Levitikus 18
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 2“Praat met die seuns van Yisra’el en sê vir hulle: ‘Ek is יהוה julle God. 3Julle mag nie doen volgens die dade van die land van Mitzrayim waarin julle gewoon het nie en julle mag nie doen volgens die werke van die land Kena’an waarheen Ek julle bring nie en julle mag nie volgens hulle reëls leef nie. 4My wette moet julle doen en My reëls nakom om daarin te leef. Ek is יהוה, julle God. 5Jy moet daarom My wette en My reëls nakom wat, as die mens dit doen, hy daardeur sal lewe. Ek is יהוה.

6Niemand van julle mag naby sy bloedfamilie se vlees kom om die skaamte te ontbloot nie. Ek is יהוה. 7Jy mag die skaamte van jou vader en die skaamte van jou moeder nie ontbloot nie: sy is jou moeder, jy mag haar naaktheid nie ontbloot nie. 8Jy mag die naaktheid van die vrou van jou vader nie ontbloot nie; dit is die naaktheid van jou vader. 9Die naaktheid van jou suster, die dogter van jou vader of die dogter van jou moeder, of sy in die huis of buitekant gebore is, haar naaktheid mag jy nie ontbloot nie. 10Die naaktheid van jou seun se dogter of van jou dogter se dogter mag jy nie ontbloot nie, want hulle is jou eie naaktheid. 11Die naaktheid van die dogter van jou vader se vrou, wat deur jou vader verwek is, sy is jou suster, haar naaktheid mag jy nie ontbloot nie. 12Jy mag die naaktheid van jou vader se suster nie ontbloot nie; sy is dieselfde as jou vader. 13Jy mag die naaktheid van jou moeder se suster nie ontbloot nie, want sy is dieselfde as jou moeder. 14Jy mag die naaktheid van jou vader se broer nie ontbloot nie: jy mag nie naby sy vrou kom nie; sy is jou tante. 15Jy mag die naaktheid van jou skoondogter nie ontbloot nie; sy is jou seun se vrou: jy mag haar naaktheid nie ontbloot nie. 16Jy mag die naaktheid van jou broer se vrou nie ontbloot nie; dit is die naaktheid van jou broer. 17Jy mag die naaktheid van ’n vrou en haar dogter nie ontbloot nie; haar seun se dogter en haar dogter se dogter mag jy nie neem om haar naaktheid te ontbloot nie. Hulle is dieselfde. Dit is boosheid. 18Jy mag ook nie ’n vrou en haar suster vat, om haar te tart, om haar naaktheid te ontbloot terwyl die ander een nog lewe nie.

19Jy mag ook nie naby ’n vrou kom terwyl sy onrein is deur haar menstruasie, om haar naaktheid te ontbloot nie. 20Meer nog, jy mag geen vleeslike gemeenskap met jou naaste se vrou hê om jou met haar onrein te maak nie. 21Jy mag geen van jou kinders gee om in vuur aan Molekh geoffer te word en die Naam (Karakter en Outoriteit) van jou God te onteer nie. Ek is יהוה. 22Jy mag nie lê by ’n manspersoon soos by ’n vrou nie. Dit is verwerplik. 23Jy mag met géén dier vleeslike gemeenskap hê om jou daardeur onrein te maak nie. ’n Vrou mag ook nie voor ’n dier gaan staan om daarmee gemeenskap te hê nie. Dit is ’n gruwelikheid.

24Moenie julleself deur al hierdie dinge onrein maak nie, want deur al hierdie dinge is die ander nasies onrein, wat Ek voor julle uit verdryf, 25want die land het onrein geword en Ek besoek sy boosheid oor dit sodat die land sy inwoners uitspoeg. 26Júlle moet daarom My wette en My reëls onderhou en niks van al hierdie booshede doen nie; beide die kind van die land en die besoeker wat tussen julle bly, 27want die mense van die land, wat voor julle was, het al hierdie booshede gedoen en die land het onrein geword. 28Laat die land julle dan nie uitspoeg as julle dit onrein maak, soos dit die nasie uitgespoeg het wat voor julle daar was nie, 29want wie ook al enige een van hierdie booshede doen, die persone wat dit doen, moet afgesny word vanuit hulle volk uit. 30Julle moet daarom My opdrag uitvoer, om niks te doen van die verwerplike gewoontes wat voor julle gedoen is nie en dat julle jul nie daardeur onrein maak nie. Ek is יהוה, julle God.’ “

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Leviticus 17
Top of Page
Top of Page