Levitikus 14
Afrikaans PWL
1יהוה het met Moshe gepraat en gesê: 2“Dit is die wet vir die melaatse op die dag van sy reiniging: hy moet na die priester gebring word 3en die priester moet uit die kamp uitgaan. Die priester moet die melaatse ondersoek en let op, as die melaatsheid op die melaatse genees is, 4moet die priester bevel gee dat hulle vir hom wat gereinig word, twee lewende, rein voëls, sederhout, skarlaken en hisop moet bring. 5Die priester moet ook bevel gee dat hulle die een voël in ’n erdepot oor lopende water doodmaak. 6Die lewende voël moet hy vat, sowel as die sederhout, die skarlaken en die hisop en dié en die lewendige voël insteek in die bloed van die voël wat oor die lopende water geslag is. 7Hy moet sewe maal sprinkel op hom wat van die melaatsheid gereinig word en hom rein verklaar en die lewende voël moet hy in die oop veld loslaat. 8Hy wat gereinig word, moet sy klere was, al sy hare afskeer en homself in water was dat hy rein mag wees. Daarna moet hy in die kamp inkom, maar hy moet sewe dae lank buitekant sy tent bly. 9Op die sewende dag moet hy al sy hare afskeer, sy kop, sy baard en sy wenkbroue; al sy hare moet hy afskeer. Hy moet sy klere was en sy liggaam in water was en hy sal rein wees.

10Op die agtste dag moet hy twee lammers sonder gebrek en een jaaroud ooilam sonder gebrek vat en drie tiendes van ’n efa fyn meel met olie gemeng as graanoffer en een log olie. 11Die priester, wat hom rein verklaar, moet die man, wat gereinig word en al die offers voor die Teenwoordigheid van יהוה, by die ingang van die Tent van Ontmoeting, aanbied. 12Die priester moet een lam vat en dit offer saam met die log olie as oortredingsoffer en dit as waaioffer voor die Teenwoordigheid van יהוה waai. 13Hy moet die lam doodmaak op die plek waar hulle die sondoffer en die brandoffer doodmaak, in die Afgesonderde plek, want die oortredingsoffer, net soos die sondoffer, behoort aan die priester; dit is mees afgesonderd. 14Die priester moet van die bloed van die oortredingsoffer vat en die priester moet dit aan hom wat gereinig word se regteroorbel, aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regtervoet, smeer. 15Die priester moet ook van die log olie vat en dit in sy eie linkerhand gooi. 16Die priester moet sy regtervinger in die olie steek wat in sy linkerhand is en met sy vinger sewe maal van die olie voor die Teenwoordigheid van יהוה sprinkel. 17Van die orige olie wat in sy hand is, moet die priester aan hom wat gereinig word se regteroorbel, aan die duim van sy regterhand en aan die groottoon van sy regter- voet smeer, oor die bloed van die oortredingsoffer. 18Die res van die olie wat in die priester se hand is, moet hy op die kop, van hom wat gereinig word, gooi. So moet die priester vir hom toedekking doen voor die Teenwoordigheid van יהוה. 19Die priester moet ook die sondoffer offer en vir hom wat gereinig word, toedekking doen, weens sy onreinheid; daarna moet hy die brandoffer slag. 20Die priester moet die brandoffer en die graanoffer op die altaar offer. So moet die priester vir hom toedekking doen en hy sal rein wees.

21As hy egter te arm is en dit nie kan bekostig nie, moet hy een lam as oortredingsoffer vat om gewaai te word, om vir hom toedekking te doen; saam met een tiende van ’n efa fyn meel met olie gemeng as graanoffer, ’n log olie 22en twee tortelduiwe of twee jong duiwe soos wat hy kan bekostig. Die een sal ’n sondoffer wees en die ander ’n brandoffer. 23Hy moet hulle dan op die agtste dag na die priester bring vir sy reiniging by die ingang van die Tent van Ontmoeting voor die Teenwoordigheid van יהוה. 24Hy moet die oortredingsofferlam en die log olie vat en die priester moet dit as waaioffer voor die Teenwoordigheid van יהוה waai. 25Hy moet die oortredingsofferlam doodmaak en die priester moet van die bloed van die skuldoffer neem en dit aan die regter oorbel van hom wat gereinig word, aan die duim van sy regter hand en aan die groottoon van sy regter voet smeer. 26Die priester moet van die olie in sy eie linker hand gooi. 27Die priester moet met sy regter vinger van die olie wat in sy linker hand is, sewe maal voor die Teenwoordigheid van יהוה sprinkel. 28Die priester moet van die olie wat in sy hand is, aan die regter oorbel van hom wat gereinig word, aan die duim van sy regter hand en aan die groottoon van sy regter voet smeer, op die plek van die bloed van die oortredingsoffer. 29Die res van die olie wat in die priester se hand is, moet hy op die kop, van hom wat gereinig word, gooi, om toedekking vir hom te doen voor die Teenwoordigheid van יהוה. 30Hy moet een van die tortelduiwe of van die jong duiwe, soos wat hy kan bekostig, offer. 31Die een as sondoffer en die ander as brandoffer, saam met die graanoffer. So moet die priester vir hom wat gereinig word, toedekking doen voor die Teenwoordigheid van יהוה. 32Dit is die wet vir hom wat ’n plaag van melaatsheid gehad het, wat nie die gewone reiniging kan bekostig nie.”

33יהוה het met Moshe en Aharon gepraat en gesê:

34“Wanneer julle in die land Kena’an inkom, wat Ek vir julle as besitting gee en Ek die plaag van melaatsheid in ’n huis van die land van julle besitting laat kom, 35moet hy aan wie die huis behoort, kom en die priester inlig en sê: ‘Dit lyk of daar ’n plaag in die huis is.’ 36Die priester moet bevel gee dat hulle die huis ontruim, voordat die priester die plaag kom ondersoek sodat alles wat in die huis is, nie onrein word nie; daarna moet die priester kom om die huis te ondersoek. 37As hy die plaag ondersoek en sien dat die plaag aan die mure van die huis soos groenerige of rooierige merke is en hulle diep in die muur is, 38dan moet die priester uit die huis uitgaan, na die deur van die huis en die huis sewe dae lank toesluit. 39Op die sewende dag moet die priester weer kom en kyk en let op, as die plaag versprei het in die mure van die huis, 40dan moet die priester bevel gee dat hulle die klippe uitbreek waaraan die plaag is en dit buitekant die stad op ’n onrein plek gooi 41en die huis moet regdeur binnekant afgekrap word en die klei wat hulle afgekrap het, moet buitekant die stad op ’n onrein plek weggegooi word. 42Hulle moet ander klippe vat en in die plek van daardie klippe sit en hulle moet ander pleister vat en die huis pleister.

43As die plaag terugkom en weer in die huis uitbreek nadat hulle die klippe uitgebreek, die huis afgekrap en dit gepleister het, 44moet die priester kom en kyk en let op, as hy sien dat die plaag in die huis versprei het, dan is dit ’n aktiewe melaatsheid in die huis; dit is onrein. 45Hy moet die huis afbreek, sy klippe, sy hout en al die klei van die huis en hy moet dit uitdra, buitekant die stad, na ’n onrein plek. 46Meer nog, hy wat in die huis kom, al die tyd dat hulle dit toegesluit hou, sal tot die aand toe onrein wees. 47Hy wat in die huis gaan lê, moet sy klere was, asook hy wat in die huis eet, moet sy klere was.

48As die priester in die huis kom, dit ondersoek en sien dat die plaag nie in die huis versprei het nadat die huis gepleister is nie, dan moet die priester die huis rein verklaar, want die plaag het gesond geword. 49Hy moet, om die huis te reinig, twee voëls, sederhout, skarlaken en hisop vat 50en die een voël in ’n erdepot oor lopende water doodmaak. 51Hy moet die sederhout, die hisop, die skarlaken en die lewende voël vat en dit in die bloed van die dooie voël en in die lopende water insteek en hy moet die huis sewe maal besprinkel. 52Hy moet die huis reinig met die bloed van die voël, sowel as met die lopende water, die lewende voël, die sederhout, die hisop en die skarlaken. 53Hy moet die lewende voël buitekant die stad in die oop veld loslaat en so toedekking doen vir die huis en dit sal rein wees.

54Dit is die wet oor elke plaag van melaatsheid en oor skurfheid, 55oor melaatsheid van klere en huise 56en oor swelsels, uitslag en helder vlekke, 57om te leer wanneer iets onrein en wanneer iets rein is. Dit is die wet aangaande melaatsheid.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Leviticus 13
Top of Page
Top of Page