Johannes 14
Afrikaans PWL
1“Laat julle verstand, wil en emosie nie ontsteld wees nie; vertrou in God en vertrou in My. 2In die huis van My Vader is daar baie blyplekke en as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek voor te berei 3en as Ek gegaan en vir julle plek voorberei het, kom Ek weer en sal julle saam met My vat sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4Waarheen Ek gaan, weet julle en die pad ken julle.”

5T’oma sê vir Hom: “Ons Meester, ons weet nie waarheen U gaan nie en hoe kan ons die pad ken?” 6Yeshua antwoord hom: “ אנא אנא - Ek is, was, sal wees Wie Ek is, was, sal wees, die Pad, die Waarheid en die Lewe; niemand gaan na My Vader toe nie, behalwe deur My.

7As julle My geken het, sou julle My Vader ook geken het. Van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.”

8Filippos sê vir Hom: “Ons Meester, wys ons die Vader en dit sal vir ons genoeg wees.” 9Yeshua sê vir hom: “Ek is hierdie hele tyd by julle en het jy My nie geken nie, Filippos? Wie My ook al gesien het, het die Vader gesien en hoe sê jy: ‘Wys ons die Vader?’ 10Vertrou jy nie dat Ek in My Vader is en My Vader in My nie? Die woorde wat Ek met julle praat, sê Ek nie uit Myself nie, maar die Vader wat in My bly, Hy doen die dade. 11Vertrou My dat Ek in die Vader is en die Vader in My of anders, vertrou My ter wille van die dade self. 12Dit is ’n tydlose waarheid wat Ek vir julle sê: wie in My vertrou, die dade wat Ek gedoen het, sal hy ook doen en hy sal groter dade doen as dit omdat Ek na My Vader toe sal gaan. 13Enige iets wat julle ook al in My Outoriteit en Karakter mag vra, dit sal Ek doen sodat die Vader in die Seun vereer en geloof kan word. 14As julle iets in My Outoriteit en Karakter vra, sal Ek dit doen.

15As julle My liefhet, voer voortdurend My opdragte uit.

16Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Bevryder en Lewegewer gee om by julle te bly tot in ewigheid. 17Hy is die Gees van die Waarheid, wat die wêreld nie kan ontvang nie omdat dit Hom nie gesien het of Hom geken het nie, maar julle ken Hom omdat Hy by julle bly en in julle is.

18Ek sal julle nie as weeskinders los nie, want Ek sal na julle toe kom na ’n kort rukkie. 19Die wêreld sal My nie sien nie, maar julle sal My sien. Aangesien Ek lewe, sal julle ook lewe. 20In dié dag sal julle weet dat Ek in My Vader is en julle in My en Ek in julle. 21Wie ook al My opdragte het en hulle uitvoer, dit is hy wat My liefhet en wie My liefhet, hóm sal My Vader liefhê en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.” 22Y’hudah, nie die een van K’riot nie, vra vir Hom: “My Meester, hoe is dit dat U Uself aan ons sal openbaar en nie aan die wêreld nie?” 23Yeshua antwoord en sê vir hom: “As iemand My liefhet, sal hy My boodskap gehoorsaam en My Vader sal hom liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom blyplek maak. 24Hy wat My nie liefhet nie, gehoorsaam nie My boodskappe nie en hierdie boodskap wat julle hoor, is nie Myne nie, maar is van die Vader af wat My gestuur het.

25Hierdie dinge het Ek vir julle gesê terwyl Ek by julle is, 26maar die Bevryder en Lewegewer, die Gees van Afsondering, wat My Vader in My Outoriteit en Karakter sal stuur, sal julle alles leer en julle herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.

27Vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid los Ek vir julle. My vrede, gesondheid, voorspoed en vergenoegdheid gee Ek aan julle. Ek gee nie aan julle soos die wêreld gee nie. Laat julle verstand, wil en emosie nie ontsteld word en bang wees nie. 28Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: ‘Ek gaan weg en Ek kom weer na julle toe.’ As julle My liefgehad het, sou julle bly wees dat Ek gesê het: ‘Ek gaan na My Vader toe’ omdat My Vader groter is as Ek. 29Nou, let op, Ek het dit vir julle gesê voordat dit gebeur sodat julle kan vertrou wanneer dit gebeur het. 30Ek sal nie meer baie met julle praat nie, want die prins van hierdie wêreld kom en hy het niks wat hy teen My kan bewys nie, 31maar die wêreld moet leer dat Ek My Vader liefhet en presies doen soos die Vader My beveel het; staan op sodat ons hiervandaan kan weggaan.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
John 13
Top of Page
Top of Page