Levitikus 9
Afrikaans PWL
1Dit het gebeur dat op die agtste dag Moshe vir Aharon, sy seuns en die oudstes van Yisra’el geroep het 2en vir Aharon gesê het: “Vat vir jouself ’n bulkalf as sondoffer en ’n ram as brandoffer, altwee sonder gebrek en offer hulle voor יהוה.” 3Praat dan met die seuns van Yisra’el en sê: “Vat ’n bokram as sondoffer en ’n kalf en ’n lam, altwee een jaar oud, sonder gebrek, as brandoffer, 4asook ’n bul en ’n ram as vredesoffer, om voor יהוה te offer en ’n graanoffer met olie gemeng, want vandag sal יהוה aan julle verskyn.” 5Hulle het wat Moshe beveel het voor die Tent van Ontmoeting gebring en die hele vergadering het nadergekom en voor יהוה gaan staan. 6Moshe het gesê: “Hierdie is wat יהוה julle beveel het om te doen en die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה sal aan julle verskyn.” 7Moshe het vir Aharon gesê: “Gaan na die altaar en offer jou sondoffer en jou brandoffer en doen toedekking vir jou en vir die volk. Offer dan die offers van die volk en doen toedekking vir hulle soos יהוה beveel het.”

8Aharon het daarom na die altaar gegaan en die kalf vir die sondoffer geslag wat vir homself was. 9Die seuns van Aharon het die bloed na hom toe gebring, hy het sy vinger in die bloed gesteek en dit aan die horings van die altaar gesmeer en die bloed aan die onderkant van die altaar uitgegooi, 10maar die vet, die niere en die vetlap aan die lewer van die sondoffer het hy op die altaar gebrand en in rook laat opgaan soos יהוה Moshe beveel het. 11Die vleis en die vel het hy buitekant die kamp met vuur verbrand.

12Toe het hy die brandoffer geslag en die seuns van Aharon het vir hom die bloed aangegee wat hy rondom teen die altaar gesprinkel het. 13Hulle het vir hom die brandoffer aangegee in stukke, met die kop en hy het dit op die altaar gebrand en in rook laat opgaan 14en hy het die binnegoed en die pote gewas en dit op die brandoffer op die altaar gebrand en in rook laat opgaan.

15Toe het hy die volk se offer geoffer; hy het die bok wat die sondoffer vir die volk was, geslag en dit geoffer vir sonde, soos die eerste een. 16Hy het ook die brandoffer gebring en dit volgens voorskrif geoffer. 17Volgende het hy die graanoffer gebring en ’n handvol daaruit gevat en dit op die altaar gebrand en in rook laat opgaan, langs die oggend se brandoffer.

18Toe het hy ook die bul en die ram doodgemaak wat die offers vir die volk as vredesoffers was en die seuns van Aharon het vir hom die bloed aangegee, wat hy rondom, teen die altaar gesprinkel het 19en die vet van die bul en van die ram: die vetstert, die netvet, die niere en die vetlap aan die lewer 20en hulle het die vet op die borsstukke gesit en hy het die vet op die altaar gebrand en in rook laat opgaan. 21Die borsstukke en die regterboud het Aharon as waaioffer voor יהוה gewaai soos Moshe beveel het.

22Aharon het sy hande na die volk toe uitgesteek, hulle geseën en afgeklim nadat hy die sondoffer, brandoffer en dankoffer geoffer het.

23Moshe en Aharon het in die Tent van Ontmoeting ingegaan en toe hulle uitkom, het hulle die volk geseën. Die Gemanifesteerde Teenwoordigheid van יהוה het aan die hele volk verskyn 24en vuur het voor יהוה uitgegaan en die brandoffer en die vet op die altaar verteer. Toe die hele volk dit sien, het hulle hard uitgeskreeu van vreugde en op hulle gesigte neergeval.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Leviticus 8
Top of Page
Top of Page