Levitikus 6
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 2“As iemand sondig en ontrou handel teenoor יהוה deurdat hy lieg teenoor sy naaste aangaande iets wat in sy hand gesit is vir bewaring, of as ’n deposito gegee is, of geroof is, of as hy iets van sy naaste afgepers het, 3of dat hy iets gekry het wat weg was en daaroor lieg en hy vals sweer; ten opsigte van enige van hierdie dinge wat ’n mens kan doen waardeur hy sondig, 4sal dit wees omdat hy gesondig het en skuldig is, hy moet teruggee wat hy gesteel of deur afpersing gevat het, of wat aan hom toevertrou was vir bewaring, of verlore goed wat hy gevind het, 5of alles waaroor hy vals gesweer het: hy moet dit ten volle vergoed en nog ’n vyfde van die waarde daarvan bysit en aan hom aan wie dit behoort teruggee, op die dag as hy sy oortredingsoffer doen. 6Hy moet van die kleinvee, na jou skatting, as oortredingsoffer aan יהוה, ’n ram, sonder gebrek, as oortredingsdoffer na die priester bring. 7Die priester moet vir hom toedekking doen voor יהוה en hy sal vergewe wees vir enige van die dinge wat hy gedoen het en waaraan hy skuldig is.”

8יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 9“Beveel Aharon en sy seuns en sê: ‘Dit is die wet van die brandoffer: die brandoffer moet die hele nag lank tot die oggend toe op sy vuurherd, op die altaar, bly en die altaarvuur moet aan die brand gehou word. 10Die priester moet sy linne kleed aantrek en die linne broek moet hy oor sy vlees aantrek; dan moet hy die as van die brandoffer wat die vuur op die altaar verteer het, aflig en dit langs die altaar gooi. 11Hy moet sy klere uittrek, ander klere aantrek en die as buitekant die kamp na ’n rein plek dra. 12Die vuur op die altaar moet daarop aan die brand gehou word, dit mag nie doodgaan nie en die priester moet elke oggend hout daarop aan die brand steek en die brandoffer daarop reg uitlê en die stukke vet van die vredesoffer daarop brand en in rook laat opgaan. 13Vuur moet altyddeur op die altaar brand; dit mag nie doodgaan nie.

14Dit is die wet van die graanoffer: die seuns van Aharon moet dit voor יהוה aanbied, voor die altaar. 15Dan moet een van hulle van die graanoffer se fyn meel ’n handvol vat, met sy olie en al die wierook wat op die graanoffer is en hy moet dit op die altaar in rook laat opgaan vir ’n aangename geur as ’n herdenking tot יהוה. 16Wat daarvan oorbly, moet Aharon en sy seuns eet; as ongesuurde brode moet dit op ’n afgesonderde plek geëet word; in die voorhof van die Tent van Ontmoeting moet hulle dit eet. 17Dit mag nie met suurdeeg gebak word nie. Ek het dit gegee as hulle deel van my offers wat met vuur gebring word. Dit is heeltemal afgesonderd, soos die sondoffer en die oortredingsoffer. 18Almal wat manlik is onder die seuns van Aharon mag dit eet. Dit is ’n ewige instelling vir julle geslagte aangaande die offers wat met vuur gebring word tot יהוה. Almal wat daaraan raak, sal afgesonderd wees.’”

19יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 20“Dit is die offer van Aharon en sy seuns, wat hulle aan יהוה moet bring, op die dag as hy gesalf word: ’n tiende van ’n efa fyn meel as ’n gereelde graanoffer; die helfte daarvan in die oggend en die helfte in die aand. 21Dit moet in ’n pan met olie voorberei word; jy moet dit gemeng bring; die gebakte stukkies van die graanoffer moet jy offer as ’n aangename geur tot יהוה. 22Die priester, wat uit sy seuns, in sy plek gesalf word, moet dit ook doen. Dit is ’n ewige instelling tot יהוה. Dit moet heeltemal geoffer, in rook opgaan, 23want elke graanoffer van ’n priester moet volledig verbrand word; dit mag nie geëet word nie.”

24יהוה het met Moshe gepaat en gesê: 25“Praat met Aharon en sy seuns en sê: ‘Dit is die wet van die sondoffer: op die plek waar die brandoffer doodgemaak word, moet die sondoffer voor יהוה doodgemaak word. Dit is heeltemal afgesonderd. 26Die priester wat dit as sondoffer bring, moet dit eet; op ’n afgesonderde plek moet dit geëet word, in die voorhof van die Tent van Ontmoeting. 27Elkeen wat aan die vleis daarvan raak, word afgesonder en as daar van die bloed op ’n kledingstuk spat, moet jy die stuk waarop dit spat, op ’n afgesonderde plek was, 28maar die erdepot waarin dit gekook is, moet stukkend gebreek word. As dit in ’n koperpot gekook is, moet dit geskuur en met water afgespoel word. 29Almal wat manlik is onder die priesters, mag dit eet; dit is heeltemal afgesonderd, 30maar geen sondoffer, waarvan ’n deel van die bloed in die Tent van Ontmoeting ingebring word, om in die Afgesonderde plek toedekking te doen, mag geëet word nie. Dit moet met vuur verbrand word.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Leviticus 5
Top of Page
Top of Page