Jeremia 18
Afrikaans PWL
1Die woord wat van יהוה tot Yirmeyahu gekom het: 2“Staan op en gaan af na die huis van die pottebakker en daar sal Ek My woorde vir jou aankondig.” 3Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker en daar was hy besig om iets op die wiel te maak, 4maar die houer wat hy besig was om van klei te maak, het misluk in die hand van die pottebakker; hy het die klei weer gemeng en ’n ander houer gemaak, soos wat die pottebakker goed gedink het om te maak.

5Toe het die woord van יהוה tot my gekom en gesê: 6“Kan Ek nie soos hierdie pottebakker met julle maak nie, o huis van Yisra’el?” verklaar יהוה. “Let op, soos die klei in die hand van die pottebakker, so is julle in My hand, o huis van Yisra’el! 7As ek skielik sou praat van ’n nasie of ’n koninkryk om dit te ontwortel, af te breek of te vernietig; 8as dié nasie waarteen Ek gepraat het, wegdraai van hulle boosheid af, sal Ek die boosheid wat Ek teen hulle beplan het, wegdraai; 9of in ’n ander oomblik sal Ek praat oor ’n nasie of oor ’n koninkryk om dit op te bou of te plant; 10as dit doen wat verkeerd is in My oë deur nie My stem te gehoorsaam nie, dan sal Ek van gedagte verander oor die goeie waarmee Ek belowe het om dit te seën. 11Nou dan, praat met die manne van Y’hudah en teen die inwoners van Yerushalayim en sê: ‘So sê יהוה: “Let op, Ek beplan rampe teen julle en werk ’n plan uit teen julle. O, draai terug, elkeen van julle van sy bose pad en hervorm julle lewenswyse en julle dade.’” 12Hulle het egter gesê: ‘Ons sal sterk word en volgens ons eie planne optree en elkeen van ons sal volgens die hardkoppigheid van sy bose verstand, wil en emosie optree.’

13יהוה sê daarom: ‘Vra nou onder die volke, wie het al ooit so iets gehoor? Die maagd van Yisra’el het ’n mees afskuwelike ding gedoen.

14Verdwyn die groen gras vanaf die berg of verlaat die sneeu L’vanon? Hou die koue water wat uitborrel en afstroom, op met vloei?

15Tog het My volk My vergeet, hulle brand wierook vir die waardelose gode en hulle het gestruikel in hulle lewenswyses, afgedwaal van die antieke lewenswyses, om te loop op paaie waarop nie geloop is nie,

16om hulle land ’n verlatenheid te maak, ’n voorwerp van ewige bespotting; elkeen wat daar verbygaan, sal verstom wees en sy kop skud.

17Soos ’n oostewind sal Ek hulle verstrooi voor die vyand; Ek sal in die dag van hulle katastrofe vir hulle My rug en nie My gesig wys nie.’”

18Toe het hulle gesê: “Kom, laat ons planne maak teen Yirmeyahu, die wet sal sekerlik nie verlore wees vir die priester, of raad by die wyse, of ’n woord vir die profeet nie! Kom, laat ons na hom slaan met die tong en laat ons nie luister na enige van sy woorde nie.”

19יהוה, luister na my en luister na wat my opponente sê!

20Sal goed met kwaad vergeld word, want hulle het vir my ’n gat gegrawe. Onthou hoe ek voor U Teenwoordigheid gestaan het om goed namens hulle te praat, om so U toorn van hulle af weg te draai;

21daarom, gee hulle kinders oor aan hongersnood en lewer hulle oor aan die mag van die swaard en laat hulle vroue kinderloos en weduwees word. Laat hulle manne ook neergeslaan word tot die dood, hulle jongmanne plat geslaan word in die geveg deur die swaard.

22Laat ’n uitroep gehoor word uit hulle huise, wanneer U skielik ’n bende oor hulle bring, want hulle het ’n gat gegrawe om my te vang en strikke weggesteek vir my voete.

23Tog, U, יהוה, ken al hulle dodelike ontwerpe teen my; moenie hulle oortredinge vergewe of hulle sonde voor U uitvee nie, maar mag hulle tot ’n val kom voor U Teenwoordigheid; tree teen hulle op in die tyd van U woede!

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 17
Top of Page
Top of Page