Jeremia 31
Afrikaans PWL
1“In daardie tyd,” verklaar יהוה, “sal Ek die God wees van al die families van Yisra’el en hulle sal My volk wees.”

2So sê יהוה: “Die mense wat die swaard oorleef het, het onverdiende guns gevind in die wildernis toe Yisra’el gegaan het om sy rus te vind.”

3יהוה het van ver af aan hom verskyn: “Ek het jou liefgehad met ’n ewige liefde; daarom het Ek jou nader getrek met liefdevolle goedheid.

4Ek sal jou weer bou en jy sal herbou wees, o maagd van Yisra’el! Jy sal weer jou tamboeryne optel en gaan na die danse van die feesvierders.

5Jy sal weer wingerde plant op die heuwels van Shomron; die planters sal plant en hulle geniet,

6want die dag sal kom wanneer die wagters op die heuwels van Efrayim uitroep: ‘Staan op en laat ons opgaan na Tziyon, na יהוה, ons God,’”

7want so sê יהוה: “Sing hardop uit vreugde vir Ya’akov en roep uit oor die hoofde van die nasies; verkondig dit, sing lofprysing en sê: ‘O יהוה, red U volk, wat oorgebly het van Yisra’el.’

8Let op, Ek bring hulle vanuit die noordelike land en Ek sal hulle bymekaar maak vanaf die afgeleë dele van die aarde; tussen hulle die blindes, die lammes, die vroue wat swanger is en die wat in kraam is, almal saam; as ’n groot vergadering sal hulle hierheen terugkom.

9Hulle sal met gehuil en met smekinge kom. Ek sal hulle lei; Ek sal hulle op paaie met water laat loop, op ’n gelyk pad waarop hulle nie sal struikel nie, want Ek is ’n Vader vir Yisra’el en Efrayim is My eersgeborene.”

10Luister en hoor die woord van יהוה, o nasies en verkondig in die kuslande wat ver is en sê: “Hy wat Yisra’el verstrooi het, sal hom bymekaarmaak en hom bewaak soos ’n herder sy kudde bewaak,”

11want יהוה het Ya’akov losgekoop en hom bevry uit die hand van hom wat sterker was as hy.

12Hulle sal kom en uitroep van vreugde op die hoogte van Tziyon en stralend wees oor die buit van יהוה, oor die graan en die nuwe wyn en die olie en oor die jong skape en beeste en hulle lewe sal soos ’n natgemaakte tuin wees en hulle sal nooit weer wegkwyn nie.

13Dan sal die maagd haar verheug in die dans en die jongmanne en die oues saam, want Ek sal hulle rou in vreugde verander en hulle troos en vir hulle blydskap gee vir hulle smart.

14Ek sal die lewe van die priesters vol maak met oorvloed en My volk sal versadig wees met My goedheid,” verklaar יהוה.

15So sê יהוה: “’n Stem word gehoor in Ramah, ’n gekerm en bitter gehuil; Ragel huil oor haar kinders; sy weier om getroos te word oor haar kinders, want hulle is nie meer nie.”

16So sê יהוה: “Bedwing jou stem van huil en jou oë van trane, want jou werk sal beloon word,” verklaar יהוה; “hulle sal terugkom uit die land van die vyand.

17Daar is versekerde verwagting vir jou toekoms,” verklaar יהוה; “en die seuns sal terugkom na hulle eie grondgebied.

18Ek het sekerlik vir Efrayim hoor kla: ‘U het my getugtig en ek is getugtig soos ’n ongeleerde kalf. Laat my terugkom sodat ek herstel kan word, want U is יהוה, my God,

19want nadat ek teruggedraai het, het ek berou en erken en nadat ek geleer is, het ek op my heup geslaan; ek was beskaamd en ook vernederd omdat ek die smaad van my jeug gedra het.’

20Is Efrayim My dierbare seun? Is hy ’n genotvolle kind? Inderdaad, so dikwels as wat Ek teen hom gepraat het, onthou Ek hom steeds; daarom verlang My binneste na hom; Ek sal My sekerlik oor hom ontferm,” verklaar יהוה.

21Rig vir jouself padtekens op, sit vir jouself padwysers neer; rig jou gedagtes op die hoofpad, die pad waarop jy gegaan het. Kom terug, o maagd van Yisra’el, kom terug na hierdie, jou stede!

22Hoe lank sal jy heen en weer gaan, o trouelose dogter? Want יהוה het iets nuuts op die aarde geskep: die vrou sal haar man liefhê.”

23So sê יהוה-Tzva’ot, die God van Yisra’el: “Weereens sal hulle hierdie woord sê in die land van Y’hudah en in sy stede, wanneer Ek hulle welvaart verander: ‘יהוה seën jou, o blyplek van onpartydige opregtheid, o afgesonderde heuwel!’

24Y’hudah en al sy stede sal saam daarin bly, die landbouers en die wat met troppe rondgaan, 25want Ek versadig die vermoeide een en verfris elkeen wat wegkwyn.” 26Hiermee het ek wakker geword en opgelet, my slaap was vir my aangenaam.

27“Let op, daar kom dae,” verklaar יהוה, “wanneer Ek die huis van Yisra’el en die huis van Y’hudah sal besaai met die saad van mense en van diere. 28Soos Ek oor hulle gewaak het om uit te ruk, af te breek en om te gooi, te vernietig en skade aan te doen, so sal Ek oor hulle waak om te bou en te plant,” verklaar יהוה.

29“In daardie dae sal hulle nie meer sê: ‘Die vaders het suur druiwe geëet en die tande van die seuns het stomp geword,’ nie,

30maar elkeen sal vir sy eie oortredinge sterf; elke mens wat die suur druiwe eet, sy tande sal stomp word.

31Let op, daar kom dae,” verklaar יהוה, “wanneer Ek met die huis van Yisra’el en die huis van Y’hudah ’n nuwe verbond sal sluit, 32nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle aan die hand gevat het om hulle uit die land van Mitzrayim uit te bring nie; My verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék Meester oor hulle was,” verklaar יהוה. 33Hierdie is egter die verbond wat Ek ná daardie dae met die huis van Yisra’el sal sluit,” verklaar יהוה: “Ek sal My wet binne-in hulle sit en dit op hulle verstand, wil en emosie skryf en Ek sal hulle God wees en hulle sal My volk wees. 34Hulle sal nie meer elkeen sy naaste en elkeen sy broer leer nie en sê: ‘Ken יהוה,’ want hulle sal My almal ken, van die kleinste tot die grootste van hulle,” verklaar יהוה,1 Yog 2:27 “want Ek sal hulle oortredinge vergewe en hulle sondes nie meer onthou nie.”

35So sê יהוה wat die son gee vir lig bedags en die vaste orde van die maan en van die sterre vir lig in die nag; wat die see in beroering bring sodat sy golwe dreun; יהוה-Tzva’ot is Sy Naam (Karakter en Outoriteit):

36“As hierdie vaste orde vertrek voor My Teenwoordigheid,” verklaar יהוה, “dan sal die nageslag van Yisra’el ook vir altyd ophou om ’n volk in My Teenwoordigheid te wees.”

37So sê יהוה: “As die hemele daarbo gemeet kan word en die fondamente van die aarde bestudeer kan word, dan sal Ek ook die hele nageslag van Yisra’el verwerp vir alles wat hulle gedoen het,” verklaar יהוה.

38“Let op, daar kom dae,” verklaar יהוה, “wanneer die stad vir יהוה herbou sal word, vanaf die toring van Hanan’el af tot by die Hoekpoort. 39Die meetlyn sal verder reguit aanloop tot by die heuwel Garev; dan sal dit draai na Go’ah toe. 40Die hele vallei van die dooie liggame en van die as en al die velde so ver as tot by die spruit Kidron, tot by die hoek van die Perdepoort na die oostekant toe, sal afgesonderd wees tot יהוה; dit sal nie weer uitgeruk of omgegooi word tot in ewigheid nie.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 30
Top of Page
Top of Page