Job 21
Afrikaans PWL
1Toe het Iyov geantwoord en gesê:

2“Luister ernstig na my woorde en laat dit julle vertroosting wees.

3Verdra my sodat ek mag praat en nadat ek gepraat het, spot dan met my.

4Ek sal my klagte teenoor ’n mens uitspreek; waarom my gees ontsteld is.

5Draai om na my, wees verstom en lê jou hand op jou mond.

6Selfs as ek daaraan dink, bewe ek en angs gryp my vlees aan.

7Waarom bly die bose lewe en waarom is die magtiges vol krag vir jare?

8Hulle nageslag word voor hulle bevestig saam met hulle en hulle seuns voor hulle oë.

9Hul huise is veilig van vrees en ook is die lat van God nie op hulle nie.

10Hulle bul teel en faal nie; hulle koei kalf en het geen miskraam nie.

11Hulle kinders staan vas soos ’n trop en hulle seuns dans.

12Hulle vat die tamboeryne en harpe en verheug hul by die klank van sang.

13Hulle spandeer hul dae in oorvloed en gaan dan skielik af na Sh’ol.

14Hulle sê vir God: ‘Gaan weg van ons af, want ons begeer nie om U lewenswyses te ken nie.’

15Hulle sê verder: ‘Wie is God dat ons Hom sou dien en wat sal dit ons baat dat ons tot Hom sal bid?’

16Let op, hulle het geen mag oor hulle voorspoed nie; die raad van die bose is ver van my!

17Hoe dikwels word die bose sonder ’n erfgenaam gelaat! Hoe dikwels kom hul vernietiging oor hulle! God deel smarte uit in Sy woede.

18Hulle is soos strooi voor die wind en soos kaf wat die storm wegdra.

19God sit die boosheid van ’n man eenkant vir sy kinders; Hy betaal dit terug aan hom en hy sal dit weet!

20Sy eie oë sal sy vernietiging sien en hy sal drink van die woede van die Almagtige,

21want watter plesier het hy in sy huis wat ná hom is, as ’n gedeelte van sy jare vir sy nageslag opsy gesit word?

22Sal enige een vir God kennis leer, aangesien Hy die Een is wat die trotses oordeel?

23Een sterf in volle krag, liggaamlik gesond, volledig selfversekerd en gemaklik.

24Sy liggaam is vol vet en sy gebeente is vol murg

25en ’n ander sterf in die bitterheid van sy lewe, wat nooit voorspoed gesmaak het nie.

26Hulle sal saam in die stof lê en die wurms sal hulle bedek.

27Let op, ek ken julle gedagtes en die slim planne wat julle verkeerdelik teen my smee,

28want julle sê: ‘Waar is die huis van die edelman en waar is die plek waar die bose sy tent opgeslaan het?’

29Het julle nie die verbygangers gevra nie; herken julle nie hulle tekens nie?

30Want die bose man word opsy gesit vir die dag van vernietiging, hy sal onthou word in die dag van woede.

31Wie kan vir hom die pad wys en wie sal hom terugbetaal vir wat hy gedoen het?

32Nogtans sal hy na die graf gebring word, hy is opsy gesit vir teëspoed.

33Die diepte van die vallei sal hom insluk en baie sal agter hom ingetrek word, net soos daar ontelbares voor hom was.

34Hoe kan julle my dan sonder rede troos, aangesien julle verwerplike antwoorde voor my vermenigvuldig?”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Job 20
Top of Page
Top of Page