 18Het hulle nagelaat om eer, lof en aanbidding aan God te kom gee, behalwe hierdie vreemdeling?” 19Hy sê vir hom: “Staan op en gaan; jou vertroue het jou genees.”

20Toe sommige Fariseërs hom vra wanneer die Koninkryk van God kom, het Hy hulle geantwoord en gesê: “Die Koninkryk van God kom nie sigbaar nie 21en hulle sal ook nie sê: ‘Let op, dit is hier!’ of: ‘Let op, dit is daar!’ nie, want let op, die Koninkryk van God is in sommige van julle.”

22Hy sê vir Sy studentevolgelinge: “Die tyd sal kom wanneer julle sal begeer om een van die dae van die Seun van die mens te sien en julle sal dit nie sien nie 23en as hulle vir julle sal sê: ‘Hier is Hy!’ of: ‘Daar is Hy,’ moenie gaan nie, 24want presies net soos die weerlig wat aan die hemel blits en alles onder die hemel word verlig, net so sal die Seun van die mens op Sy dag wees, 25maar eers moet Hy baie lyding ervaar en verwerp word deur hierdie geslag. 26Net soos dit was in die dae van Noag, net so sal dit ook wees in die dae van die Seun van die mens: 27hulle het geëet, gedrink, getrou en in die huwelik weggegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het, die vloed gekom en almal vernietig het. 28Ook net so was dit in die dae van Lot: hulle het geëet, gedrink, gekoop, verkoop, geplant en gebou, 29maar op die dag toe Lot uit S’dom weggegaan het, het יהוהvuur en swawel vanuit die hemel laat reën en almal vernietig. 30Net so sal dit wees in daardie dag wanneer die Seun van die mens openbaar word. 31In daardie dag moet hy wat op die dak is en sy besittings in die huis, nie afkom om dit weg te vat nie en so ook moet hy wat op die landery is, nie terugdraai nie. 32Onthou die vrou van Lot! 33Wie ook al kies om sy lewe te red, sal dit verloor en elkeen wat dit self verloor, sal dit vind. 34Ek sê vir julle: ‘In daardie nag sal daar twee op een bed wees; die een sal weggevoer word en die ander een sal gelos word. 35Twee vroue sal saam maal; die een sal weggevoer word en die ander een gelos word. 36Twee sal op die landery wees; die een sal weggevoer word en die ander een gelos word’.” 37Hulle antwoord en sê vir Hom: “Waarheen, ons Meester?” Hy sê vir hulle: “Waar ook al die karkasse lê, daar sal die aasvoëls saamkom.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Luke 16
Top of Page
Top of Page