Jesaja 10
Afrikaans PWL
1Wee hulle wat bose instellings afdwing en hulle wat aanhoudend onregverdige wette neerskryf,

2om die armes van regverdigheid te ontneem en om die armes onder My volk van die reg te beroof sodat die weduwees hulle buit kan word en hulle die weeskinders kan plunder.

3Nou wat sal julle doen op die dag van straf en by die verwoesting wat van ver af sal kom? Na wie toe sal julle vlug vir hulp en waar sal julle jul rykdom los?

4Daar is niks oor as om te buig tussen die gevangenes of te val tussen die wat doodgeslaan is nie. Ondanks dit alles draai Sy woede nie weg nie en Sy hand is steeds uitgestrek.

5Wee Ashur: die lat van My woede en die staf in wie se hande My verontwaardiging is!

6Ek stuur hom teen ’n wettelose nasie en gee hom bevel teen die volk van My woede, om buit te vang en plunder te gryp en om hulle te vertrap soos modder in die strate.

7Tog is dit nie so bedoel nie, of so in sy verstand, wil en emosie beplan nie, maar is dit eerder om te vernietig en baie nasies af te sny,

8want hy sê: “Is my prinse nie almal konings nie?

9Is Kalno nie soos Kark’mish, of Hamat soos Arpad, of Shomron soos Dammesek nie?

10Soos my hand die koninkryke van die afgode bereik het, wie se gesnede beelde groter as dié van Yerushalayim en Shomron was,

11sal ek nie aan Yerushalayim en sy afgode doen soos wat ek aan Shomron en sy afgode gedoen het nie?”

12So sal dit wees, wanneer יהוה al Sy werk op die berg Tziyon en in Yerushalayim voltooi het: “Ek sal die vrug van die arrogante verstand, wil en emosie van Ashur se koning straf en die prag en praal van sy hoogmoedigheid,

13want hy het gesê: ‘Deur die krag van my hand en deur my wysheid het ek dit gedoen, want ek het begrip en ek het die grense van die volke verwyder en hulle skatte geplunder en soos ’n magtige man het ek hulle inwoners neergegooi

14en my hand het na die rykdom van die volke uitgereik soos na ’n nes en ék het die hele aarde bymekaargemaak soos ’n mens verlate eiers bymekaarmaak en daar was niemand wat sy vlerk geklap of sy bek oopgemaak of getjirp het nie.’”

15Kan die byl hom beroem bo die een wat daarmee kap, of die saag homself verhef bo die een wat dit trek? Asof ’n knuppel húlle swaai wat hom oplig, asof ’n lat hóm oplig wat nie hout is nie!

16Die Meester, יהוה-Tzva’ot, sal daarom ’n wegvretende siekte stuur onder sy dapper soldate en onder sy lof en eer sal Hy ’n brand aansteek soos ’n brandende vlam.

17Die Lig van Yisra’el sal ’n vuur word en Sy Afgesonderde Een ’n vlam; dit sal brand en sy distels en sy dorings in ’n enkele dag verteer.

18Hy sal ook die lof en eer van sy woud en van sy vrugbare velde vernietig, beide lewe en liggaam en dit sal wees soos wanneer ’n siek man wegkwyn.

19Die res van die bome van sy woud sal so min in getal wees dat ’n kind dit kan opskryf.

20In dié dag sal die wat oorgebly het van Yisra’el en die wat ontvlug het van die huis van Ya’akov, nooit weer steun op die een wat hulle geslaan het nie, maar hulle sal in waarheid steun op יהוה, die Afgesonderde Een van Yisra’el.

21Die wat oorbly, die wat oorbly van Ya’akov, sal terugkom na die Magtige God,

22want al mag jou mense, o Yisra’el, wees soos die sand van die see, sal net ’n deeltjie van hulle, wat oorbly, terugkom; hulle getalle verminder, afgesny, maar wat oorloop van onpartydige opregtheid,

23want ’n volkome verwoesting, een wat beveel is, sal die Meester, יהוה-Tzva’ot, uitvoer reg deur die hele aarde;

24daarom, so sê die Meester, יהוה-Tzva’ot: “O, My volk wat in Tziyon bly, moenie vir Ashur vrees wat jou met die lat slaan en sy staf teen jou oplig op die manier wat Mitzrayim gedoen het nie, 25want in ’n baie kort rukkie sal My verontwaardiging verby wees en My woede as gevolg van hulle vernietiging.” 26יהוה-Tzva’ot sal ’n gésel teen hom oplig soos met die slagting van Midyan by die rots van `Orev en Sy staf sal oor die see wees en Hy sal dit oplig op die manier wat Hy in Mitzrayim gedoen het. 27So sal dit wees in dié dag dat sy las verwyder sal word van jou skouer af en sy juk van jou nek en die juk sal vernietig word as gevolg van jou salwing.

28Hy het teen `Ayat gekom; hy het deur Migron getrek; by Mikhmas het hy sy bagasie neergesit.

29Hulle het deur die pas gegaan en gesê: “Geva sal ons blyplek wees!” Ramah is vreesbevange en Giv’at van Sha’ul het weggevlug.

30Skreeu dit hard uit met jou stem, o Bat-Gallim! Gee aandag, Layish en arme `Anatot!

31Madmenah het gevlug, die inwoners van Gevim het skuiling gesoek!

32Vandag nog sal hy stop in Nov; hy swaai sy vuis teen die berg van die dogter van Tziyon, teen die heuwel van Yerushalayim!

33Let op, die Meester, יהוה-Tzva’ot, slaan met ’n verskriklike slag die takke af, ook dié wat hoog van postuur is, sal afgekap word en die wat hoogmoedig is, sal verneder word.

34Hy sal die digtheid van die woud met ’n yster afkap en die L’vanon sal val deur die Magtige Een.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Isaiah 9
Top of Page
Top of Page