Job 27
Afrikaans PWL
1Iyov het sy rede voortgesit en gesê:

2“So waar as God leef wat regverdige oordeel van my weggeneem het en die Almagtige wat my lewe bitter gemaak het,

3solank as wat die lewe in my is en die Gees van God in my neusgate is,

4sal my lippe nie boosheid praat en my tong bedrog verkondig nie!

5Dit is ’n verwerplike gedagte dat ek boosheid sou doen. Totdat ek sterf, sal ek nie my onskuld laat vaar nie.

6Ek hou onveranderlik aan my onpartydige opregtheid vas en sal dit nie laat los nie; my verstand, wil en emosie sal my nie veroordeel nie, so lank as wat ek lewe.

7Laat my vyand wees soos die moreel slegte persoon en hy wat my haat soos ’n bose persoon,

8want alhoewel hy rykdom vergader het, wat is die verwagting van die bose wanneer God sy lewe wegvat?

9God sal nie sy gebed hoor wanneer moeilikheid oor hom kom nie,

10maar as hy sou vertrou in die Almagtige en altyd tot God roep, sal God hom hoor en antwoord.

11Wat julle betref, ek sal julle oorgee in die hand van God sodat julle woorde nie vir Hom weggesteek sal wees nie.

12Let op, julle het dit almal gesien, waarom roem julle oor niks?

13Hierdie is die deel van ’n bose mens by God en die erfenis van onderdrukkers, wat hulle van die Almagtige sal ontvang:

14as sy kinders vermenigvuldig, is dit vir die swaard en sy nageslag sal nie versadig word met brood nie.

15Die wat van hulle oorbly, sal in die dood begrawe word en hulle weduwees sal nie oor hulle huil nie.

16Alhoewel hulle silwer ophoop soos stof en klere versamel soos klei;

17hulle mag dit ophoop, tog sal die regverdige dit dra en ook hulle silwer verdeel,

18want die bose het sy huis gebou op ’n spinnerak en sy skuilplek soos ’n skerm.

19Die ryk man sal gaan lê, maar hy sal nie weer opstaan nie; hy maak sy oë oop en hy is nie meer nie.

20Angs oorval hom soos waterstrome en soos ’n stormwind wat waai.

21Die oostewind sal hom wegdra in die nag en hy is weg en sal hom ruk uit sy plek,

22want God sal hom uitgooi sonder om jammer te wees en hy kan nie uit Sy hand ontsnap nie.

23Hy sal hom klap met Sy hand en met hom spot uit Sy blyplek.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Job 26
Top of Page
Top of Page