Jeremia 11
Afrikaans PWL
1Die woord wat vanaf יהוה tot Yirmeyahu gekom het: 2“Hoor, luister en doen die woorde van hierdie verbond en praat met die manne van Y’hudah en met die inwoners van Yerushalayim 3en sê vir hulle: ‘So sê יהוה, die God van Yisra’el: “Vervloek is die man wat nie luister na die woorde van hierdie verbond nie en dit nie doen nie; 4wat Ek julle vaders beveel het op die dag toe Ek hulle uit die land van Mitzrayim, uit die ystersmeltoond, uitgelei en gesê het: ‘Luister na My stem en doen volgens alles wat Ek julle beveel; só sal julle My volk wees en Ek sal julle God wees,’ 5om die eed te bevestig wat Ek tot julle vaders gesweer het om aan hulle ’n land wat oorloop van melk en heuning te gee soos dit vandag is.”’” Toe antwoord ek: “Dit is waar, יהוה!”

6יהוה het vir my gesê: “Verkondig al hierdie woorde in die stede van Y’hudah en op die strate van Yerushalayim en sê: ‘Luister en hoor die woorde van hierdie verbond en doen dit, 7want Ek het julle vaders ernstig gewaarsku op die dag toe Ek hulle uit die land van Mitzrayim laat opkom het, selfs tot vandag toe, aanhoudend gewaarsku en gesê: “Luister na My stem!” 8Nogtans het hulle nie gehoorsaam of hulle oor gedraai nie, maar elkeen in die hardkoppigheid van sy bose verstand, wil en emosie geloop; daarom het Ek al die woorde van hierdie verbond oor hulle gebring, wat Ek hulle beveel het om te doen, maar hulle het nie.’”

9Toe het יהוה vir my gesê: “’n Sameswering is ontdek onder die manne van Y’hudah en onder die inwoners van Yerushalayim. 10Hulle het teruggedraai na die oortredinge van hulle voorvaders wat geweier het om My woorde te gehoorsaam en hulle het agter ander gode aangeloop om dié te dien; die huis van Yisra’el en die huis van Y’hudah het My verbond verbreek wat Ek met hulle vaders gesluit het.” 11יהוה sê daarom: “Let op, Ek bring ’n ramp oor hulle waarvan hulle nie kan ontsnap nie; alhoewel hulle na My sal roep, sal Ek nie na hulle luister nie. 12Dan sal die stede van Y’hudah en die inwoners van Yerushalayim gaan en roep na die gode vir wie hulle wierook gebrand het, maar dié sal hulle sekerlik nie red in die tyd van hulle ramp nie, 13want jou gode is soveel as jou stede, o Y’hudah en soveel as die strate van Yerushalayim is die altare wat julle opgerig het vir die skandelike ding, altare om wierook te brand tot Ba’al.

14Moet daarom nie vir hierdie volk bid nie en moet ook nie ’n uitroep of gebed vir hulle oplig nie, want Ek sal nie hoor as hulle My vanweë hulle ramp aanroep nie.

15Watter reg het My geliefde in My huis wanneer sy baie vuil dade gedoen het? Kan die offervleis jou ramp van jou af wegvat sodat jy kan bly wees?”

16יהוה het jou naam (karakter en outoriteit) genoem: “Groen olyfboom, pragtig in vrug en vorm;” met die geluid van ’n groot gedruis het Hy ’n vuur onder dit aangesteek en sy takke is waardeloos.

17יהוה-Tzva’ot, wat jou geplant het, het boosheid teen jou verklaar weens die boosheid van die huis van Yisra’el en van die huis van Y’hudah, wat hulle teen hulleself gedoen het om Hom te tart deur offers aan Ba’al te offer.

18Meer nog, יהוה het dit aan my bekend gemaak en ek het dit geweet; toe het U my hulle dade gewys,

19maar ek was soos ’n mak lam wat hulle lei na die slagting en ek het nie geweet dat hulle teen my planne beraam en gesê het nie: “Laat ons die boom met sy vrugte vernietig en laat ons hom afkap uit die land van die lewendes sodat sy naam nie meer onthou word nie!”

20O יהוה-Tzva’ot, wat regverdiglik oordeel, wat die gevoel en die verstand, wil en emosie toets, laat my U wraak op hulle sien, want aan U het ek my saak oorgegee;

21daarom, so sê יהוה aangaande die manne van `Anatot, wat jou lewe soek en sê: “Moenie profeteer in die Naam (Karakter en Outoriteit) van יהוה nie sodat jy nie sal sterf deur ons hand nie.” 22So sê יהוה-Tzva’ot: “Let op, Ek is op die punt om hulle te straf! Die jongmanne sal deur die swaard sterf, hulle seuns en hulle dogters sal deur die hongersnood sterf 23en niemand sal vir hulle oorbly nie, want Ek sal rampe bring oor die manne van `Anatot in die jaar van hulle straf.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Jeremiah 10
Top of Page
Top of Page