Josua 3
Afrikaans PWL
1Toe het Y’hoshua die oggend vroeg opgestaan en hy en al die seuns van Yisra’el het van Shitteem af weggetrek en by die Yarden gekom en daar oorgebly voordat hulle deurgetrek het. 2Aan die einde van drie dae het die offisiere deur die kamp gegaan 3en die volk beveel en gesê: “Wanneer julle die verbondsark van יהוה, julle God, sien en die Levitiese priesters wat hom dra, moet julle van jul plek af opbreek en agter hom aangaan. 4Daar moet egter ’n afstand van omtrent twee duisend el tussen julle en hom wees. Moenie naby dit kom nie sodat julle die pad kan ken waarlangs julle moet trek, want julle het nie vroeër met dié pad getrek nie.”

5Toe het Y’hoshua vir die volk gesê: “Sonder julleself af, want môre sal יהוה wonders onder julle doen.” 6Y’hoshua het met die priesters gepraat en gesê: “Tel die verbondsark op en gaan oor, voor die volk uit.” Hulle het die verbondsark opgetel en voor die volk uit getrek.

7Nou, יהוה het vir Y’hoshua gesê: “Vandag sal Ek begin om jou op te lig voor die oë van die hele Yisra’el sodat hulle kan weet dat Ek met jou sal wees net soos Ek met Moshe was. 8Jy moet ook die priesters wat die verbondsark dra beveel en sê: ‘Wanneer julle aan die kant van die water van die Yarden kom, moet julle in die Yarden bly staan.’” 9Toe sê Y’hoshua aan die seuns van Yisra’el: “Kom hier en hoor, luister en doen die woorde van יהוה, julle God.” 10Y’hoshua het gesê: “Hieraan sal julle weet dat daar ’n lewende God tussen julle is en dat Hy sekerlik die Kena’aniete, die Hittiete, die Hiviete, die P’riziete, die Girgashiete, die Emoriete en die Y’vusiete voor julle uit sal verdrywe: 11let op, die ark van die verbond van die Meester van die hele aarde trek voor julle uit die Yarden in. 12Vat nou vir julle twaalf manne uit die stamme van Yisra’el, een man uit elke stam. 13Dit sal wees, wanneer die voetsole van die priesters wat die ark van יהוה, die Meester van die hele aarde, dra, in die water van die Yarden rus, die water van die Yarden afgesny sal word; die water wat van die bokant afkom sal op een hoop bly staan.”

14Toe die volk wegtrek uit hulle tente om deur die Yarden te gaan, met die priesters wat die ark van die verbond dra, voor die volk 15en die draers van die ark by die Yarden kom en die priesters wat die ark dra, hulle voete aan die kant van die water insteek, want die Yarden oorvloei beide sy walle, al die dae van die oes, het dit gebeur dat 16die water wat van die bokant afvloei bly staan het en opgerys het in een hoop, baie ver weg by Adam, wat langs Tzartan lê en die wat afvloei na die See van die Vlakte (`Aravah), die Soutsee, is heeltemal afgesny. Die volk het oorkant Yerigo oorgetrek. 17Die priesters wat die ark van die verbond van יהוה gedra het, het stewig op droë grond in die middel van die Yarden bly staan terwyl die hele Yisra’el op droë grond deurgetrek het totdat die hele volk klaar deur die Yarden getrek het.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Joshua 2
Top of Page
Top of Page