Job 3
Afrikaans PWL
1Na dit het Iyov sy mond oopgemaak en die dag waarop hy gebore is vervloek. 2Iyov het gepraat en gesê:

3“Laat die dag vergaan waarop ek gebore is en die nag waarin dit gesê is: ‘’n Seun is gevorm;’

4laat daardie dag duisternis wees; laat God dit nie erken van bo af nie en laat die lig ook nie daarop skyn nie;

5laat die duisternis en doodskaduwee dit toedek; laat ’n wolk dit oorskadu; laat hulle wie se dag bitter is deur dit beangs word;

6wat daardie nag betref, laat dik donkerheid hom bedek; laat daardie dag nie bereken word in die dae van die jaar nie, nie kom in die getal van die maande nie;

7ja, laat daardie nag onvrugbaar wees, geen uitroep van vreugde daarin kom nie;

8laat hulle wat die dag vervloek, dit vervloek, hulle wat gereed is om die Leviatan aan te hits;

9laat die sterre van sy oggendskemering donker wees; laat die mense wag op lig, maar niks kry nie en laat hulle ook nie die ondergaan van die dag sien nie

10omdat dit nie die deure van my moeder se baarmoeder toegesluit het nie en ook nie moeilikheid vir my oë weggesteek het nie.

11Waarom het ek nie in die baarmoeder gesterf nie? Waarom het ek uitgekom by geboorte?

12Waarom is ek op my moeder se knieë grootgemaak? Waarom het ek aan die borste gedrink?

13Ek moes nou in die graf gelê en stil gewees het; ek moes geslaap het, dan sou ek tot rus gekom het

14saam met konings en raadgewers van die aarde, wat verlate plekke vir hulleself bou;

15of saam met prinse wat goud besit, wat hulle huise met silwer volmaak;

16of soos ’n weggesteekte miskraam, asof ek nie bestaan het nie; soos babas wat nooit die lig sien nie.

17Daar hou die bose op met woelinge en daar kom die wat moeg is tot rus.

18Daar rus die gevangenes saam; hulle hoor nie die stem van die onderdrukker nie.

19Klein en groot is daar en die slaaf is vry van sy meester.

20Hoekom word daar lig gegee aan die een wat moeilikheid het en lewe aan die wat verbitterd is in die lewe,

21wat verlang na die dood en dit kom nie en dit soek soos een na ’n weggesteekte skat soek;

22wat uitermate bly is en hulle verheug as hulle die graf kon vind?

23Waarom word lig gegee aan ’n man wie se lewenswyse weggesteek is, wat rondom afgekamp is deur God?

24Want my gesug kom voor ek eet en my gekerm word uitgegooi soos water,

25want die ding wat ek grootliks vrees, het oor my gekom en dit waarvoor ek bang was, het na my toe gekom.

26Ek is nie rustig nie, ook nie kalm nie en nie in rus nie en tog het rampe gekom!”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Job 2
Top of Page
Top of Page