Levitikus 22
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 2“Praat met Aharon en sy seuns dat hulle versigtig moet wees met die afgesonderde gawes van die seuns van Yisra’el wat hulle tot My afsonder sodat hulle My Afgesonderde Naam (Karakter en Outoriteit) nie onteer nie. Ek is יהוה. 3Sê vir hulle: ‘Enigeen van jou nageslag, in julle geslagte, wat naderkom na die afgesonderde gawes, wat die seuns van Yisra’el aan יהוה afsonder terwyl hy onrein is, dié persoon moet afgesny word van voor My Teenwoordigheid. Ek is יהוה. 4Niemand uit die nageslag van Aharon wat melaats is of ’n uitskeiding het, mag van die afgesonderde gawes eet, voordat hy nie rein is nie. Hy wat aan iemand raak wat deur ’n lyk onrein is, of van wie ’n saadvloeiing uitgaan, 5of iemand wat aan enige kruipende dier raak, waardeur hy onrein word, of aan ’n mens, deur wie hy onrein word, as gevolg van watter onreinheid ook al,

6die persoon wat aan so iets raak, sal tot die aand toe onrein wees en hy mag nie van die afgesonderde gawes eet, tensy hy sy liggaam in water gewas het nie. 7Wanneer die son onder is, sal hy rein wees en daarna kan hy van die afgesonderde gawes eet, want dit is sy kos. 8Iets wat natuurlik dood is of verskeur is, mag hy nie eet sodat hy daardeur nie onrein word nie. Ek is יהוה. 9Hulle moet My voorskrifte bewaar sodat hulle daardeur geen sonde op hulle laai as hulle dit onteer en daardeur sterf nie. Ek, יהוה, sonder hulle af.

10Geen vreemdeling mag van wat afgesonder is eet nie. ’n Besoeker van ’n priester of ’n huurling mag nie eet wat afgesonder is nie, 11maar as ’n priester iemand met sy geld koop, mag dié daarvan eet en die wat in sy huis gebore is; húlle mag van sy kos eet. 12As die dogter van ’n priester met ’n vreemdeling getroud is, mag sy nie van die gawes van die afgesonderde dinge eet nie, 13maar as die dogter van ’n priester ’n weduwee is of verstoot word en sy kinderloos is en in die huis van haar vader terugkom, soos in haar jeug, dan mag sy van die kos van haar vader eet, maar geen vreemdeling mag daarvan eet nie. 14As iemand onwetend iets eet wat afgesonder is, moet hy ’n vyfde deel daarvan bysit en dit wat afgesonder is, aan die priester teruggee. 15Hulle moenie die afgesonderde gawes wat die seuns van Yisra’el aan יהוה afgee, onteer nie 16en húlle die skuld van die oortredingsoffer laat dra as hulle die afgesonderde gawes sou eet nie, want Ek, יהוה, sonder hulle af.’ “

17יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 18“Praat met Aharon en sy seuns en met al die seuns van Yisra’el en sê vir hulle: ‘Enige man uit die huis van Yisra’el, of uit die besoekers in Yisra’el, wat enige van sy offers vir al sy geloftes, of enige van sy vrywillige offers, wat hy aan יהוה as ’n brandoffer bring, 19vir julle bring om te aanvaar, moet ’n manlike dier sonder gebrek bring, van die beeste, die skape of die bokke. 20Julle mag nie enige iets met ’n liggaamsgebrek bring nie, want dit sal nie aanvaarbaar wees vir julle nie. 21Wie ook al ’n vredesoffer, of ’n vrywillige offer, aan יהוה offer, om ’n spesiale gelofte na te kom, van die beeste of die kleinvee, moet ’n volmaakte dier bring om aanvaar te word; dit mag geen liggaamsgebrek hê nie. 22Dit wat blind of gebrekkig of vermink is of swere, skurfte of uitslag het, moet julle nie tot יהוה bring nie en daarvan mag julle vir יהוה geen offer, deur vuur, op die altaar lê nie. 23’n Bees of stuk kleinvee wat enige iets misvorm of te kort het, mag jy as ’n vrywillige offer bring, maar as gelofteoffer sal dit nie aanvaar word nie. 24’n Dier wat vermink, vergruis, verskeur of gesny is, mag julle nie tot יהוה offer nie: in julle land mag julle dit nie doen nie. 25Uit die hand van ’n vreemdeling mag julle ook nie enige diere aan julle God as kos bring nie, want hulle korrupsie is in hulle, daar is gebreke aan hulle: hulle sal nie vir julle aanvaar word nie.’”

26יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 27“As ’n bees of ’n lam of ’n bok gebore word, moet dit sewe dae lank by sy moeder bly en van die agtste dag af en verder sal dit aanvaarbaar wees as ’n offer, deur vuur gebring, aan יהוה, 28maar ’n koei of ’n ooi mag julle nie saam met haar kleintjie op een dag doodmaak nie. 29Wanneer jy ’n dankoffer aan יהוה bring, moet julle dit so bring dat julle aanvaar sal word. 30Dit moet op dieselfde dag geëet word. Julle moet daarvan niks laat oorbly tot die oggend toe nie. Ek is יהוה. 31Hou My opdragte en doen dit. Ek is יהוה.

32Julle sal nie My Afgesonderde Naam (Karakter en Outoriteit) onteer nie, maar Ek sal afgesonder behandel word onder die seuns van Yisra’el. Ek is יהוה, wat julle afsonder, 33wat julle uit die land van Mitzrayim uitgebring het om vir julle ’n God te wees. Ek is יהוה.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Leviticus 21
Top of Page
Top of Page