Levitikus 3
Afrikaans PWL
1As sy offer ’n vredesoffer is, as hy dit van beeste bring, bul of vers, moet hy een sonder gebrek voor יהוה bring. 2Hy moet sy hand op die kop van sy offer lê en dit by die ingang van die Tent van Ontmoeting doodmaak en die seuns van Aharon, die priesters, moet die bloed rondom teen die altaar sprinkel. 3Hy moet van die vredesoffer ’n offer van vuur tot יהוה offer: die vet wat die binnegoed toemaak en al die vet wat aan die binnegoed is, 4die twee niere en die vet wat daarop is aan die lendene en die vetlap aan die lewer, moet hy saam met die niere verwyder. 5Die seuns van Aharon moet dit op die altaar offer en in rook laat opgaan bo-op die brandoffer, wat op die hout is, op die vuur, as ’n offer deur vuur, ’n aangename geur tot יהוה. 6As sy offer ’n stuk kleinvee is, as ’n vredesoffer aan יהוה, moet hy een wat sonder gebrek is offer, ram of ooi. 7As hy ’n skaaplam bring as sy offer, moet hy dit voor יהוה offer 8en sy hand op die kop van sy offer lê en dit voor die Tent van Ontmoeting doodmaak en die seuns van Aharon moet die bloed rondom teen die altaar sprinkel. 9Hy moet van die vredesoffer ’n offer van vuur tot יהוה offer: die vet, die totale vetstert wat hy naby die rugstring sal verwyder, die vet wat die binnegoed bedek en al die vet wat aan die binnegoed is, 10die twee niere en die vet wat daarop is aan die lendene en die vetlap aan die lewer, wat hy saam met die niere moet verwyder 11en die priester moet dit op die altaar in rook laat opgaan as kos van ‘n offer, ’n offer deur vuur tot יהוה.

12As sy offer ’n bok is, moet hy dit voor יהוה offer 13en sy hand op die kop van sy offer lê en dit voor die Tent van Ontmoeting doodmaak en die seuns van Aharon moet die bloed rondom teen die altaar sprinkel. 14Hy moet sy offer, as offer van vuur tot יהוה, daarvan bring: die vet wat die binnegoed bedek en al die vet wat aan die binnegoed is, 15die twee niere en die vet wat daarop is aan die lendene en die vetlap aan die lewer, moet hy saam met die niere verwyder 16en die priester moet dit op die altaar in rook laat opgaan as ’n kosoffer vir ’n aangename geur. Al dié vet behoort aan יהוה. 17Hierdie sal ’n ewige instelling wees in julle geslagte, in al julle blyplekke: julle mag géén vet en géén bloed eet nie.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Leviticus 2
Top of Page
Top of Page