Lukas 14
Afrikaans PWL
1Toe Hy in die huis van een van die leiers van die Fariseërs ingegaan het om brood te eet op die Shabbat, het hulle Hom fyn dopgehou. 2Let op, daar was ’n man wat van water geswel was voor Hom. 3Yeshua het gepraat en vir die leraars van die wet en die Fariseërs gesê: “Sekerlik is dit reg volgens die wet om op die Shabbat te genees?” 4Hulle het egter stilgebly. Toe vat Hy aan hom, maak hom gesond en laat hom gaan. 5Hy sê vir hulle: “Wie van julle se seun of os sal op die Shabbat in ’n put val, wat dit nie dadelik sal uittrek nie?” 6Hulle was nie in staat om Hom daarop te antwoord nie.

7Toe Hy sien hoe hulle die beste plekke uitkies, vertel Hy aan die gaste ’n vergelykende storie: 8“Wanneer jy deur iemand na ’n fees uitgenooi is, moenie op die belangrikste plek gaan sit nie, ingeval hy iemand daar wil laat sit wat waardiger is as jy 9en hy wat jou en hom genooi het, kom en vir jou sê: ‘Maak plek vir hierdie man.’ Jy sal dan met skaamte opstaan en op die agterste plek gaan sit, 10maar wanneer jy genooi is, gaan sit op die agterste plek sodat wanneer hy kom wat jou genooi het, vir jou kan sê: ‘Vriend, gaan op na ’n meer eerbare posisie!’ Dan sal jy eer en lof hê voor almal wat saam met jou aan tafel is, 11want elkeen wat homself oplig, sal verneder word en wie homself verneder, sal opgelig word.”

12Hy sê ook vir die man wat Hom genooi het: “Wanneer jy ’n fees of aandete gee, moenie jou vriende of jou broers of familie of ryk bure nooi nie sodat hulle jou nie miskien ook eendag weer kan nooi en jy so jou beloning ontvang nie, 13maar wanneer jy ’n ontvangs hou, nooi armes, verminktes, kreupeles en blindes 14en jy sal gelukkig wees omdat hulle niks het om jou mee terug te betaal nie, want dit sal jou beloon word in die opstanding van die onskuldiges.”

15Toe een wat daar sit, dit hoor, sê hy vir Hom: “Gelukkig is hy wat brood eet in die Koninkryk van God.”

16Yeshua sê vir hom: “’n Man het ’n groot ete gegee en baie mense uitgenooi. 17Op die tyd van die ete het hy sy slaaf uitgestuur om vir die genooides te sê: ‘Kom, let op, alles is nou gereed.’ 18Almal het hulleself eenparig begin verskoon. Die eerste het vir hom gesê: ‘Ek het ’n stuk grond gekoop en ek moet noodgedwonge uitgaan om daarna te kyk. Ek vra u om my te verskoon.’ 19’n Ander een het gesê: ‘Ek het vyf paar osse gekoop en gaan hulle toets. Ek vra u om my te verskoon.’ 20’n Ander een het gesê: ‘Ek het ’n vrou getrou en daarom kan ek nie kom nie.’ 21Daardie slaaf het gekom en dié dinge aan sy werkgewer vertel. Toe het die eienaar van die huis kwaad geword en vir sy slaaf gesê: ‘Gaan haastig uit na die markplein en die strate van die stad en bring die armes, verminktes, kreupeles en blindes in hierheen’. 22Die slaaf het gesê: ‘My meester, wat u beveel het, is gedoen en daar is nog plek.’ 23Toe sê die meester vir die slaaf: ‘Gaan uit op die hoofpaaie en na die grense en oortuig hulle om in te kom sodat my huis vol kan wees, 24want ek sê vir julle dat nie een van daardie mense wat genooi is, van my ete sal proe nie.’”

25Baie mense het saam met Hom geloop en Hy het Hom omgedraai en vir hulle gesê: 26“As iemand na My toe kom en hy het nie sy vader, moeder, vrou, kinders, broers en susters, ja, selfs ook sy eie lewe minder lief nie, kan hy nie My studentevolgeling wees nie. 27Elkeen wat nie sy eie kruis dra en agter My aan kom nie, kan nie My studentevolgeling wees nie. 28Wie van julle wat ’n toring wil bou, gaan nie eers sit en bereken die koste, of hy in staat is om dit te voltooi nie? 29Indien nie, as hy die fondament gelê het en nie in staat is om dit te voltooi nie, sal almal wat dit sien, met hom begin spot 30en sê: ‘Hierdie man het begin bou en kon nie klaarkry nie.’ 31Of watter koning wat optrek om teen ’n ander koning langs hom oorlog te maak, gaan nie eers oorweeg of hy in staat is om met tien duisend die een te ontmoet wat met twintig duisend teen hom kom nie? 32Indien nie, stuur hy afgevaardigdes terwyl die ander een nog ver is en vra vir vredesvoorwaardes. 33Net so kan ook niemand van julle, wat nie afsien van al sy besittings, My studentevolgeling wees nie.

34Sout is uitstekend, maar selfs sout word laf; waarmee sal dit smaaklik gemaak word? 35Dit is nie bruikbaar vir die grond of vir kompos nie. Hulle gooi dit buitekant weg. Wie ’n oor het wat kan hoor, laat hom hoor.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Luke 13
Top of Page
Top of Page