Jesaja 66
Afrikaans PWL
1So sê יהוה: “Die hemel is My troon en die aarde is My voetstoel. Waar is dan die huis wat julle vir My kan bou? Waar is ’n plek waar Ek kan rus?

2Want My hand het al hierdie dinge gemaak, so het dit alles ontstaan,” verklaar יהוה, “maar na hierdie een sal Ek kyk: na hom wat nederig is, berouvol van gees en wat My Woord respekvol vrees.

3Hy wat ’n bees slag is soos een wat ’n man doodslaan; hy wat ’n lam offer, soos hy wat ’n hond se nek breek; hy wat ’n graanoffer bring soos een wat varkbloed offer; hy wat wierook brand, is soos hy wat ’n afgod seën. Soos húlle hul eie paaie gekies het en hulle lewens ’n behae in hul verwerplikhede het,

4so sal Ek hulle strawwe kies en dit wat hulle vrees oor hulle bring omdat Ek geroep het, maar niemand het geantwoord nie; Ek het gepraat, maar hulle het nie geluister nie; hulle het boos gedoen in My oë en gekies wat My nie behaag nie.”

5Hoor die woord van יהוה, julle wat bewe voor Sy Woord! “Sê aan julle broers wat julle haat, wat julle uitsluit om My Naam (Karakater en Outoriteit) ontwil: ‘Laat יהוה geloof en geëer word.’ Wees vol vreugde in jou blydskap en hulle sal beskaamd staan!”

6“’n Klank van oproer uit die stad, ’n stem vanaf die tempel. Die stem van יהוה wat Sy vyande beloon!

7Voordat sy geboortepyne gekry het, het sy geboorte gegee; voordat haar pyn gekom het, het sy geboorte gegee aan ’n seun.

8Wie het van so iets gehoor? Wie het sulke dinge gesien? Kan ’n land in een dag gebore word? Kan ’n nasie op een slag voortgebring word? Sodra Tziyon geboortepyne gekry het, het sy geboorte gegee aan haar kinders.

9Sal Ek tot op die punt van geboorte bring en nie tot geboorte laat kom nie?” vra יהוה. “Of miskien is dit nie Ek wat geboorte laat gee en wat die baarmoeder sluit nie?” vra jou God.

10“Wees bly saam met Yerushalayim en swaai in die rondte van vreugde oor haar, almal wat haar liefhet! Wees uitermate vrolik saam met haar, almal wat oor haar treur

11sodat julle kan drink en versadig word aan haar vertroostende borste sodat julle kan suig en julle verlustig aan haar oorvloedige boesem,”

12want so sê יהוה: “Let op, Ek steek vrede na haar toe uit soos ’n rivier en die eer en lof van die nasies soos ’n oorlopende stroom en julle sal versorg word, julle sal op die heup gedra word en op die knieë vertroetel word.

13Soos een wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos en julle sal in Yerushalayim getroos word.”

14Dan sal julle sien en julle verstand, wil en emosie sal vrolik wees en julle gebeente sal floreer soos jong gras en die hand van יהוה sal bekend gemaak word aan Sy diensknegte, maar Hy sal verontwaardig wees teenoor Sy vyande,

15want let op, יהוה sal kom in vuur en Sy strydwaens soos ’n warrelwind, om Sy woede met toorn aan te bied en Sy bestraffing met vlamme van vuur,

16want יהוה sal met vuur en met Sy swaard oor alle vlees oordeel vel en hulle wat deur יהוה verslaan is, sal baie wees.

17“Die wat hulleself afsonder en hulleself reinig vir die tuine terwyl hulle die een wat in die middel staan, wat varkvleis, verwerplike dinge en muise eet, volg, sal almal saam tot ’n einde kom,” verklaar יהוה,

18want Ek ken hulle werke en hulle gedagtes; die tyd kom om al die nasies en tale te versamel en hulle sal kom en My Gemanifesteerde Teenwoordigheid sien. 19Ek sal ’n teken tussen hulle plaas en oorlewendes vanaf hulle na die nasies uitstuur: Tarshish, Pul, Lud, Meshekh, Rosh, Tuval en Yavan, na die ver kuslande wat nie van My roem gehoor of My lof en eer gesien het nie. Hulle sal My lof, eer en aanbidding onder die nasies verkondig. 20Dan sal hulle al julle broers bring uit al die nasies as graanoffer tot יהוה, op perde, in waens, in draagstoele, op muile en op kamele na My afgesonderde berg Yerushalayim,” sê יהוה, “net soos die seuns van Yisra’el hulle graanoffer in ’n rein houer na die huis van יהוה bring. 21Ek sal ook sommige van hulle as priesters en Leviete vat,” sê יהוה,

22“want net soos die nuwe hemel en die nuwe aarde wat Ek maak, voor My sal staan,” verklaar יהוה, “so sal julle nageslag en julle naam staan.

23Dit sal wees vanaf Nuwemaan tot Nuwemaan en van Shabbat tot Shabbat dat die ganse mensdom sal kom om voor My neer te buig,” sê יהוה.

24“Dan sal hulle uitgaan en die lyke van die mense wat teen My oortree het, sien, want hulle wurm sal nie sterf en hulle vuur sal nie uitgeblus word nie en hulle sal ’n afsku wees vir die ganse mensdom.”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 65
Top of Page
Top of Page