Jeremia 34
Afrikaans PWL
1Die woord wat van יהוה tot Yirmeyahu gekom het toe N’vukhadnetzar, koning van Bavel en sy hele leër, saam met al die koninkryke van die aarde wat onder sy heerskappy is en al die volke teen Yerushalayim en al sy stede oorlog gevoer het en gesê het: 2“So sê יהוה-God van Yisra’el: ‘Gaan en praat met Tzidkiyahu, koning van Y’hudah en sê vir hom: “So sê יהוה: ‘Let op, Ek gee hierdie stad in die hand van die koning van Bavel en hy sal dit met vuur verbrand. 3Jy sal nie uit sy hand ontvlug nie, want jy sal sekerlik gevang en in sy hand oorgegee word en jy sal die koning van Bavel oog tot oog sien en hy sal met jou mond tot mond praat en jy sal na Bavel toe gaan.’”’ 4Tog, luister na die woord van יהוה, o Tzidkiyahu, koning van Y’hudah! So sê יהוה aangaande jou: ‘Jy sal nie deur die swaard sterf nie. 5Jy sal in vrede sterf en soos wierook vir jou vaders, die vorige konings wat voor jou was, gebrand is, só sal hulle ook vir jou brand en rou oor jou: “Ag, meester,’” want Ék het die woord gespreek,” verklaar יהוה.

6Toe het Yirmeyahu, die profeet, al hierdie woorde vir Tzidkiyahu, koning van Y’hudah, in Yerushalayim gesê, 7terwyl die leër van die koning van Bavel oorlog voer teen Yerushalayim en teen al die stede van Y’hudah wat oorgebly het: Lakhish en `Azekah, want hulle het alleen as versterkte stede oorgebly onder die stede van Y’hudah.

8Die woord wat van יהוה tot Yirmeyahu gekom het nadat koning Tzidkiyahu ’n verbond gesluit het met die hele volk wat in Yerushalayim was, om vir hulle vrylating uit te roep: 9dat elke man sy slaaf en sy slavin, ’n Hebreeuse man of Hebreeuse vrou, vry moet laat sodat niemand ’n Hebreër, sy broer, in bande sou hou nie. 10Al die amptenare en al die mense wat die verbond aangegaan het, het gehoorsaam dat elkeen sy slaaf en sy slavin vry sou laat gaan sodat niemand hulle meer in slawerny sou hou nie; hulle het gehoorsaam en hulle vrygelaat, 11maar later het hulle omgedraai en weer die slawe en slavinne terug gevat wat hulle vrygelaat het en hulle het hulle as slawe en slavinne onderwerp.

12Toe het die woord van יהוהtot Yirmeyahu gekom en gesê: 13“So sê יהוה-God van Yisra’el: ‘Ek het ’n verbond met julle vaders gesluit op die dag toe Ek hulle uit Mitzrayim, uit die huis van slawerny, uitgebring het en gesê: 14“Aan die einde van sewe jaar moet elkeen van julle sy broer, die Hebreër wat aan jou verkoop is en jou ses jaar lank gedien het, vry laat weggaan; jy moet hom vry van jou af wegstuur, maar julle voorvaders het nie na My geluister of hulle oor na My gedraai nie. 15Alhoewel júlle onlangs omgedraai het en gedoen het wat reg is in My oë, om elkeen vrylating aan sy naaste aan te kondig en julle ’n verbond gesluit het voor My Teenwoordigheid, in die huis wat na My Naam genoem is, 16het julle tog gedraai en My Naam (Karakter en Outoriteit) onteer en elkeen het sy slaaf en sy slavin wat julle vrygelaat het volgens hulle begeerte, teruggevat en julle het hulle in onderdanigheid gebring om julle slawe en slavinne te wees;’”

17daarom, so sê יהוה: ‘Júlle het nie na My geluister om vrylating aan te kondig, elkeen vir sy broer en vir sy naaste nie. Let op, Ek kondig ’n vrylating aan vir jou,’ verklaar יהוה, ‘tot die swaard, die pes en die hongersnood en Ek sal van julle ’n verskrikking maak vir al die koninkryke van die aarde. 18Ek sal die manne wat My verbond oortree het, wat nie die woorde van die verbond nagekom het wat hulle voor My Teenwoordigheid gesluit het nie, toe hulle die kalf in twee stukke gesny en tussen die stukke deurgeloop het; 19die amptenare van Y’hudah, die amptenare van Yerushalayim, die hofamptenare, die priesters en die hele volk van die land wat tussen die stukke van die kalf deurgegaan het; 20Ek sal hulle gee in die hand van hulle vyande en in die hand van die wat hulle lewe soek en hulle lyke sal kos wees vir die voëls van die hemel en vir die wilde diere van die aarde. 21Tzidkiyahu, koning van Y’hudah en sy amptenare sal Ek oorgee in die hand van hulle vyande en in die hand van die wat hulle lewe soek en in die hand van die leër van die koning van Bavel wat van julle af weggetrek het. 22Let op, Ek gaan bevel gee,’ verklaar יהוה, ‘en Ek sal hulle na hierdie stad toe terugbring en hulle sal daarteen oorlog voer en dit inneem en dit met vuur verbrand en Ek sal die stede van Y’hudah ’n verlatenheid maak, sonder inwoner.’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 33
Top of Page
Top of Page