Hosea 9
Afrikaans PWL
1Moet jou nie verheug en spring van vreugde soos die nasies nie, o Yisra’el, want jy het gehoereer en jou God verlaat! Jy het op elke dorsvloer hoereloon liefgehad.

2Dorsvloer en parskuip sal hulle nie bevredig nie en die nuwe wyn sal hulle in die steek laat.

3Hulle sal nie in יהוה se land bly nie, maar Efrayim sal na Mitzrayim terugkeer en in Ashur sal hulle onrein kos eet.

4Hulle sal nie drankoffers of wyn uitgiet vir יהוה nie, hulle offers sal Hom ook nie tevrede stel nie; hulle kos sal wees soos die brood van hulle wat treur; almal wat daarvan eet sal onrein wees, want die brood sal net vir hulself wees, dit sal nie in die huis van יהוה ingaan nie.

5Wat sal julle dan doen op die aangestelde fees en op die dag van die fees van יהוה?

6Want let op, hulle sal gaan weens verwoesting; Mitzrayim sal hulle bymekaarmaak, Memphis sal hulle begrawe. Onkruid sal hulle skatte van silwer oorneem; dorings sal in hulle tente wees.

7Die dae van straf het gekom, die dae van vergelding het gekom; laat Yisra’el dit weet! Die profeet is ’n dwaas, die geïnspireerde man is kranksinnig, as gevolg van die grootheid van jou onregverdigheid en omdat jou vyandskap groot is.

8Die wagter van Efrayim was by my God, maar die profeet is ’n valstrik en ’n struikelblok in al sy optredes; daar is roekeloosheid in die huis van God.

9Hulle het diep in boosheid afgegaan soos in die dae van Giv’ah; Hy sal hulle onregverdigheid onthou, Hy sal hulle sondes straf.

10Ek het Yisra’el gevind soos druiwe in die wildernis; Ek het julle voorvaders gesien soos die vroegste vrugte aan die vyeboom in sy eerste seisoen, maar hulle het na Ba’al-P’or gekom en hulle toegewy aan skande en hulle het so verwerplik geword soos dit wat hulle liefhet.

11Wat Efrayim betref, hulle lof en eer sal wegvlieg soos ’n voël: geen bevrugting, geen verwagting en geen geboorte nie!

12Alhoewel hulle hul kinders grootmaak, nogtans sal Ek hulle beroof totdat daar nie ’n mens oor is nie. Ja, wee hulle inderdaad wanneer Ek van hulle af weggaan.

13Efrayim, soos Ek gesien het, is geplant in ’n aangename grasland soos Tzor, maar Efrayim sal sy seuns uitbring na die slagting.

14Gee hulle, o יהוה; wat sal U gee? Gee hulle ’n miskramende moederskoot en droë borste.

15Al hulle boosheid is by Gilgal; inderdaad het Ek hulle daar begin haat; weens die boosheid van hulle dade sal Ek hulle uit My huis uitdryf. Ek sal hulle nie meer liefhê nie. Al hulle prinse is rebelle.

16Efrayim is getref, hulle wortel is opgedroog, hulle sal geen vrugte dra nie. Selfs al het hulle kinders, sal Ek die kosbares van hulle skoot neerslaan.

17My God sal hulle weggooi omdat hulle nie na Hom geluister en gedoen het nie en hulle sal swerwers onder die nasies wees.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Hosea 8
Top of Page
Top of Page