Hosea 2
Afrikaans PWL
1(2:3) Sê vir julle broers: “Ammi (My volk),” en vir julle susters: “Rugamah (Jammer gekry).”

2(2:4) Twis met julle moeder, twis, want sy is nie my vrou nie en Ek is nie haar Man nie en laat sy haar hoerery van haar gesig verwyder en haar owerspel van tussen haar borste af,

3(2:5) anders sal Ek haar kaal afstroop en haar blootstel soos op die dag van haar geboorte. Ek sal haar ook maak soos ’n wildernis, soos ’n woestyn en haar van dors laat sterf.

4(2:6) Ek sal ook geen liefdevolle omgee vir haar kinders hê nie, want hulle is kinders van hoerery,

5(2:7) want hulle moeder het die hoer gespeel; sy wat met hulle bevrug was, het skandelik opgetree, want sy het gesê: ‘Ek sal agter my minnaars aangaan, wat vir my brood en my water gee; my wol en my vlas, my olie en my drank;’

6(2:8) daarom, let op, Ek sal haar pad met dorings toemaak en ’n muur teen haar bou sodat sy nie haar pad kan vind nie.

7(2:9) Sy sal agter haar minnaars aanloop, maar hulle nie inhaal nie en sy sal hulle soek, maar hulle nie vind nie, dan sal sy sê: ‘Ek sal na my eerste man toe teruggaan, want dit was toe vir my beter as nou,’

8(2:10) want sy weet nie dat dit Ek is wat aan haar die koring, die mos en die olie gegee het en haar oorlaai het met silwer en goud, wat hulle vir Ba’al gebruik het, nie;

9(2:11) daarom sal Ek My koring terugvat met oestyd en My nuwe wyn in sy seisoen. Ek sal ook My wol en My vlas wegvat wat haar naaktheid bedek,

10(2:12) dan sal Ek haar onsedelikheid ontbloot voor die oë van haar minnaars en niemand sal haar uit My hand red nie.

11(2:13) Ek sal ook ’n einde maak aan al haar vrolikheid, haar feeste, haar Nuwemane, haar Shabbatte en al haar feestelike byeenkomste.

12(2:14) Ek sal haar wingerde en haar vyebome vernietig, waarvan sy gesê het: ‘Hierdie is my loon wat my minnaars my gegee het’ en Ek sal dit tot ’n woud maak en die wilde diere van die veld sal dit opeet.

13(2:15) Ek sal haar straf vir die dae van die Ba’als, toe sy offers aan hulle geoffer het en haar met haar oorringe en juweliersware versier en agter haar minnaars aangeloop het sodat sy My vergeet het,” verklaar יהוה.

14(2:16) “Let daarom op, Ek sal haar lok, haar in die woestyn inbring en sagkens met haar praat,

15(2:17) dan sal Ek haar wingerde daarvandaan gee en die vallei van Akhor as ’n deur van versekerde verwagting en sy sal daar sing soos in die dae van haar jeug, soos op die dag toe sy uit die land van Mitzrayim opgekom het.

16(2:18) In daardie dag sal dit wees,” verklaar יהוה, “dat jy My, Ishi (my Man), sal noem, en My nie langer Ba’ali, (my Meester), noem nie,

17(2:19) want Ek sal die name van die Ba’als uit haar mond verwyder sodat hulle nie meer by hul naam genoem sal word nie.

18(2:20) Op daardie dag sal Ek ook vir hulle ’n verbond met die wilde diere van die veld, met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde maak en Ek sal die boog, swaard en oorlog ophef uit die land en hulle in veiligheid laat neerlê.

19(2:21) Ek sal jou vir ewig aan My verloof; ja, Ek sal jou aan My verloof in onpartydige opregtheid en in regverdige oordeel, in liefdevolle goedheid en in omgee

20(2:22) en Ek sal jou aan My verloof in vertrouenswaardigheid; dan sal jy יהוה ken.

21(2:23) Dit sal wees in daardie dag dat Ek sal antwoord,” verklaar יהוה. “Ek sal die hemele antwoord en hulle sal die aarde antwoord.

22(2:24) Die aarde sal antwoord op die koring, die nuwe wyn en die olie en hulle sal Yizre’el antwoord.

23(2:25) Ek sal haar vir Myself in die land saai. Ek sal ook liefdevolle omgee gee aan haar wat nie liefdevolle omgee ontvang het nie en aan die wat nie My volk is nie, sê: ‘Jy is My volk’ en hulle sal sê: ‘My God!’”

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Hosea 1
Top of Page
Top of Page