Jesaja 19
Afrikaans PWL
1Die profesie aangaande die val van Mitzrayim: let op, יהוה ry op ’n vinnige wolk en is op die punt om na Mitzrayim te kom; die afgode van Mitzrayim sal bewe voor Sy Teenwoordigheid en die verstand, wil en emosie van die Mitzrayiete sal in hulle binneste wegsmelt.

2“Ek sal Mitzrayiet teen Mitzrayiet ophits en elkeen sal teen sy broer baklei en elkeen teen sy naaste, stad teen stad, koninkryk teen koninkryk.

3Dan sal die gees van Mitzrayim gedemoraliseer wees in hulle en Ek sal sy strategie deurmekaar maak sodat hulle na afgode en geeste van die dooies en na mediums en spiritiste sal draai.

4Meer nog, Ek sal Mitzrayim oorgee in die hand van ’n wrede meester en ’n magtige koning sal oor hulle heers,” verklaar die Meester, יהוה-Tzva’ot.

5Die waters sal vanuit die see opdroog en die rivier sal verskroei en droog lê.

6Die kanale sal ’n stank afgee; die strome van Mitzrayim sal uitdun en opdroog; die riete en biesies sal wegvrot.

7Die weivelde langs die Nyl, by die mond van die Nyl en al die saailande langs die Nyl sal droog word, weggedryf en nie meer wees nie.

8Die vissermanne sal kla en almal wat lyne in die Nyl uitgooi, sal rou en dié wat visnette uitsprei oor die waters, sal wegkwyn.

9Meer nog, die vervaardigers van linne, gemaak van geborselde vlas en die wewers van wit stowwe, sal totaal mismoedig wees.

10Die pilare sal vergruis word; al die loonarbeiders sal sielsbedroef wees.

11Die prinse van Tzo’an is maar net dwase, die raad van Farao se slimste raadgewers het onnosel geword. Hoe kan julle vir Farao sê: ‘Ek is ’n seun van die wyse, ’n seun van antieke konings?’

12Wel, waar is jou wyse manne? Laat hulle jou asseblief vertel en laat hulle verstaan wat יהוה-Tzva’ot se doel teen Mitzrayim is.

13Die prinse van Tzo’an het dwaas opgetree, die prinse van Nof is mislei; Mitzrayim is op ’n dwaalweg gebring deur die hoeksteen van sy stamme.

14יהוה het binne haar ’n gees van verdraaiing gemeng en die Mitzrayiet op ’n dwaalweg gebring in alles wat hy doen, soos ’n dronkaard steier in sy uitbraaksel.

15Daar sal ook geen leier in Mitzrayim wees wat kop of stert, palmtak of biesie daarvan kan verstaan nie.

16In dié dag sal die Mitzrayiet word soos vroue en hulle sal bewe en in angs wees vir die waai van die hand van יהוה-Tzva’ot wat Hy oor hulle gaan waai. 17Die land van Y’hudah sal vir die Mitzrayiete ’n verskrikking wees; elkeen aan wie dit genoem word sal in angs daaroor wees, vanweë die doel van יהוה-Tzva’ot wat Hy teen hulle beplan het.

18In dié dag sal daar vyf stede in die land van Mitzrayim wees wat die taal van Kena’an praat en by יהוה-Tzva’ot sweer; een sal ‘die Stad van vernietiging’ genoem word.

19In dié dag sal daar ’n altaar tot יהוה in die middel van die land van Mitzrayim wees en ’n pilaar vir יהוה naby sy grens. 20Dit sal ’n teken en ’n getuie word vir יהוה-Tzva’ot in die land van Mitzrayim, want hulle sal uitroep na יהוה as gevolg van onderdrukkers en Hy sal vir hulle ’n Redder en ’n Kampioen stuur en Hy sal hulle bevry. 21So sal יהוה Homself bekend maak aan Mitzrayim en die Mitzrayiete sal יהוה in dié dag ken. Hulle sal Hom selfs dien met slagoffers en offers en ’n gelofte doen aan יהוה en dit uitvoer. 22יהוה sal Mitzrayim slaan, slaan, maar genees; so sal hulle terugdraai na יהוה en Hy sal hulle antwoord en hulle genees.

23In dié dag sal daar ’n grootpad wees van Mitzrayim na Ashur en die Ashuriërs sal in Mitzrayim kom en die Mitzrayiete in Ashur en die Mitzrayiete sal saam met die Ashuriërs aanbid.

24In dié dag sal Yisra’el die derde wees naas Mitzrayim en Ashur, ’n seën in die middel van die aarde, 25wat deur יהוה-Tzva’ot geseën is, met die woorde: “Geseënd is Mitzrayim, My volk, Ashur, die werk van My hande en Yisra’el, My erfenis!”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 18
Top of Page
Top of Page