Lukas 1
Afrikaans PWL
1Omdat baie gewillig was om ’n weergawe op te stel oor die dinge waarvan ons oortuig is, 2soos die dinge wat aan ons oorgedra is deur hulle wat van die begin af ooggetuies en diensknegte van die Boodskap was, 3het Hy ook aan my verskyn, want ek het almal van hulle versigtig genader sodat ek alles in sy regte plek vir u kon neerskryf, hoogeerbare Theofilos 4sodat u die waarheid kan ken oor hierdie dinge aangaande die boodskap waarin u onderrig is.

5In die dae van Herodes, koning van Y’hudah, was daar ’n sekere priester met die naam van Z’kharyah, uit die afdeling van die huis van Aviyah en sy vrou, haar naam was Elish’va, uit die nageslag van Aharon. 6Hulle was albei onskuldig voor God en het in al die opdragte en oordele van יהוה onberispelik geleef. 7Hulle het nie ’n seun gehad nie omdat Elish’va onvrugbaar was en albei was al ver gevorderd in jare.

8Dit was terwyl hy sy priesterlike funksie voor God uitgevoer het, toe dit sy afdeling se beurt was, 9dat hy deur die lot verkies is (volgens die priesterlike gebruik) om in te gaan in die tempel van יהוה en wierook te brand 10en die hele skare mense was buite, besig om te bid op die tyd wat die wierook aangesteek word. 11Daar verskyn toe aan Z’kharyah ’n boodskapper van יהוה, aan die regterkant van die wierookaltaar. 12Z’kharyah was ontsteld toe hy hom sien; vrees het hom oorval 13en die boodskapper sê vir hom: “Moenie bang wees nie Z’kharyah, want jou gebed is gehoor; jou vrou Elish’va sal vir jou geboorte gee aan ’n seun en jy moet hom Yoganan noem 14en daar sal vir jou blydskap en vreugde wees en baie sal bly wees oor sy geboorte, 15want hy sal groot wees voor יהוה. Hy mag geen wyn en sterk drank drink nie en hy sal vol wees van die Gees van Afsondering reeds vanaf sy moeder se baarmoeder af 16en hy sal baie van die kinders van Yisra’el laat terugdraai na יהוה, hulle God 17en hy sal voor Hom uitgaan in die gees en die krag van Eliyahu, die profeet, om die verstand, wil en emosie van die vaders terug te draai na die kinders en dié wat nie oortuig is nie, tot die kennis van die Regverdige Een, om vir יהוה ’n volk voor te berei wat volmaak is.”

18Z’kharyah sê vir die boodskapper: “Hoe sal ek weet dat dit so is, want ek is oud en my vrou is al ver gevorderd in jare?” 19Die boodskapper antwoord en sê vir hom: “Ek is Gavri’el, wat staan in die Teenwoordigheid van God en ek is gestuur om met jou te praat en vir jou hierdie boodskap te bring. 20Van nou af sal jy stom wees en nie kan praat nie tot op die dag dat hierdie dinge gebeur omdat jy my woorde, wat op hulle tyd vervul sal word, nie geglo het nie.”

21Die mense wat buite staan het vir Z’kharyah gewag en het gewonder oor die vertraging in die tempel, 22maar toe hy uitkom en nie met hulle kon praat nie, het hulle verstaan dat hy ’n visioen in die tempel ervaar het. Hy het stom gebly en aangehou om deur tekens en gebare met hulle te kommunikeer. 23Toe die tydperk van sy diens vervul is, het hy huis toe gegaan.

24Dit was na hierdie tyd dat Elish’va, sy vrou, swanger geword en haarself vir vyf maande afgesonder en gesê het: 25“Hierdie dinge het יהוה vir my op hierdie tyd gedoen toe Hy besluit het om my vernedering voor die mense weg te vat.”

26In die sesde maand is die boodskapper Gavri’el vanaf die Teenwoordigheid van God gestuur na ’n dorp in die Galil met die naam van Natzeret, 27na ’n maagd wat verloof was aan ’n man met die naam van Yosef, van die huis van Dawid; die maagd se naam was Miryam. 28Die boodskapper het haar genader en gesê: “Vrede, vreugde, oorvloed en vergenoegdheid, hoogs geëerde vrou! Ons Meester is met jou; onder die vroue is jy geseënd.” 29Toe sy hom sien, was sy hoogs ontsteld oor sy woorde en sy het geredeneer: “Wat se groet is dit?” 30Die boodskapper sê vir haar: “Moenie bang wees nie, Miryam, want jy het onverdiende guns by God gevind, 31want let op, jy sal swanger word en geboorte gee aan ’n Seun en die Naam wat jy Hom moet gee is Yeshua. 32Hy sal magtig wees en die Seun van Ha’Elyon (die Allerhoogste) genoem word en יהוה-God sal aan Hom die troon van Sy vader Dawid gee 33en Hy sal heers oor die huis van Ya’akov tot in ewigheid en aan Sy Koninkryk sal daar geen einde wees nie.” 34Miryam sê vir die boodskapper: “Hoe kan dit wees, aangesien ’n man nie ’n verbondsverhouding met my het nie?” 35Die boodskapper antwoord haar en sê: “Die Gees van Afsondering sal oor jou kom, die wonderwerkende krag van Ha’Elyon (die Allerhoogste) sal op jou rus en daarom sal die Afgesonderde wat uit jou gebore word, Seun van God genoem word. 36Let op, Elish’va, jou bloedverwant, is self ook swanger met ’n seun in haar hoë ouderdom en hierdie is die sesde maand vir háar wat onvrugbaar genoem is 37omdat niks vir God onmoontlik is nie.” 38Miryam antwoord: “Let op, ek is die slavin van יהוה. Laat dit gedoen word met my soos u gesê het.” Die boodskapper het van haar af weggegaan.

39In daardie tyd het Miryam opgestaan, haastig na ’n dorp in die bergstreek van Y’hudah gegaan 40en sy het in die huis van Z’kharyah ingegaan en vrede oor Elish’va gebid. 41Dit was toe Elish’va Miryam se groet hoor dat die baba in haar baarmoeder gespring het en Elish’va is gevul met die Gees van Afsondering 42en het met ’n harde stem uitgeroep en vir Miryam gesê: “Geseënd is jy onder die vroue en geseënd is die vrug wat in jou baarmoeder is 43en vanwaar is dit vir my dat die moeder van my Meester na my toe kom? 44Let op, toe die geluid van jou groet in my ore kom, het die baba in my baarmoeder gespring van vreugde 45en gelukkig is sy wat vertrou het dat dit wat vanuit die Teenwoordigheid van יהוה aan haar gesê is, vervul sal word.”

46Miryam het gesê: “My verstand, wil en emosie maak יהוה groot

47en my gees spring van vreugde oor God, my Verlosser

48omdat Hy die nederige stand van sy slavin raakgesien het, want let wel, van nou af sal al die geslagte my gelukkig noem,

49want Hy wat magtig is, doen groot dinge aan my. Afgesonderd is Sy Naam (Karakter en Outoriteit)

50en Sy liefdevolle omgee is vir altyd, van geslag tot geslag vir dié wat Hom respekvol vrees.

51Hy het oorwinning gebring deur Sy arm. Hy verstrooi dié wat trots is in die opinies van hulle verstand, wil en emosie.

52Hy gooi magtiges neer van trone af en het die nederiges opgelig.

53Hy het die wat honger is, gevul met goeie dinge en stuur rykes weg met leë hande.

54Hy het Sy dienskneg, Yisra’el, gehelp en het Sy aktiewe omgee onthou

55soos Hy vir ons vaders gesê het; aan Avraham en sy nageslag tot in ewigheid.”

56Miryam het ongeveer drie maande by Elish’va gebly en teruggegaan na haar huis toe.

57Dit was tyd dat Elish’va sou geboorte gee en sy het geboorte gegee aan ’n seun. 58Toe haar bure en familie gehoor het dat die Meester se liefdevolle omgee groot was vir haar, was hulle verheug saam met haar

59en op die agtste dag het hulle gegaan om die kind te besny en hulle wou hom Z’kharyah noem, na die naam van sy vader 60en sy moeder antwoord en sê: “Nee, hy moet Yoganan genoem word.” 61Hulle sê vir haar: “Daar is niemand in jou familie wat hierdie naam genoem word nie.” 62Hulle beduie vir sy vader om te bepaal hoe hy wou hê dat hy genoem moes word. 63Hy vra toe ’n skryfbord en skryf: “Yoganan is sy naam.” Almal was verwonderd 64en onmiddellik is sy mond en sy tong geopen en het hy goed gepraat van God 65en daar het ’n respekvolle vrees gekom oor almal wat rondom hulle gewoon het en in al die berge van Y’hudah het hulle gepraat oor al hierdie dinge. 66Almal wat dit gehoor het, het dit in hulle gedagtes oordink: “Wat gaan hierdie seun word?” Die hand van יהוה was met hom.

67Z’kharyah, sy vader, is gevul met die Gees van Afsondering en het geprofeteer en gesê:

68“Geseënd is יהוה, die God van Yisra’el, wat Sy volk besoek en hulle losgekoop het

69en ’n horing van bevryding vir ons opgewek het in die huis van Dawid, Sy dienskneg,

70net soos Hy gesê het deur die mond van Sy afgesonderde profete van ouds af aan:

71dat Hy ons van ons vyande en uit die hand van almal wat ons haat sal red.

72Hy het Sy liefdevolle omgee vir ons vaders gewys en Sy afgesonderde verbond onthou;

73die eed wat Hy gesweer het aan Avraham, ons vader, om aan ons te gee:

74dat Hy ons sal red uit die hand van ons vyande en dat ons sonder vrees voor Hom sal aanbid,

75al ons dae, in regverdigheid, afgesonderdheid en onpartydige opregtheid.

76Jy, seun, sal ’n profeet van Ha’Elyon (die Allerhoogste) genoem word, want jy sal voor die Persoon van יהוה uitgaan om Sy pad voor te berei’

77sodat Hy die kennis van lewe kan gee aan Sy mense in die vergifnis van hulle sondes,

78deur die onverdiende omgee van ons God waarin die Manifestasie vanaf die hemel ons sal besoek,

79om te skyn oor dié wat in duisternis en in die skaduwee van die dood sit sodat Hy ons voete kan begelei op die pad van vrede.”

80Die kind het gegroei, is versterk in die Gees en hy het in die wildernis gebly tot op die dag van sy openbare verskyning aan Yisra’el.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Mark 16
Top of Page
Top of Page