Johannes 2
Afrikaans PWL
1Op die Derdedag was daar ’n bruilofsfees in Kanah, ’n stad in die Galil en die moeder van Yeshua was daar. 2Yeshua self en Sy studentevolgelinge is ook na die bruilofsfees genooi. 3Die wyn was te min en Yeshua se moeder sê vir Hom: “Hulle het nie wyn nie.” 4Yeshua sê vir haar: “Wat het ons in gemeen, vrou? My tyd het nog nie gekom nie.” 5Sy moeder sê vir die diensknegte: “Wat Hy ook al vir julle sê, dit moet julle doen.” 6Daar was ses klip waterkanne vir die Joodse seremoniële reinigings, wat elkeen ’n honderd tot ’n honderd en vyftig liter hou. 7Yeshua sê vir hulle: “Maak die kanne vol water.” Hulle het hul tot by die rand toe vol gemaak. 8Hy sê vir hulle: “Skep nou uit en vat dit vir die seremoniemeester.” Hulle het dit gevat. 9Toe die seremoniemeester die water, wat wyn geword het, proe (hy het nie geweet waar dit vandaan kom nie, maar dié wat bedien en die water geskep het, het geweet), roep die seremoniemeester die bruidegom 10en sê vir hom: “Alle mense sit eers die goeie wyn voor en, wanneer hulle goed gedrink het, dan die slegte, maar u het die goeie wyn tot nou toe gehou.” 11Hierdie eerste een van Sy wonderwerke het Yeshua in Kanah in die Galil gedoen en Hy het Sy eer, lof en grootheid gewys en Sy studentevolgelinge het in Hom vertrou.

12Daarna het Hy na K’far-Nagum afgegaan, saam met Sy moeder, Sy broers en Sy studentevolgelinge en hulle was ’n paar dae daar.

13Pesag van die Jode was naby en Yeshua het na Yerushalayim opgegaan 14en Hy het die verkopers van beeste, skape, duiwe en die geldwisselaars wat daar sit, in die tempel gekry. 15Hy het vir Homself ’n sweep van tou gemaak en almal uit die tempel uitgedryf; die skape en die beeste en die geldstukke van die wisselaars het Hy ook uitgegooi en hulle tafels omgekeer. 16Vir die duiweverkopers het Hy gesê: “Vat hierdie goed hier uit; moenie die huis van My Vader ’n huis vir handeldryf maak nie.” 17Sy studentevolgelinge het egter onthou dat daar geskrywe is: “Die ywer vir U huis het My verteer.” Ps 69:10 18Hierop antwoord die Jode en sê vir Hom: “Watter wonderteken wys U vir ons dat U hierdie dinge doen?” 19Yeshua antwoord en sê vir hulle: “Breek hierdie tempel af en in drie dae sal Ek dit oprig.” 20Die Jode sê vir Hom: “Ses en veertig jaar lank word aan hierdie tempel gewerk en U sal dit in drie dae oprig?” 21Hy het dit gesê aangaande die Tempel van Sy liggaam 22en nadat Hy uit die graf uit opgestaan het, het Sy studentevolgelinge onthou dat Hy dit vir hulle gesê het en hulle het die Skrif en die boodskap wat Yeshua gebring het, vertrou.

23Terwyl Hy, tydens die fees van Pesag, in Yerushalayim gebly het, het baie in Sy Outoriteit en Karakter vertrou omdat hulle die wondertekens wat Hy doen, gesien het, 24maar Yeshua self het húlle nie vertrou nie omdat Hy almal geken het 25en omdat Hy nie nodig gehad het dat iemand oor enige iemand sou getuig nie, want Hy self het geweet wat in die mens is.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
John 1
Top of Page
Top of Page