Jesaja 29
Afrikaans PWL
1Wee Ari’el, Ari’el, (simboliese naam van Yerushalayim) die stad waar Dawid eens gekamp het! Voeg jaar by jaar, laat hulle die feeste hou.

2Tog sal Ek benoudheid oor Ari’el bring en dit sal ’n geklaag en gerou wees en dit sal vir My soos ’n Ari’el (Leeu van die Magtige God) wees.

3Ek sal kamp opslaan teen jou en jou omsingel en Ek sal beleringswerke en gevegstorings teen jou oprig.

4Dan sal jy laag gebring word; vanaf die aarde sal jy praat en vanuit die stof waar jy platlê sal jou woorde kom. Jou stem sal wees soos die van ’n gees vanuit die grond en jou stem sal fluister vanuit die stof,

5maar die menigte van jou vyande sal word soos fyn stof en die menigte van die gewetenloses soos die kaf wat wegwaai; dit sal gou, onverwags gebeur.

6Vanaf יהוה-Tzva’ot sal jy gestraf word met donder en aardbewing en groot geraas, warrelwind en storm en die vlam van ’n verterende vuur.

7Die menigte van al die nasies wat oorlog maak teen Ari’el, almal wat teen hom en sy vesting oorlog maak en hom benoud maak, sal soos ’n droom wees, ’n visioen van die nag.

8Dit sal wees soos wanneer ’n honger man droom dat hy eet, maar wanneer hy wakker word is sy honger nie versadig nie, of soos wanneer ’n dors man droom dat hy drink, maar wanneer hy wakker word, let op, hy is moeg en sy dors is nie geles nie. Só sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog maak teen die berg Tziyon.

9Hulle is stomgeslaan en verblind, hulle word gepla en steier; hulle word dronk, maar nie van wyn nie; hulle steier, maar nie van sterk drank nie,

10want יהוה het ’n gees van diepe slaap oor hulle uitgegooi en dit het hulle oë, asook die oë van die profete en heersers, die sieners, wat die geheime sien, toegemaak.

11Die hele visioen sal vir julle wees soos die woorde van ’n geseëlde boek wat, wanneer hulle dit vir iemand gee wat kan lees en sê: “Lees hierdie asseblief,” sal hy sê: “Ek kan nie, want dit is geseël.” 12Dan sal die boek vir iemand gegee word wat nie kan lees nie, met die woorde: “Lees hierdie asseblief,” en hy sal sê: “Ek kan nie lees nie.”

13Toe het יהוה gesê: “Omdat hierdie volk naderkom met hulle woorde en My eer met hulle lippediens, maar hulle hul verstand, wil en emosie ver van My verwyder is en hulle respekvolle vrees vir My uit ’n aangeleerde tradisie bestaan;

14let op, sal Ek weereens wonderlik handel met hierdie volk, wonderbaarlik wonderlik en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan en die onderskeiding van hul onderskeidende manne sal weggesteek word.”

15Wee hulle wat hul planne diep wegsteek vir יהוה, wie se werk in duisternis plaasvind en sê: “Wie sien ons” en “wie ken ons?”

16Julle draai dinge om! Moet die pottebakker as gelyk met die klei beskou word sodat wat gemaak is vir sy maker kan sê: “Hy het my nie gemaak nie,” of wat gevorm is vir hom wat hom gevorm het kan sê: “Hy het geen begrip nie?”

17Is dit nie net nog ’n baie kort rukkie voordat die L’vanon in ’n vrugbare land verander word en die vrugbare land as ’n woud beskou word nie?

18In dié dag sal die dowes woorde uit ’n boek hoor en uit hulle donkerheid en duisternis sal die oë van die blindes sien.

19Die geteisterdes sal ook hulle vreugde in יהוה vergroot en die behoeftiges onder die mense sal in die rondte swaai van vreugde in die Afgesonderde van Yisra’el,

20want die gewetenlose sal tot ’n einde kom en die spotter sal ophou. Inderdaad sal almal wat ingestel is om wetteloos te wees afgesny word;

21hulle wat ’n mens laat aankla deur ’n woord en strikke span vir hom wat vir die reg oordeel in die poort en die regverdige met betekenislose argumente bedrieg;

22daarom, so sê יהוה, wat Avraham vrygekoop het, aangaande die huis van Ya’akov: “Ya’akov sal nie nou beskaamd staan nie en sy gesig sal ook nie nou bleek word nie,

23maar wanneer hy sy seuns, die werk van My hande, in sy midde sien, sal hulle die Afgesonderde Een van Ya’akov afsonder en in respekvolle vrees wees tot die God van Yisra’el.

24Hulle wat afdwaal in hulle gees sal die waarheid ken en hulle wat kritiseer sal instruksies aanvaar.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 28
Top of Page
Top of Page