Hebreërs 12
Afrikaans PWL
1As gevolg hiervan, laat ook ons, wat so ’n groot wolk van getuies rondom ons het, elke las en die sonde wat altyd gereed is vir ons, afgooi en met aanhoudende geduld die resies hardloop wat voor ons lê 2en laat ons die oë hou op Yeshua, die Ontwerper en Voltooier van ons vertroue, wat ter wille van die vreugde, die kruis verdra het, die skande ignoreer het en sit op die regterkant van die troon van God.

3Let op, daarom, hoeveel Hy van sondaars, hulle wat teëstaanders van hulle eie lewe is, deurstaan het sodat julle nie in julself onverskillig word en julle lewe verswak nie.

4Julle het tot nou toe nog nie met bloed weerstand gebied in julle stryd teen die sonde nie

5en julle het weggedwaal van die lering wat tot julle as seuns praat: “My seun, moenie wegdraai van die vasgestelde pad van יהוה of verslap in jou lewe as jy deur Hom gedissiplineer word nie,

6want יהוה dissiplineer hom wat Hy liefhet en Hy ontvang hulle met wie Hy tevrede is.”

7Verduur daarom die dissipline, want God behandel julle as kinders. Watter seun word nie deur sy vader gedissiplineer nie? 8As julle nie gedissiplineer word, soos elke persoon gedissiplineer word nie, dan is julle vreemdelinge en nie kinders nie. 9As ons ons vleeslike vaders, wat ons na die menslike liggaam dissiplineer, respekteer; hoeveel te meer is ons nie verskuldig om ons aan ons geestelike Vader te onderwerp nie en ons sal lewe? 10Want húlle het ons wel ’n kort tydjie, soos hulle wil, gedissiplineer, maar God tot ons voordeel sodat ons kan deel in Sy Afgesonderdheid. 11Elke dissiplinering, die oomblik wat dit gedoen word, lyk egter nie na ’n saak van blydskap nie, maar van treurigheid, maar later lewer dit vrugte van vrede en van onpartydige opregtheid op, deur dié wat deur Hom afgerig is.

12Versterk daarom jou hande en versterk die lam knieë 13en maak reguit paaie vir julle voete sodat die lede wat kreupel is, nie wegval nie, maar gesond gemaak word.

14Jaag vrede na met elke mens en jaag afsondering na, waarsonder niemand ons Meester sal sien nie. 15Wees waaksaam dat niemand onder julle, sonder die onverdiende guns van God gevind word nie of dat ’n wortel van bitterheid ranke voortbring en jou skade aandoen en baie hierdeur besoedel word nie, 16of dat iemand onder julle as seksuele oortreder en losbandig gevind word, soos `Esav, wat vir een maaltyd sy eersgeboortereg verkoop het, nie, 17want julle weet dat hy, toe hy daarna die seën wou erf, verwerp is omdat hy geen herstel gevind het nie, al het hy dit met trane gesoek.

18Hulle het nie nader gekom na die vuur wat brand en wat aangeraak kan word nie en ook nie na die duisternis, die donker mis, of die storm, 19die klank van die ramshoring en die geluid van stemme, wat die hoorders verwerp het, dat dit nie bygevoeg sou word om met hulle te praat nie, 20want hulle kon niks van die opdrag verdra nie: “selfs as ’n dier die berg aanraak, moes dit gestenig word.” 21So vreeslik was die gesig dat Moshe gesê het: “Ek is bang en wankelend.” 22Julle het egter gekom by die berg Tziyon en die stad van die lewende God, die hemelse Yerushalayim en vergadering van tien duisende engele, 23by die gemeente van eersgeborenes wat in die hemel opgeskrywe is en by God, die Regter van almal en by die geeste van die onskuldiges wat volmaak gemaak is 24en by Yeshua, die Tussenganger van die nuwe verbond en die sprinkeling van bloed wat duideliker praat as dié van Hevel.

25Pas op, daarom, dat julle Hom wat met julle praat, nie verwerp nie, want as húlle wat Hom verwerp, nie ontvlug het toe Hy op aarde met hulle gepraat het nie, hoeveel te meer óns wat Hom verwerp, nou dat Hy vanuit die hemel praat; 26Wie se stem die aarde geskud het, maar nou het Hy belowe en gesê: “Nog een maal sal Ek nie alleen die aarde skud nie, maar ook die hemel.” 27Hierdie woord: ‘nog een maal,’ wys duidelik op die verandering van die dinge wat geskud word sodat die wat nie geskud kan word nie, kan oorbly. 28Omdat ons daarom die Koninkryk ontvang het wat onskudbaar is, sal ons onverdiende guns ontvang, waardeur ons God sal dien en tevrede stel in respekvolle vrees en in aanbidding, 29want ons God is ’n verterende vuur.

Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaanse (Die Pad van Waarheid tot die Lewe Afrikaans Translation of the Bible). Courtesy of www.padwlewe.ch. Used by Permission.

Bible Hub
Hebrews 11
Top of Page
Top of Page