Rigters 16
Afrikaans PWL
1Toe het Shimshon na `Azah gegaan waar hy ’n hoer gesien en by haar ingegaan het. 2Toe die manne van `Azah die boodskap kry: “Shimshon het hiernatoe gekom,” omsingel hulle hom en wag die hele nag vir hom by die stadspoort en hulle het die hele nag lank stilgebly en gesê: “Teen dagbreek sal ons hom doodmaak.” 3Shimshon het gelê tot middernag en teen middernag het hy opgestaan en die deure van die stadspoort en die twee deurposte gegryp en dié met balk en al uitgeruk, hulle op sy skouers gesit en opgedra na die top van die berg wat oorkant Hevron lê.

4Hierna het dit gebeur dat hy ’n vrou in die dal van Sorek, wie se naam D’lilah was, liefgehad het. 5Toe kom die meesters van die F’lishtyne na haar toe op en sê vir haar: “Verlei hom en vind uit waarin sy groot krag lê en hoe ons hom kan oorweldig om hom vas te bind en te teister, dan sal ons jou elkeen elf honderd sikkels silwer gee.” 6D’lilah vra vir Shimshon: “Vertel my asseblief waarin jou groot krag is en waarmee jy vasgebind kan word om jou te pla.” 7Shimshon sê vir haar: “As hulle my bind met sewe vars koorde wat nie uitgedroog is nie, dan sal ek swak word en wees soos enige man.” 8Toe het die meesters van die F’lishtyne vir haar sewe vars koorde gebring wat nie uitgedroog was nie en sy het hom daarmee vasgebind. 9Sy het manne in die binnekamer laat wag en sy sê vir hom: “Die F’lishtyne is op jou, Shimshon!” Hy breek egter die koorde, soos ’n vlastou breek as dit aan vuur raak. Sy krag is nie uitgevind nie.

10Toe sê D’lilah vir Shimshon: “Let op, jy het my mislei en vir my leuens vertel; vertel my nou asseblief hoe jy vasgebind kan word.” 11Hy antwoord haar: “As hulle my stewig vasbind met nuwe toue wat nie gebruik is nie, dan sal ek swak word en wees soos enige man.” 12D’lilah het nuwe toue gevat en hom daarmee vasgebind en vir hom gesê: “Die F’lishtyne is op jou, Shimshon,” want die manne het in die binnekamer gewag, maar hy het die toue soos ’n garingdraad van sy arms afgebreek.”

13Toe sê D’lilah vir Shimshon: “Tot nou toe het jy my mislei en vir my leuens vertel; vertel my hoe jy vasgebind kan word.” Hy antwoord haar: “As jy die sewe lokke van my hare saam met die weefnet invleg en met ’n pen vasmaak.” 14Terwyl hy slaap, vat D’lilah die sewe lokke van sy hare, weef dit in die weefnet, steek dit vas met die pen en sê vir hom: “Die F’lishtyne is op jou, Shimshon!” Hy het wakker geword uit sy slaap en die weefpen met die weefnet uitgeruk.

15Toe sê sy vir hom: “Hoe kan jy sê: ‘Ek het jou lief!’ terwyl jou binneste nie met my is nie? Jy het my nou hierdie drie keer mislei en my nie vertel waar jou groot krag is nie”. 16Dit het gebeur toe sy hom daagliks met haar woorde gedruk en by hom aangedring het dat sy gees vies was tot die dood toe. 17Hy het vir haar alles vertel wat in sy gemoed was en vir haar gesê: “Daar het nooit ’n skeermes oor my kop gekom nie, want ek is ’n Natzir tot God van my moeder se baarmoeder af. As ek geskeer word, sou my krag my verlaat en ek sal swak word en wees soos enige man.”

18Toe D’lilah sien dat hy haar alles vertel het wat in sy binneste was, stuur sy en laat die meesters van die F’lishtyne roep en sê: “Kom weer ’n keer op, want hy het vir my alles wat in sy binneste was, vertel.” Toe kom die meesters van die F’lishtyne op na haar toe en bring die geld in hulle hande. 19Sy het hom op haar skoot laat slaap en ’n man geroep en hom die sewe haarlokke laat afskeer. Toe het sy hom begin lastig val en sy krag het hom verlaat. 20Sy het gesê: “Die F’lishtyne is op jou, Shimshon!” Hy het uit sy slaap wakker geword en gesê: “Ek sal uitgaan soos die vorige kere en myself losruk.” Hy het egter nie geweet dat יהוה van hom af weggegaan het nie. 21Die F’lishtyne het hom gegryp, sy oë uitgesteek, hom afgebring na `Azah en hom met koperkettings vasgebind en hy was ’n maler in die gevangenis. 22Die hare van sy kop het egter weer begin groei nadat dit afgeskeer is.

23Die meesters van die F’lishtyne het bymekaargekom om ’n groot offer te bring aan hulle god Dagon en om hulle te verbly, want hulle het gesê: “Ons god het ons vyand, Shimshon, in ons hand gegee.”

24Toe die mense hom sien, het hulle hul god geprys, want hulle het gesê: “Ons god het ons vyand, die vernietiger van ons land, wat baie van ons doodgeslaan het, in ons hand gegee.”

25Dit het so gebeur dat toe hulle gees opgelig was, hulle sê: “Laat Shimshon haal sodat hy ons kan vermaak.” Hulle het Shimshon uit die gevangenis laat haal en hy het hulle vermaak. Hulle het hom tussen die pilare laat staan. 26Toe sê Shimshon vir die jongman wat sy hand vasgehou het: “Laat my die pilare voel waarop die huis rus dat ek teen hulle kan leun.” 27Nou, die huis was vol manne en vroue en al die meesters van die F’lishtyne was daar en omtrent drie duisend manne en vroue was op die dak wat gekyk het hoe Shimshon hulle vermaak.

28Toe roep Shimshon uit na יהוה en sê: “Meester, יהוה, onthou my asseblief en versterk my asseblief net hierdie keer, o God, sodat ek in ’n oomblik vir my twee oë gewreek mag word teen die F’lishtyne!” 29Shimshon het sy arms om die twee middelste pilare waarop die huis gerus het, geslaan en homself teen hulle gedruk, die een met sy regter en die ander met sy linkerhand. 30Shimshon het gesê: “Laat my sterf saam met die F’lishtyne!” Hy het met al sy krag gebuig sodat die huis ingeval het op die meesters en op al die mense wat daarin was. So was die dooies wat hy met sy sterwe gedood het, meer as die wat hy in sy lewe gedood het. 31Toe het sy broers en sy vader se hele huishouding afgekom en hom opgevat en hom begrawe tussen Tzor’ah en Eshta’ol, in die graf van sy vader Manoag. So het hy Yisra’el vir twintig jaar lank gerig.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Judges 15
Top of Page
Top of Page