Lukas 12
Afrikaans PWL
1Terwyl ’n groot menigte van mense bymekaargekom het sodat hulle mekaar vertrap het, begin Yeshua om vir Sy studentevolgelinge te sê: “Eerstens moet julle versigtig wees onder julleself vir die suurdeeg van die Fariseërs, dit is, hulle vals toneelspel. 2Daar is niks weggesteek wat nie openbaar sal word nie en geheim wat nie bekend sal word nie. 3Alles wat julle in die donker sal sê, sal in die lig gehoor word en wat julle in die binnekamers in die ore gefluister het, sal op die dakke verkondig word,

4maar Ek sê vir julle, My vriende: moenie bang wees vir hulle wat die liggaam doodmaak en daarna niks meer kan doen nie, 5maar Ek sal julle wys wie julle moet vrees: vrees Hom wat, nadat Hy doodgemaak het, die outoriteit het om in die hel te werp; ja, Ek sê vir julle, vrees Hom! 6Word vyf mossies nie vir twee assarii verkoop nie? Nie een van hulle is voor God vergete nie, 7maar selfs die hare van julle kop is almal getel. Wees dan nie bang nie: julle is meer werd as baie mossies.

8Ek sê vir julle: ‘elkeen wat My sal erken voor die mense, hom sal die Seun van die mens ook erken voor die engele van God, 9maar hy wat My ontken voor mense, sal ontken word voor die engele van God. 10Elkeen wat ’n woord teen die Seun van die mens sal sê, dit sal hom vergewe word, maar vir hom wat sleg gepraat het teen die Gees van Afsondering, sal dit nie vergewe word nie.’ 11Wanneer hulle julle sal bring voor die vergaderings van die owerhede en die outoriteite, moet julle nie angstig wees oor hoe julle jul sal verdedig, of wat julle sal sê nie, 12want die Gees van Afsondering sal julle in daardie oomblik leer wat julle moet sê.”

13’n Man uit die skare sê vir Hom: “Leermeester, sê vir my broer dat hy die erfenis met my moet deel.” 14Yeshua sê egter vir hom: “Man, wie het My as regter of verdeler oor julle aangestel?” 15Hy sê vir Sy studentevolgelinge: “Wees versigtig vir begeerlikhede, want lewe bestaan nie uit die oorvloed van besittings nie.” 16Hy vertel vir hulle hierdie vergelykende storie: “ ’n Sekere ryk man se grond het baie voortgebring 17en hy het by homself gedink en gesê: ‘Wat sal ek doen, want ek het geen plek waarin ek my oes kan bymekaarmaak nie?’ 18Hy sê: ‘Dit sal ek doen: ek sal my skure afbreek en groter skure bou en ek sal al my opbrengste en my goed daarin bymekaarmaak 19en ek sal vir myself sê: “Jy, jy het baie goed wat gestoor is en wat baie jare sal hou; rus, eet, drink en wees vrolik.”’ 20God het egter vir hom gesê: ‘Jou dwaas, in hierdie nag sal jou gees van jou teruggeneem word en wat jy voorberei het, wie s’n sal dit wees?’ 21So gaan dit met hom wat vir homself skatte bymekaarmaak en nie ryk is in God nie.”

22Hy het vir Sy studentevolgelinge gesê: “Ek sê daarom vir julle: moenie angstig wees oor julle lewe nie, oor wat julle sal eet, of oor julle liggaam, wat julle sal aantrek nie. 23Die gees is belangriker as kos en die liggaam as klere. 24Let op die kraaie, want hulle saai nie en hulle oes nie; hulle het geen opgaarplek of skuur nie en tog voed God hulle. Hoeveel meer is julle nie werd as die voëls nie! 25Wie onder julle kan, deur ywerig te wees, een el by sy lengte bysit? 26As julle dan nie eens die kleinste kan doen nie, waarom probeer julle vir julleself sorg in die ander dinge? 27Let op hoe die lelies groei: hulle werk nie en hulle spin nie en Ek sê vir julle, selfs Shlomo in al sy eer en lof was nie aangetrek soos een van hulle nie. 28As God dan die gras van die veld, wat vandag daar is en môre in ’n oond gegooi word, so aantrek, hoeveel keer beter is Hy nie vir julle nie, julle met min vertroue! 29Julle moet ook nie angstig wees oor wat julle sal eet of drink nie en julle moenie onrustig wees daaroor nie, 30want al hierdie dinge soek die volke van die wêreld en julle Vader weet dat julle hierdie dinge nodig het. 31Soek in plaas daarvan die Koninkryk van God en al hierdie dinge sal vir julle bygesit word. 32Moenie bang wees nie, klein kuddetjie, want julle Vader het dit gewil om aan julle die Koninkryk te gee.

33Verkoop julle besittings en gee aan die behoeftiges; maak vir julle beurse wat nie oud word nie, belê in die onfeilbare in die hemel, waar geen dief naby kom of mot dit vernietig nie, 34want waar julle rykdom is, daar sal julle gedagtes, wil en emosie ook wees.

35Laat julle heupe vasgegord wees en julle lampe aan die brand. 36Julle moet wees soos mense wat op hulle meester wag wanneer hy van die huwelik af terugkom sodat as hy kom en klop, hulle dadelik vir hom kan oopmaak. 37Baie gelukkig is daardie slawe vir wie hulle meester waaksaam sal vind as hy kom. Dit is waar, Ek sê vir julle, hy sal sy heupe vasgord en hulle aan tafel laat skuinslê en hulle kom bedien 38en as hy in die tweede of in die derde wagskof kom, gelukkig is daardie slawe wat hy só kry,

39maar verstaan dít: as die eienaar van die huis geweet het in watter uur die dief sou kom, sou hy waaksaam gewees het en nie in sy huis laat inbreek het nie. 40Net so moet julle ook gereed wees omdat die Seun van die mens in ’n oomblik kom wanneer julle dit nie verwag nie.”

41Shim’on Kefa sê vir Hom: “Ons Meester, vertel U hierdie vergelykende storie vir ons of ook vir almal?” 42Yeshua sê vir hom: “Wie is dan die betroubare en wyse bestuurder wat die meester oor sy huishouding sal aanstel om vir hulle hul deel op die regte tyd te gee? 43Baie gelukkig is daardie slaaf vir wie sy meester, as hy kom, só besig sal vind. 44Waarlik, Ek sê vir julle, hy sal hom oor al sy besittings aanstel, 45maar as daardie slaaf in sy hart sê: ‘My meester neem tyd om te kom’ en hy die diensknegte en diensmaagde begin slaan en begin eet, drink en dronk word, 46dan sal die meester van daardie slaaf kom, op ’n dag dat hy dit nie verwag nie en in ’n oomblik dat hy dit nie weet nie en hy sal hom afsny en sy deel bereken by dié sonder vertroue. 47Daardie slaaf wat die wil van sy meester geken het en nie vir hom voorberei het volgens sy wil nie, sal met baie slae geslaan word, 48maar hy wat nie geweet het nie en gedoen het wat slae verdien, sal min geslaan word en elkeen aan wie baie gegee is, van hom sal baie terug verwag word en aan hom wie hulle baie toevertrou het, van hom sal hulle baie meer vra.

49Ek het gekom om vuur op die aarde te gooi en Ek wens dat dit reeds gebrand het, 50maar Ek het ’n doop om mee gedoop te word en Ek is in ’n groot stryd totdat dit voltooi is! 51Dink julle dat Ek gekom het om vrede in die wêreld te bring? Nee, Ek sê vir julle, eerder verdeeldheid, 52want van nou af sal daar verdeeldheid wees in ’n huis van vyf; drie teen twee en twee teen drie. 53Die vader sal verdeeld wees teen die seun en die seun teen die vader; die moeder teen die dogter en die dogter teen die moeder; die skoonmoeder teen haar skoondogter en die skoondogter teen haar skoonmoeder.”

54Hy het ook vir die mense gesê: “Wanneer julle ’n wolk in die weste sien opkom, sê julle dadelik: ‘Dit gaan reën’ en dit is so; 55wanneer die suidewind waai, sê julle: ‘Dit sal warm wees’ en dit is so. 56Toneelspelers van ’n vals karakter, die voorkoms van die aarde en die lug kan julle interpreteer, maar hoe is dit dat julle hierdie tye nie kan interpreteer nie?

57Waarom onderskei julle nie ook vir julleself wat waarheid is nie? 58Terwyl jy met jou aanklaer na die owerheid gaan, doen moeite op die pad om van hom af losgekoop te word sodat hy jou nie miskien voor die regter sleep en die regter jou oorgee aan die polisie en die polisie jou in die gevangenis gooi nie. 59Ek sê vir jou, jy sal daar sekerlik nie uitkom voordat jy die laaste lepton (kleinste geldstukkie) ook betaal het nie.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Luke 11
Top of Page
Top of Page