Josua 20
Afrikaans PWL
1Toe het יהוה met Y’hoshua gepraat en gesê: 2“Praat met die seuns van Yisra’el en sê: ‘Wys die stede van ontvlugting aan, waarvan Ek deur die diens van Moshe met julle gepraat het 3sodat hy wat doodslag begaan het, wat enige persoon onopsetlik, sonder voorbedagde rade doodgemaak het, daarheen kan vlug en hulle sal vir julle dien as toevlugsoord vanweë die bloedwreker. 4Hy moet na een van hierdie stede vlug en gaan staan by die ingang van die stadspoort en sy saak voor die ore van die oudstes van daardie stad stel en hulle moet hom by hulle in die stad inneem en aan hom plek gee sodat hy tussen hulle kan bly. 5Nou, as die bloedwreker hom agternajaag, mag hulle hom wat die doodslag begaan het, nie in sy hand uitlewer nie omdat hy sy naaste sonder opset doodgemaak het en hom nie vroeër gehaat het nie. 6Hy moet in daardie stad bly totdat hy voor die vergadering gestaan het vir beoordeling en tot die dood van die een wat hoofpriester is in daardie dae; dan moet hy wat die doodslag begaan het, teruggaan na sy eie stad en sy eie huis, na die stad vanwaar hy gevlug het’.”

7Hulle het Kedesh in die Galil, in die Bergland van Naftali, Sh’khem in die Bergland van Efrayim en Kiryat-Arba, (dit is Hevron), op die Bergland van Y’hudah, afgesonder. 8Oorkant die Yarden, oos van Yerigo, het hulle Betzer in die wildernis, wat op die vlakte is, uit die stam van Re’uven; Ramoth in Gil’ad, uit die stam van Gad en Golan in Bashan uit die stam van M’nasheh, aangestel. 9Hierdie is die aangestelde stede vir al die seuns van Yisra’el en vir die vreemdeling wat onder hulle besoek sodat elkeen wat per ongeluk ’n mens doodgemaak het, daarheen kan vlug en nie hoef te sterf deur die hand van die bloedwreker voordat hy voor die vergadering gestaan het nie.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Joshua 19
Top of Page
Top of Page