Jeremia 20
Afrikaans PWL
1Pash’gur, die priester, die seun van Immer, wat hoof amptenaar was in die huis van יהוה, het vir Yirmeyahu hierdie dinge hoor profeteer. 2Pash’gur het Yirmeyahu, die profeet, laat slaan en hom in die blok gesit by die boonste Binyaminpoort, wat by die huis van יהוה was. 3Die volgende dag, toe Pash’gur Yirmeyahu bevry het uit die blok uit, het Yirmeyahu vir hom gesê: “Pash’gur is nie die naam wat יהוה jou genoem het nie, maar Magor-Missaviv (verskrikking aan elke kant), 4want so sê יהוה: ‘Let op, Ek gaan jou ’n verskrikking maak vir jouself en vir al jou vriende en terwyl jy kyk, sal hulle deur die swaard van hul vyande val. So sal Ek die hele Y’hudah oorgee in die hand van die koning van Bavel en hy sal hulle wegdra as ballinge na Bavel en hulle met die swaard doodmaak. 5Ek sal ook al die rykdom van hierdie stad en al sy produkte en al sy kosbare dinge oorgee; selfs al die skatte van die konings van Y’hudah sal Ek oorgee in die hand van hulle vyande en hulle sal dit plunder, hulle wegvat en na Bavel bring 6en jy, Pash’gur en almal wat in jou huis bly, sal in ballingskap gaan en jy sal Bavel binnegaan en daar sterf en daar begrawe word, jy en al jou vriende vir wie jy valslik geprofeteer het.’”

7O יהוה, ek het U misverstaan en ek is mislei; U was te sterk vir my en het oorwin. Ek het ’n voorwerp van bespotting geword die hele dag lank; almal spot met my,

8want elke keer as ek praat, roep ek dit hard uit; ek verkondig geweld en vernietiging, want die boodskap van יהוה het verwyt en bespotting vir my tot gevolg gehad die hele dag lank.

9As ek egter sê: “Ek sal Hom nie onthou of meer in Sy Naam (Karakter en Outoriteit) praat nie,” dan word dit soos ’n brandende vuur in my verstand, wil en emosie wat in my gebeente opgesluit is en ek is moeg daarvan om dit in te hou, ek kan dit nie uithou nie,

10want ek het baie se bose voornemens gehoor wat van elke kant af bymekaargekom het en met hulle mond na my welsyn verneem het, maar my gehaat het in hulle verstand, wil en emosie en gesê het: “Wys hom uit vir ons, ons sal teen hom staan, miskien sal hy mislei word sodat ons ons wraak op hom kan neem.”

11יהוה is egter by my soos ’n gevreesde Kampioen; daarom sal my vervolgers struikel en nie oorwin nie; hulle sal uiters beskaamd staan omdat hulle gefaal het, met ’n ewige skande wat nie vergeet sal word nie.

12Tog, O יהוה-Tzva’ot, U wat die regverdige toets, wat die gedagtes en die verstand, wil en emosie sien; laat my U wraak sien op hulle, want aan U het ek my regsaak voorgelê.

13Sing vir יהוה, lofprys יהוה, want Hy het die lewe van die behoeftige uit die hand van die boosdoeners bevry.

14Vervloek is die dag waarop ek gebore is; laat die dag waarop my moeder geboorte aan my gegee het, nie geseënd wees nie.

15Vervloek is die man wat vir my vader die nuus gebring en gesê het: “’n Baba seun is vir jou gebore” en hom baie gelukkig gemaak het,

16maar laat dié man wees soos die stede wat יהוה omgekeer het sonder berou en laat hom ’n uitroep in die oggend hoor en ’n alarm se geskree op die middag

17omdat hy my nie voor geboorte doodgemaak het nie sodat my moeder my graf sou word en haar baarmoeder ewig swanger.

18Waarom het ek ooit uit die baarmoeder uitgekom om na moeilikheid en smart te kyk sodat my dae in skande deurgebring is?

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 19
Top of Page
Top of Page