Jesaja 7
Afrikaans PWL
1Dit het in die dae van Agaz, die seun van Yotam, die seun van `Uziyahu, koning van Y’hudah gebeur dat Retzin, koning van Aram en Pekag, die seun van Remalyah, koning van Yisra’el, opgegaan het na Yerushalayim om daarteen oorlog te maak, maar dit nie kon oorwin nie. 2Toe dit aan die huis van Dawid gerapporteer en gesê is: “Die Arameërs het in Efrayim gekamp,” het sy binneste en die binneste van sy mense geskud soos die bome van die bos skud met die wind.

3יהוה het vir Yesha’yahu gesê: “Gaan nou uit na die einde van die watervoor van die boonste poel, by die hoofpad na die wasser se veld, om Agaz te ontmoet, jy en jou seun, Sh’ar Yashuv 4en sê vir hom: “Wees versigtig en wees kalm; wees nie bevrees en moenie lafhartig wees oor hierdie twee rokende stompe brandhout of as gevolg van die gloeiende woede van Retzin, Aram en van die seun van Remalyah nie 5omdat Aram, met Efrayim en die seun van Remalyah, boosheid teen jou beplan en gesê het: 6‘Laat ons opgaan teen Y’hudah en dit terroriseer en vir onsself ’n gat in sy mure maak en die seun van Tav’el koning maak in sy midde,’ nie. 7So sê die Meester, יהוה: ‘Dit sal nie staan nie en ook nie gebeur nie, 8want die hoof van Aram is Dammesek en die hoof van Dammesek is Retzin; binne vyf en sestig jaar sal Efrayim vermorsel word sodat dit nie meer ’n volk is nie 9en die hoof van Efrayim is Shomron en die hoof van Shomron is die seun van Remalyah. As julle nie vertrou nie, sal julle sekerlik nie voortgaan nie!’”

10Toe het יהוה weer met Agaz gepraat en gesê: 11“Vra vir jouself ’n teken van יהוה, jou God; maak dit diep soos Sh’ol of hoog soos die hemel.” 12Agaz het egter geantwoord: “Ek sal nie vra of יהוה toets nie.” 13Toe sê hy: “Luister nou, o huis van Dawid! Is dit ’n te klein saak vir julle om mense se geduld te beproef sodat julle die geduld van my God ook beproef? 14יהוה sal daarom self aan julle ’n teken gee: let op, ’n maagd sal swanger word en geboorte gee aan ’n seun en sy sal Sy Naam (Karakter en Outoriteit) `Immanu’el noem. 15Hy sal dikmelk en heuning eet teen die tyd dat Hy sal weet hoe om die bose te weier en om die goeie te kies, 16want voordat die Seun sal weet hoe om die bose te weier en die goeie te kies, sal die land voor wie se twee konings jy lastig geval word, verlate wees.

17יהוה sal oor jou, jou volk en die huis van jou vader sulke dae laat kom soos daar nie gekom het van die dag dat die koning van Ashur Efrayim van Y’hudah afgeskei het nie!

18In dié dag sal יהוה vir die vlieë fluit wat aan die verste einde van die strome van Mitzrayim is en vir die bye wat in die land van Ashur is. 19Hulle sal kom en gaan sit op die steil klowe, op die lysies van die kranse en op al die doringbosse en op al die drinkplekke.

20In dié dag sal יהוה met ’n skerp skeermes die anderkant van die Eufraat, deur die koning van Ashur, die kop en die beenhare skeer en hy sal ook die baard afskeer.

21In daardie dag mag ’n man ’n jong koei en ’n paar skape aan die lewe hou 22en weens die oorvloed van melk wat hulle lewer, sal hy dikmelk eet, want almal wat in die land oorgebly het sal dikmelk en heuning eet.

23Dit sal gebeur in daardie dag dat op elke plek waar daar ’n duisend wingerdstokke was, met die waarde van ’n duisend sikkels silwer, dorings en distels sal kom. 24Met pyl en boog sal hulle daarheen kom, want die hele land sal vol dorings en distels wees. 25Al die heuwels wat met die skoffelpik bewerk is, sal jy nie na toe gaan nie, uit vrees vir dorings en distels, maar dit sal ’n plek word om beeste te laat wei en vir kleinvee om te vertrap.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 6
Top of Page
Top of Page